
Ek het in Junie 2005 my Sprite Splash nuut gekoop en ons is baie gelukkig met dié wa. Ons gaan kamp gemiddeld twee keer per jaar met hom.
Ek het die Sprite ’n paar jaar gelede by Comet Caravans in Boksburg laat diens en gevra hulle moet een van die wa se bande omruil met die ongebruikte noodwiel wat nog altyd in die neuskas staan.
Toe ek die woonwa gaan haal, wys die personeel vir my die ou band lyk nie meer gesond nie: Daar’s ’n borrel op die sywand. Ek was geskok en is baie dankbaar dit het nie gebars terwyl ek gesleep het nie.
Ek sleep nie vinniger as 100 km/h nie, maar selfs teen daardie spoed kan ’n band wat bars, rampspoed beteken.
Die borrel was aan die binnekant van die band waar jy dit nie sien as jy langs die wa staan nie. ’n Mens moet dus nie net aan die een kant kyk en aanvaar die bande is nog goed nie. Die loopvlak was nog mooi, maar ’n mens móét seker maak en self onder die wa inklim om die toestand van die bande noukeurig na te gaan.
’n Verteenwoordiger van die spesifieke bandvervaardiger sê die borrel kon moontlik ontstaan het omdat die wa lank stilgestaan het, maar ’n mens moet ook onthou bande se waarborg verstryk ná omtrent vyf jaar.
Ek wonder met hoeveel ander slepers het dieselfde al gebeur.
Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep #95 (Desember 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.