Nou onlangs is daar ’n klant in ons werkswinkel wat ’n nuwe bosbreker wil laat aanbring. Hy was in ’n botsing met ’n dier betrokke wat sy vorige bosbreker só erg beskadig het dat hy dit moes vervang.

Die donkie het ongelukkig sleg tweede gekom…

Daardie bosbreker het twee belangrike en potensieel lewensgevaarlike situasies voorkom.

Eerstens het die voertuig geen meganiese skade opgedoen nie. Dink net, die insittendes kon in die middel van die nag gestrand gewees het, iewers in ’n afgeleë plek.

In baie lande is dit nie ’n probleem nie, maar Suid-Afrika se misdaadstatistiek sê duidelik dit is vir niemand ’n goeie situasie nie.

Gelukkig kon die mense tot by die naaste dorp ry en om hulp aanklop. Tweedens het die bosbreker gekeer dat die dier in die motor se kajuit beland – as so iets gebeur, kan dit rampspoedige gevolge hê vir die insittendes.

Ons het dit al dikwels gesien. Dit is juis voorvalle soos dié wat gelei het tot die oorspronklike ontwikkeling van bosbrekers op voertuie en langafstandvragmotors.

Die enigste doel was om voertuigskade te beperk en te keer dat diere noodlottige ongelukke veroorsaak. Dis so eenvoudig soos dit.

Die muntstuk het wel ’n keersy. Die teenbosbrekerbrigade is lief om twee probleme op te haal: Die eerste is die uitwerking wat ’n bosbreker op ’n voertuig se ingeboude veiligheidstelsel het, en dan natuurlik voetgangerveiligheid.

Op die eerste punt is die antwoord maklik. Goeie bosbrekervervaardigers ontwerp hulle produkte sodat dit voldoen aan wetgewing oor voertuigveiligheid en die korrekte werking van die voertuig se ingeboude veiligheidstelsel – soos frommelsones en lugsakke.

In Australië vereis die wet byvoorbeeld dat hierdie produkte gesertifiseer word om te wys dat hulle aan wetgewing en regulasies voldoen.

Die tweede probleem is effens meer van ’n turksvy. Ek sal die eerste een wees wat erken ek sal eerder kies dat ’n voertuig sonder ’n bosbreker op my afpyl as een daarmee.

En ek gee toe dat voetgangers wat raakgery word, waarskynlik slegter daarvan af gaan kom as die voertuig wel ’n bosbreker het. Maar hou ook in gedagte teen ’n sekere snelheid is die voetganger se kanse op oorlewing so te sê nul, of die motor ’n bosbreker het of nie.

Voetgangerongelukke is altyd ’n vreeslike gebeurtenis – nie net vir die voetganger nie, maar ook die bestuurder van die voertuig én die families wat geraak word.

Dit is een van die redes hoekom bosbrekers in Europa verbied word.

Dit is interessant dat daar in Skandinawiese lande tekens van misnoeë is oor hierdie regulasies. Die rede? Botsings met diere.

Anders as in die res van Europa is daar in Skandinawië aansienlik minder mense as diere, veral takbokke.

Ek het al bespiegelinge gehoor dat Europese regulasies oor bosbrekers na Suid-Afrika gaan oorwaai, maar ek meen dit is fundamenteel verkeerd.

Ons land is meer soos Australië, Amerika en Skandinawië, met groot oop ruimtes wat ’n mens verken. Hier in Suid-Afrika het ons nie net ’n enorme wildbevolking wat snags op landelike paaie gevaar inhou nie, maar ook groot getalle vee wat op enige oomblik voor jou in die pad kan verskyn.

En anders as in Australië, Amerika en Skandinawië is hier ’n landelike bevolking waarvan ’n groot deel moet stap na waar hulle wil wees, ook ná sononder.

En dan praat ek nie eens van die gevolge van drank nie – vir voetgangers én motoriste.

Wie se lewe is dus die belangrikste? Ek het nie die antwoord nie, maar ek glo nie ’n verbod op bosbrekers is ’n oplossing vir ongelukke waarby voetgangers betrokke is nie.

Wie wel in groot gevaar verkeer, is die ou wat ’n koedoe of donkie tref iewers in die grammadoelas.

Daar moet ’n ander oplossing wees