Deel

Stel dié kampplanne op die proef

akkreditasie
Kampeerders skram nie weg van ’n probleem nie – hulle maak ’n plan.

Selfs tente dra Crocs

Moenie jou Crocs weggooi as jy hulle deurgeloop het nie, sê Christo Geldenhuys van Mosselbaai. Jy kan die rekbare hakskeenbandjie aan jou tenttou vasmaak om direkte spanning tussen die tou en pen te verlig. Vou die bandjie in die helfte sodat dit ’n lussie maak en die twee punte met die gaatjies bymekaar is.

Ryg die tenttou deur albei gaatjies van die bandjie en haak die koepel aan die ander kant om die tentpen, dit maak dit ook sommer makliker om die tentpenne raak te sien. 

’n Dak oor jou prop

Christo sê jy kan ook jou kragprop droog en duidelik sigbaar hou met ’n 2 liter-plastiekkoeldrankbottel. Só maak jy:

1. Sny die bottel in die helfte en spuitverf die boonste deel (met die doppie vasgeskroef) met ’n helder kleur.

2. Boor ’n gat deur die doppie, groot genoeg vir die koord om deur te pas.

3. Ryg die koord deur die doppie en heg die koord aan die kragprop wat dan binne-in die plastiekkoepel beskerm word. 

Skoon seil

Johan Cloete van Kempton Park sê hy gaan só te werk om sy tentseil skoon te kry: 

  • Sit die opgevoude seil in ’n groot swart vullisblik (soos wat agter in jou tuin staan; die vullisdrom moet natuurlik skoon en leeg wees), en strooi ’n paar koppies waspoeier oor die seil.
  • Tap die vullisdrom vol water en los die seil vir drie tot vier dae daarin.
  • Haal dan die seil uit en gooi die water uit.
  • Gooi die seil terug in die drom, maar dié keer moet die deel wat onder gelê het, bo wees. Maak die drom weer vol water, gooi waspoeier by en los dit vir drie dae. Die seil is silwerskoon wanneer jy dit hierna uithaal.