Deel

Slyp self jou mes

akkreditasie
Dis mos ’n sonde om ’n stuk geelvetbiltong met ’n stomp mes te probeer sny! Kies vir jou ’n behoorlike slyper.

Vroeër jare het ’n mens nie veel keuses gehad as dit kom by messlypers nie. Jy het ’n slypsteen of skuurband gebruik óf ’n messlyper betaal om jou messe vir jou skerp te maak.

Deesdae kan jy egter self jou snygoed slyp – in kettingwinkels kan jy goedkoop toestelle koop wat enigiets van ’n knipmes tot ’n vishoek kan skerpmaak.

Kampwinkels het goeie skerpmakers wat meer kos, maar waarop jy jou duur Kershaw ordentlik kan slyp. 

As jy in die mark is vir ’n nuwe slypsteen, is die belangrikste om te kyk na iets waarmee jy gemaklik is en wat jou sak pas.

Gawie Herbst en sy seun, Thinus, is bekroonde mesmakers en besit die Herbst-mesmaakakademie in Pretoria. As jy jou eie messe slyp, het Thinus vir jou raad.

Doen dit só:

Dis verkeerd

Die grootste fout wat mense maak wanneer hulle messe op ’n steen slyp, is om nie die hoek presies reg te hou nie. Mense verander die slyphoek.

Hulle ry die lem vorentoe en agtertoe. Jy sal in jou lewe nooit ’n mes skerp kry as jy dit doen nie.

Oefening en nog oefening is die enigste antwoord.

Hoeveel grade?

Ons gebruik ’n bandslyper en slyp teen ’n hoek van 20°. Dis ’n goeie hoek, maar dit hang ook af waarvoor jy jou mes wil gebruik.

As jy jou kampmes wil gebruik om tou te sny of ’n tak skerp te maak, is ’n hoek van 22-25° goed.

As jy hom só skerp wil hê dat hy deur biltong kan gly en jou armhare skeer, kyk jy na ’n hoek van 18-20°.

Hoe grof?

Jy kry fyn en growwe stene en bande. ’n Grein van 36 is baie grof en een van 2 000 baie fyn.

As jy ’n 400-band gebruik, kry jy ’n kerfsny-effek (slice cut), en dan is die lem só skerp dat jy jou armhare kan skeer. Met ’n grein van 180 kry jy ’n treksny-effek (pull cut).

Die lem lyk nie baie skerp nie, maar as jy hom onder ’n mikroskoop bekyk, sal jy sien hy is behoorlik geslyp. Só ’n lem sny maklik deur tou, en vleis sny hy baie lekker.