As jou pa weer sê alle koelbokse is eintlik maar almal dieselfde, moet jy onthou hy glo ook al die Bulls se probleme gaan verdwyn “as hulle net weer wil leer laagvat”. Koelbokse het ’n wetenskap geword, en dis goeie nuus vir jou.
Iewers tussen jou toebroodjie-papsakkie en die wit boksies waarin ’n lewende hart halfpad om die wêreld gevlieg word vir ’n oorplanting, is die koelboks wat net reg gaan wees vir jóú kampbehoeftes.
En selfs al het jy ’n kampyskassie met al die bedrading en batterye, bly ’n koelboks ’n nuttige ding. Trouens, as jy nié daai yskassie het nie, behoort jy ’n koelboks te kan kry wat jou en jou pêlle deur die Oppikoppi-langnaweek kan sleep sonder dat jy een keer die vernederig van ’n warm bier of ’n oorryp tjop hoef te ervaar. Dis nou as jy bereid is om ’n paar rand uit te haal.