
Of hy nou drie bene het of ’n plat boom, die swartpot is meer as net ’n stuk kookgerei van gegote yster. Dis deel van Afrikaanse kultuur soos koeksisters en melktert, en ook ’n onmisbare deel van ’n lekker kamp.
Jy kan deesdae ’n steak op ’n gietysterplaat oor die kole kleur gee, of eiers in ’n eierpannetjie gaarmaak, of heerlik vars brood bak. Gietyster neem lank om warm te raak, maar wanneer hy warm raak, kook hy. En jy koop nie net ’n pot of pan nie, jy belê in ’n erfstuk, mits jy mooi na hom kyk.
Hier is ’n paar wenke:
1. Weet wat jy het
Moenie gietysterpotte en -panne met daai swart swaarboompanne wat jy op TV sien verwar nie. Daai panne is nie vir die vuur bedoel nie, maar hulle roes ook nie. Gietyster roes egter gou as jy dit nie reg behandel nie.
2. Lyf jou pot in
Was die binnekant van die pot uit met kookwater en maak dit droog met kladpapier. Moet dit nie met seep was of skrop met ’n skuurborsel nie.
Smeer die binnekant van die pot met ’n olielaag.
Verhit die pot oor stadige kole tot die olie begin rook maak en vee die binnekant weer met kladpapier skoon wanneer dit afgekoel het.
3. Wanneer jy klaar is met hom
Was die pot met warm seepwater, hou aan om die pot uit te spoel tot die water wat jy uitgooi silwerskoon is, en droog die pot daarna af.
Bedek weer die binnekant met kookolie en stop die potjie vol opgefrommelde koerantpapier.
Stoor die pot met die deksel af op ’n droë plek.
Hierdie artikel het oorspronklik in Mei 2016 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.