Maak jou gordyne mooi

akkreditasie
Charles Viljoen van Kempton Park het ’n paar jaar gelede vir ons vertel hoe hulle plan gemaak het met hulle woonwa se gordyne wat soos 'n sak gehang het.

"Die Jurgens-woonwaens wat ná 2002 gemaak is, het baie mooi grys-en-room gordyne gehad wat met vier horisontale tappenne (dowels) opgerol het soos Romeinse blindings. Die vervaardiger het dit later vervang, en die gordyne in modelle ná 2005 het vir my soos ’n goiingsak gelyk.

Dit was dalk vir die binnehuisversierder mooi, maar dit het nie vir ons gewerk nie.

"Nadat ek my 2002-model Fleetline vir ’n 2009-model Palma verruil het, moes ek ’n plan maak om my wa se gordyne minder soos ’n hangende sak te laat lyk.

"Ons het vier voue ingewerk waar die vervaardiger reeds die gordyne op die kante gestik het, en in die boonste drie voue 12,5 mm-houttappenne ingesit.

"In die onderste vou het ons 12,7 mm-aluminiumpyp gesit om die gordyn mooi af te trek en plat te laat vertoon. Dit lyk sommer baie netjies.

"Ons moet nog die kantvensters se gordyne doen, en daavoor gaan ek 8 mm-tappenne gebruik met die aluminiumpyp in die onderste vou om meer gewig te gee. Indien die aluminiumpyp nie swaar genoeg is nie, kan jy ’n 8 mm-tappen in die 12,7 mm-pyp sit om hom nog ’n bietjie swaarder te maak."