Hier tussen Mei en Augustus raak Suid-Afrikaanse kampeerders maar stil, en met goeie rede ook, want in dié maande is die weer in groot dele van die land werklik goor en niemand is regtig lus om in sulke omstandighede te kamp nie. (Daar is wel uitsonderings – dink maar aan die KwaZulu Natalse kus . – Red.)

Selfs al kry jy vir jou ’n kampkol waar jy beskut is teen die wind – en in sommige gevalle reën – is die ysige temperatuur nie iets waarvoor ’n mens kans sien nie. Met hierdie produkte kan jy met meer gemoedrus ’n winterkamp aandurf.

HIGHLANDER-1 liter-FLUITKETEL VAN ALUMINIUM

Fluit-fluit Ons almal het elektriese ketels by die huis wat selfs vanself afskakel wanneer die water kook, maar wanneer het jy een van dié gehoor wat met daai skril fluit aankondig die water is reg vir die koffie?

Hy word gemaak van liggewig aluminium, wat beteken hy dra nie werklik by tot jou vrag nie, en dan het hy daardie emalje-afwerking wat ons Suid- Afrikaners so goed ken.

Die handvatsel is van plastiek om te keer dat jou hand brand.

Prys R195 by Camp & Climb

Ry & Sleep sê Die fluitketel is ook in ander groottes beskikbaar en jy kan die een kies wat die beste by jou behoeftes pas.

FIRST ASCENT-WOLDONSBAADJIE VIR VROUE

Trek iets warms aan! Van al die soorte voering wat jy kry, word dons deurgaans as van die beste geag om jou natuurlike liggaamshitte te behou. Dié baadjie heet die Transit en het ook ’n voering agter die ritssluiter om die koue uit te hou.

Was hom egter met die hand wanneer jy by die huis kom, want hy gaan beskadig word in die wasmasjien.

Hy is in vlootblou en pienk beskikbaar.

Prys R2 000 by Outdoor Warehouse

Ry & Sleep sê Die Transit-donsbaadjie vou lekker klein op en jy kan die hele baadjie by sy eie sysak inprop.

HIGHLANDER SERENITY 250-SLAAPSAK

Warm en knus Hierdie is die voorste slaapsak in Camp & Climb se eie reeks. Hy het 250 GSM-veselmateriaal tussen ’n voering van 210 T-poliëster en die buitekant van skeurvrye materiaal.

Jy kan heel gemaklik en warm slaap, selfs al daal die kwik tot -4 ºC.

Prys R880 by Camp & Climb

Ry & Sleep sê Die Serenity rol maklik op en pas moeiteloos in sy sak. Dit is iets wat nie alle slaapsakke kan sê nie.

FIRESIDE-VUUREMMER

Draagbare hitte Wat is ’n staanplek sonder jou kampvuur, veral in die winter wanneer die vuur se doel verder strek as die uiteindelike kole om te braai.

Maar as daar nie plek op jou staanplek is om vuur te maak nie, kom hierdie outjie heel handig te pas.

Prys R1 200 by Outdoor Warehouse

Ry & Sleep sê Die koleplaat is 600 x 600 mm en jy gaan regtig hard moet probeer om die gras op jou staanplek te brand.

LK’S- INFRAROOI GASVERWARMER

’n Bottel vol hitte Dit is maar in die mens se aard om versigtig te wees wanneer jy ’n gasverwarmer gebruik, maar met dié een van LK’s kan jy meer gerus wees.

Hy gebruik nie ’n reëlaar nie en jy skroef hom direk by jou 3 kg- of 6 kg-gassilinder in.

Draai die gas oop en hou jou aansteker teen die staalrooster en kyk hoe die keramiekpaneel begin gloei en warm word.

Prys R500 by Camp & Climb

Ry & Sleep sê LK’s beweer die verwarmer gebruik net 125 g gas binne ’n uur.

KARU-SKAAPWOLPANTOFFELS

Snoesig en warm Dis een ding om jou warm te hou as jy buite is, maar gestel die son is al onder en jy wil in die tent of wa gaan lê met daai hygroman wat Pappa vir jou verjaardag gegee het?

Kry vir jou van dié pantoffels wat Karu maak. Die buitekant is van egte leer, en binnelangs is hy met wol uitgevoer.

Prys R700 by Outdoor Warehouse

Ry & Sleep sê Die EVA-sool behoort jou ’n leeftyd te hou.

COGHLANS- VEELDOELIGE TERMIESE KOMBERS

In geval van nood Hierdie een is nie ’n kombers waarmee jy kooi toe gaan nie – hom gebruik jy as iemand te lank in die koue swembad was of verdwaal het terwyl hulle in die berg gaan stap het en terugkom met tande wat teen mekaar klap.

