Die mens kamp al duisende jare in tente. Die Bybel noem byvoorbeeld in Genesis dat Jabal die stamvader is van veewagters wat in tente woon. Ons weet ook dat die Romeinse leër in leertente gekamp het, én dat die eerste ekspedisie wat die Suidpool bereik het – onder leiding van die Noorwiër Roald Amundsen – henneptente saamgeneem het.
Maar watter soort tent is die beste vir jou? ’n Daktent of ’n grondtent? Nylon of doekmateriaal? Hier is jou keuses...
Nylontente kan in twee kategorieë verdeel word: leefstyl en ekspedisie. Leefstyltente kan jou warm en droog hou in matige natweerstoestande, maar ekspedisietente hou jou aan die lewe in uiterste omstandighede. Nylontente se paaltjies word gewoonlik van veselglas gemaak. Dit weeg min en kan heelwat buig voordat dit breek. Maar as die wind kliphard waai, móét jy ankertoue gebruik, want anders gaan daai paaltjies soos vuurhoutjies knak.