
Buiten ons Oryx-sleepwa wat ’n as verloor het, het een van die Oryx se wieldoppe ook afgekom. Gelukkig is my man, Anthony, nie skaam vir handewerk nie, en hy het soos ’n wafferse MacGyver aan die werk gespring.
’n Verlore wieldop klink dalk nie ernstig nie, maar as jy dit net los, kan jy groot skade kry – veral as die ghries begin lek. Ek het gesoek vir iets wat amper soos ’n wieldop lyk en uit dieselfde materiaal gemaak is, en op die ou einde die onderkant van my asbakkie afgestaan. Anthony het die asbak met ’n skuinsbektang bygekom en elke 5 cm ’n gleufie in die asbak gesny en omgebuig sodat dit die rand van die as op die wiel bedek.
Ons het Vaseline gebruik om die ghries te vervang wat uitgelek het, en meer as 4 000 km – sonder enige probleme – met die asbakkie gery.