Die aluminiumpoliëtileen- oppervlak weerkaats liggaamshitte terug om die liggaamstemperatuur die vinnigste te laat styg. Die kombers is ook waterdig en windbestand.

Prys R300 by Camp & Climb

Ry & Sleep sê Selfs in temperature onder die vriespunt behou die kombers sy buigsaamheid.

CADAC SAFIRE-VERWARMER

Bring die son saam Cadac het geen bekendstelling nodig onder Suid-Afrikaners nie. Dié gewilde handelsnaam vervaardig ook ’n gasverwarmer wat volgens hom veilig is om binnenshuis te gebruik – solank daar genoegsame lugvloei is.

As jou tent groot genoeg is en jy is baie versigtig, is dit dalk die manier om dit warmer te maak voor julle inkruip.

Prys R800 by Outdoor Warehouse

Ry & Sleep sê Hy steek met die druk van ’n knoppie aan en jy het nie vuurhoutjies of ’n aansteker nodig nie.

COGHLANS- LIGGEWIG PONCHO

Reg soos reën Die weervoorspeller het gesweer dit gaan nie gebeur nie, maar hier sak ’n bui uit en jy het nie jou waterdigte baadjie ingepak nie.

Dit is glad nie ’n probleem as jy een of twee van dié outjies in jou kar se paneelkissie het nie. Hulle is waterbestand en lank genoeg om selfs jou bobene droog te hou.

Prys R95 by Camp & Climb

Ry & Sleep sê Onthou, hy hou jou nie warm nie – trek dus maar ’n trui onder aan.

FIRESIDE-3-IN-1-JAFFELPAN

Sielskos Daar is geen rede om gisteraand se oorskiet vandag koud te eet nie. En min dinge maak jou van binne warm soos daardie ordentlike jaffel. Die voordeel van dié een is natuurlik dat jy drie op een slag kan maak.

En omdat hy van gietyster gemaak is, kan jy hom op enige hittebron gebruik sonder om bekommerd te wees hy gaan kraak of skeeftrek. Moet net nie die jaffels verbrand nie, hoor!

Prys R400 by Outdoor Warehouse

Ry & Sleep sê Die handvatsel is van hout en word nie warm nie.

HIGHLANDER HPX200-STAPSTOFIE

Warm in ’n japtrap As jy met ’n tent kamp en nie ’n kampstoof het nie, is die HPX 200-stapstofie van Highlander heel geskik om gou iets in ’n blikkie warm te maak as bykos vir jou braaivleis. Jy het nie ’n aansteker nodig om hom aan te steek nie en jy beheer die hitte met ’n stelknop.

Prys R495 by Camp & Climb

Ry & Sleep sê Hy gebruik ’n Eiger-gasbotteltjie wat jy ook by Camp & Climb kan aanskaf. Hierdie 230 g-weergawe kos R75.

STANLEY-REISBEKER

Koffiekapitaal Die Stanley-handelsnaam is al dekades lank met ons – en met goeie rede: Hy stel selde teleur.

Hierdie beker hou danksy sy dubbelwand-ontwerp 350 ml vloeistof vir tot vyf uur warm. Die plastiek bevat nie BPA nie en wanneer jy by die huis kom, kan jy hom in die skottelgoedwasser pak.

Prys R550 by Outdoor Warehouse

Ry & Sleep sê Hy hou ook jou koeldrank vir tot agt uur koud; dus is hy ewe geskik vir somer.

COGHLANS-WEGGOOI-WARMSKOENSAKKIES

Geen koue voete nie! As jou sokkies nie die mas opkom in temperature onder die vriespunt nie, moet jy vir jou van hierdie “voetverwarmers” aanskaf.

Jy skud hulle ’n bietjie tot hulle warm word en sit hulle dan in jou skoene, onder jou sokkies. Dit sorg vir ’n temperatuur van tussen 58 ºC en 65 ºC in jou skoene.

Prys R120 by Camp & Climb

Ry & Sleep sê Jy moet sokkies dra. Die vervaardiger waarsku daarteen om die sakkies teen jou vel te sit. Gebruik dit ook versigtig as jou vel sensitief is.

FIRST ASCENT-WARMSLAAPSAKVOERING

’n Silwer randjie As jou slaapsak nie opgewasse is teen erge wintertoestande nie, kan jy hierdie liggewig voering van First Ascent aanskaf om sake binne-in jou slaapsak met tot 5 ºC warmer te maak.

Dit word gemaak van ’n liggewig saamgestelde materiaal en is veronderstel om soos katoen te voel.

Prys R450 by Outdoor Warehouse

Ry & Sleep sê Jy kan hom in die wasmasjien gooi – dit is dus ’n maklike manier om jou slaapsak skoon te hou.

Kry die produkte hier

Camp & Climb campandclimb.co.za

Outdoor Warehouse outdoorwarehouse.co.za