Die Wes-Kaapse vervaardiger Infanta 4x4 het 20 jaar gelede tot die mark toegetree met ’n boswa, maar fokus vandag hoofsaaklik op sy twee groot boswoonwaens.

Met die koms van die Covid-19-inperkings verlede jaar het die eienaar, Jurie Swart, besluit om weer nuwe lewe in daardie oorspronklike boswa te blaas.

Een van die groot probleme met boswaens is dat daar soms nie genoeg oop ruimte is waar jy jou goed kan pak nie. Daar is dalk oral laaie en kaste, maar dit is gewoonlik ten koste van oop pakplek vir groter items.

Maar met die Ingane kan ’n mens nie hieroor kla nie.

Kry jou staan

Wanneer jy haak, kan jy die swaardiens- neuswiel afhaal en bo-op die A-raam vasmaak. Dit sorg vir beter grondvryhoogte by die koppelstuk as jy oor ’n knik of hoë spoedwal moet sleep.

Die Ingane het agter ’n hoekstut aan elke kant, en dit is die afswaaisoort wat algemeen is op boswaens. Dit werk vinnig en maklik en verg net ’n paar draaie met die slinger voordat die wa stewig en gelyk staan.

Op die toetsmodel slaan die tent na regs oop en vorm ’n groot vertrek langs die Ingane. Jy rits die tentsak oop, kry jou staan by die regterwiel en trek dan aan die grondseildeel van die tent. Nou slaan die tent moeiteloos oop, amper soos ’n konsertina wat uitgetrek word.

Nou is daar net twee los paaltjies wat jy moet inryg. Die vloer span jy met tentpenne en die paaltjies word deur ankertoue regop gehou.

Die twee kasdeure in die sykant maak in die tentvertrek oop. Die deur links slaan plat met ses ewe groot rakkies vir al jou klere. Die kas regs is ruim genoeg vir ’n opgevoude duvet en kussings, maar jy kan ook klere hierin hang.

Die matras is 1,53 m bo die grond en jy klim met ’n leertjie op na die bed toe.

Pakplek vir Afrika

Die pakplek in die Ingane is ruim. Jy kry aan die agterkant van die wa toegang tot die kas van 130 cm diep, 73 cm breed en 84 cm hoog.

Hier is plek vir bonkige regisseurkampstoele – selfs ons wasgoedlyn, wat net platvou, het gepas. Gewoonlik word watertenks plat en by die onderstel geïnstalleer – van hulle pas selfs weerskante van die as – maar die Ingane s’n pas ook in die agterste kas.

Die Ingane se 100 l-tenk staan en het ’n deursigtige pyp by die deur waar jy kan sien wat die watervlak is.

Buite en regs van die deur pas ’n jerrykan, en links van die deur ’n 5 kg-gassilinder.Kosmaak op die stoep Die Ingane se 270°-afdak vou oop oor die kombuis en strek tot bo-oor die neus.

Toegeslaan lê die afdak op die rand van die romp. Daar’s ’n arm op elke punt wat die hele ding 40 cm lig wanneer jy dit wil oopvou.

Die seildak het vyf aluminiumbalke: Die eerste een swaai om tot bo, haaks met die A-raam. Hier word dit gestut met ’n arm wat van die romp af opslaan. Trek nou die laaste balk oop na agter, parallel met die romp, tot waar dit met ’n ankertou in plek gehou word.

Elkeen van die balke het ’n opgevoude stutpaal wat verstel kan word. Jy kan hulle ook met ankertoue stewiger trek as jy op ’n winderige plek kamp.

In die linkerkant van die romp is ook twee deure. Die ys-vrieskas trek agter die linkerdeur uit, en die regterdeur slaan plat om ’n werkblad (122 x 53 cm) te vorm.

Die blad het ’n laag melamien, met die rand wat 45º opstaan – ’n slim plan, want dit keer dat iets afrol as dit omval én jy kan steeds die blad afvee sonder dat kosstukkies in die hoeke saampak.

Die eenplaatgasstoof staan regs op die blad, digby die gassilinder waar jy die klep oop- en toedraai. In die romp agter die blad is ses kassies van verskillende groottes waarin jy kombuisgoed kan pak.

Die lig is in die regterkantse boonste kassie, die 220 V-dubbelprop in die kas links onder, en in die middel is ’n volt- meter, twee USB-sokke en ’n Hella- en Brad Harrison-prop.

Die glyraam waarop die ys-vrieskas uittrek, is groot genoeg vir ’n 90 l-ys-vrieskas, en langs dit is ’n rakkie met sponshouers waarin speserybotteltjies pas.

’n Plat laai vir jou potte en panne trek bo die ys-vrieskas uit en dis net so welkom as die ruim pakplek in die agterkant. Die laai is 90 cm lank, 56,5 cm breed en 15 cm diep – en baie waardevolle pakplek in die kombuis.

Wat is standaard?

Standaarditems sluit in die 100 l-watertenk, ’n 5 kg-gassilinder, enkelplaatgasstoof, ingeboude kombuis, 74 Ah-battery met 10 A-Victron-laaier, skottelgoedraam met wasbakke, en herlaastelsel met Brad Harrison-proppe.

Items soos ’n Howling Moon-daktent (R34 500), 270°-afdak (R20 700), glyraam vir ys-vrieskas (R2 300, sonder die ys-vrieskas), 12 V-waterpomp met loodgieterswerk (R6 325), 220 V-gasgeiser met koue en warm water tot by die wasbakke (R5 175) en aluminiumtafel (R2 875) is opsioneel.

SPESIFIKASIES

Vervaardiger Infanta 4x4 Model Ingane

Slaapplek Daktent van koper se keuse

Grootte 4,6 x 1,83 x 2,04 m

Wiele 16”

As 2,5 t

Tarragewig 600 kg

Dravermoë 1 000 kg

BVM 1 600 kg

Onderstel Gegalvaniseer

Romp Aluminium

Prys Vanaf R212 750

Handelaarsnetwerk Fabriek en kantoor in Buffeljagsrivier 028 512 3663; infanta4x4.co.zainfo@infanta4X4.co.za

Takke – Tuinroete Camping and Caravans 044 695 2602 East Rand Caravan World 011 025 7639 Carnival Camping and Caravans 010 005 0499

Infanta Ingane (R212 750) BVM 1 600 kg 

VAN DIE MEDEDINGERS

Boswaens in ’n soortgelyke prysklas met ’n 2,5 t-as (standaardpryse).

Bush Nest Witkruisarend (R195 500) BVM 2 000 kg. Bedoel vir swaarder sleepvoertuie vanweë sy BVM, maar jy kan meer as 1,5 t in hom laai.

Conqueror Compact Platinum (R190 457) BVM 1 500 kg. Conqueror se goedkoopste opsie. Sy BVM is 100 kg laer en die wa is 9 cm smaller.

Summit Everest (R229 000) BVM 1 800 kg. Die onderstel word van vlekvrye staal gemaak en ’n ys-vrieskas is ingesluit.