Deel

Skuif jou wa

akkreditasie
Illustrasie: Dominic Wienand
Illustrasie: Dominic Wienand
Met ’n woonwaskuiwer om jou te help sal daar nie meer drama wees wanneer jy jou wa by die huis of die staanplek op sy plek moet kry nie.

Gesels met ’n sleeper wat ’n skuiwer in sy wa het en hy sal jou vinnig vertel hoeveel makliker die lewe daarmee is.

Jy kan kies uit verskeie soorte woonwaskuiwers, soos  dié wat aan jou wa se as gekoppel word. Dit bestaan uit ’n raam wat aan die onderstel geheg word met ’n 12 V- elektriese motor en ’n roller by elke wiel. Die krag word deur die wa se battery verskaf (jy moet gewoonlik een installeer as jou wa nie reeds een het nie) en die rollers druk teen die wiele en beweeg die wa. Jy beheer die hele spul met ’n afstandbeheer.

Die ander gewilde soort is die “stootkarretjie”-tipe waar jy jou wa op die skuiwer haak. Jy staan voor die wa en jou skuiwer het genoeg skop om hom vorentoe, agtertoe en heen-en-weer te skuif.

As jy dit oorweeg om ’n woonwaskuiwer aan te skaf, is daar ’n klomp goed wat jy in gedagte moet hou.

Dit sluit natuurlik die prys, waarborg, naverkopediens en die beskikbaarheid van onderdele in.

Maar jy moet ook vasstel hoeveel die eenheid weeg (want jy gaan die tarragewig moet aanpas), hoe gebruikersvriendelik hy is en hoeveel laer hy jou wa gaan maak as die motor op die onderstel aangebring word.

Verder moet jy ook in ag neem of jou wa se battery (indien hy een het) genoeg woema vir die skuiwer gaan hê en, natuurlik, of die skuiwer ’n rat- of kettingstelsel gebruik en sterk genoeg is.

Doen jou huiswerk en maak seker jy kry die een wat die beste by jou behoeftes pas.