
Ben de Klerk van Pretoria het in 2015 sy idee met ons lesers gedeel. Hy het begin sukkel om ’n swaar jerrykan op en van die dak van sy voertuig af te kry en besef die sleepstang is die ideale plek vir sy twee 20 liter-kanne.
Hy het ’n raamwerk ontwerp waarin die kanne pas en die houer vasgebout in die plek van die bal waar jy gewoonlik jou waentjie sou haak. Jy kan dus die houer na willekeur opsit of afhaal.
Hy het die houer ook só ontwerp dat dit na agter kan kantel. As die houer platgeslaan word om die bakkie se klap agter oop te maak, is die houer onder die klap en uit jou pad uit.
Ben het gaan aanklop by ’n vriend vir hulp met die sweiswerk. Om die houer regop te hou en te keer dat dit rondval, het Ben twee boute op die houer se skarnier laat vassweis. Dit hou die skarnier stewig vas op een plek. Dié houer beïnvloed nie die bakkie se vertrekhoek nie.
Maak só
- Ben het eers die skarnier vir die houer gemaak. Boor ’n gat deur elke blokkie sodat die staalstaaf daarin pas, en een bo-op elk waar die boute sal inpas.
- Boor gate in die platyster wat ooreenstem met die gate van die sleepstang.
- Met die staalstaaf in plek deur die twee blokkies, sweis die blokkies aan die platyster vas en maak seker die staaf kan draai.
- Sweis twee stukkies platyster aan die staalstaaf vas om ’n skarnier te vorm.
- Meet jou jerrykanne en sny die hoekyster daarvolgens. Ben se kanne is 345 mm x 165 mm x 470 mm, maar omdat hy twee langs mekaar sit, is die lengte van die houer 690 mm.
- Gebruik hoekyster vir die raam en platyster vir die versterkings tussenin.
- Sweis die houer aan die skarnier vas.
- Ben het ook twee voetjies aan die skarnier se staalstaaf gesny sodat die houer nie te ver kantel nie.
- Boor twee gate op die bokant van die raam waarop ’n staaf kan pas om die kanne in plek te hou. Ben het die staaf aan die een kant met ’n bout en moer vasgemaak (maak seker die staaf kan steeds draai) en die moer vasgesweis sodat die bout nie verwyder kan word nie. Aan die ander kant het hy ’n slot gesit.
- Verf die hele houer met roeswerende verf.
- Sit jou nommerplaat met klinknaels op die raam vas.
Watter raad het jy vir ander ouens wat só iets wil bou?
Maak seker jou staal is so dik as moontlik en van goeie gehalte sodat dit nie buig nie en daar geen speling is nie. Myne is solied. Jy wil nie jou jerrykanne langs die pad verloor nie.
STAP VIR STAP
1. Gebruik die 8 mm dikte platyster, staalblokkies en die staalstaaf om die skarnier te bou.
2. Boute aan weerskante van die staalstaaf draai die skarnier vas sodat die houer in plek bly.
3. Neem die afmetings van jou jerrykanne, sweis ’n raam daarvolgens en sweis die skarnier aan die onderkant vas.
4. Die staaf bo-op die houer kan na buite draai wanneer die kanne in- of uitgehaal word.
5. Boor gate in die raam en staaf sodat ’n slot daarin kan pas en die raam kan sluit.
6. Die houer bout aan die bakkie se sleepstang vas.
7. Voetstukkies op die staalstaaf verhoed dat die skarnier te ver kantel. 8. Jy kan die jerrykanne uit die pad uit vou al is die bakkie se flap oop.
- Staalstaaf: 20 mm dik, ongeveer 500 mm lank
- Hoekyster: 6 m x 30 mm x 5 mm
- Platyster: 3 m x 30 mm x 5 mm
- Platyster: 100 mm x 8 mm platyster, ongeveer 500 mm lank
- Staalblokkies: 15 mm dik (waardeur die staalstaaf pas om die skarnier te vorm). Die staal moet so sterk as moontlik wees om die gewig te kan dra.
- Twee boute: 8 mm
- Klinknaels vir die nommerplaat
- Roeswerende verf
Gereedskap:• ’n Sweismasjien.• ’n Hoekslyper vir die sny van die staal.• ’n Boor om die gate te boor waar die houer op die sleepstang vasbout.
Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #74 (Augustus 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.