Deel

Van Caravette tot Camp-Innator

akkreditasie
Uit die argief: Hulle wou gaan kamp en vir hulle kinders die land se mooi plekke wys. Toe koop Louis en Mari Oosthuizen ’n 30 jaar oue woonwa en verander dit in hulle droomwa. Louis vertel:

Ons het altesame R60 000 uitgegee – ’n 1986 Gypsey Caravette 6L gekoop, plus materiaal en toerusting om dié wa na ons smaak en behoeftes om te bou. Ek het self die ombouingswerk gedoen, en ná nege maande was ons woonwa, die Camp-Innator, reg vir aanhaak en sleep...

Huisparlement

Toe ek en Mari besluit ons gaan soos volbloed-Suid-Afrikaners kamp, het ek en sy verskeie besprekings rondom die braaivleisvuur gehad. Ons het talle vuurhoutjieboksies opgeknip wat ons dan weer stuk-stuk aan mekaar geplak het om ons wa te beplan.

Ons al twee het ons eie vereistes vir die wa en die slepery. Mari se lys is eerste, want sy behou haar die reg voor om soos ’n vinkwyfie die nes uitmekaar te breek as dit nie aan haar standaarde voldoen nie.

Haar lys is: ’n dubbelbed met ’n elektriese kombers; al die kinders moet in die woonwa slaap; niks moet rondstaan en in die pad wees as die wa gepak is nie; behoorlike en afsonderlike klerekaste vir elkeen se goed; al die beddens is klaar opgemaak voor ons ry, sodat daar nie by die kampplek ’n nesskroppery is nie; ’n volgrootte yskas; en genoeg buitepakplek sodat die kinders nie met vuil of nat voete in die woonwa gaan as hulle wil kos hê nie.

My vereistes is: ’n trukamera, want ek wil agter die wa sien as ek ry; ’n 12 V-televisie, DVD-speler en klankstelsel vir die kinders; pakplek buite die wa vir al die tentgoed, braaigoed, die sitgoed en tafels; ’n yskas wat deurentyd loop, want ná 8 uur se ry en die tentopslanery moet daar iets te ete wees vir die kinders en ’n koue drinkding vir die grootmense; ingeboude ligte in die tent wat onmiddelik werk as die tent eers staan; en ’n vinnige manier om die hoekstutte te sak en lig.Ons kom ooreen oor die vereistes en koop die Gypsy Caravette vir R30 000.

Winkels toe

Die woonwa kry ’n staanplek op ’n blad buite die huis en my operasie-uitrusting word uitgehaal: ’n koordlose boor (wat op die ou einde die hardste werk), figuursaag, ystersaag, hoekslyper en naelklinker.

Ons koop skeepslaaghout en dennebalkies, pasgemaakte kasdeure en ’n kombuisblad, asook skarniere en laaiglystawe.

Ons koop die volgrootte yskas, ’n radio en klanktoerusting, LED-ligte, ’n platskerm-TV, matrasse, ’n 60 l-watertenk, drie kindertafels, ’n groot opvoutafel, brandblusser en ’n trukamera en monitor.

Saag, skaaf en skuur

Die meeste van die herbouwerk doen ek self. Ek span die praktiese kennis in wat ek opgedoen het met my onderhoudstake. My skoonpa, André Uys, ’n werktuigkundige wat sy lewe lank op ’n plaas gebly het, kan alles doen en help gereeld uit, veral as dit by die 12 V-dinge kom. In die eerste 3 maande haal ons omtrent alles uit die wa om heel voor te kan begin.

Kaste en kooie eerste

Ons begin met die nuwe kaste, die raam vir die dubbelbed en die raam vir die driekwartbed vir ons twee seuntjies, Jean-Louis en André.Die kaste is ’n uitdaging: Ek het nie houtwerkkennis nie en bestee ure om die kaste eers te teken en die saagwerk fyn uit te werk.Die kaste onder die kombuisblad is só ontwerp dat jy twee melkkratte vol kos, 12 bottels wyn en twee kissies met 500 ml-waterbotteltjies kan inlaai. In die boonste kassies kom die bokse pap en lekkergoed.

Ons haal die wa se agtervenster uit en bou ’n tent wat na buite oopvou en kompleet lyk soos ’n slaapplek in een van daardie duur veldwaens wat mense in die Kgalagadi opslaan. Nou kan ons dogter langs Pa en Ma slaap en in haar bed Barbie op TV kyk. Die kamertjie is 60 cm hoog, en die bed 175 cm lank en 75 cm breed. Verstelbare binnepale skop vas om die konstruksie styf te trek. Dit is sterk genoeg om die gewig van ’n grootmens te dra, maar ek sit ook twee pote aan die buitekant vir ekstra stabiliteit.

Die pote vou teen die bedbasis op as jy die bed opslaan en toemaak – en jy rits ’n waterdigte seil aan die buitekant toe. Toegemaak staan hy skaars 10 cm uit in die plek waar die venster was.

Dié bedkamertjie is die een ding aan ons wa wat die meeste komplimente en vrae in die kampplek ontlok.In die tentgedeelte sit ons 220 V-krag in vir 6 kragsokke.

Sommer ’n huisyskas

Die 220 l-yskas is ’n huismodel, met ’n yskas onder en vrieskas bo, en ons ombou hom om met 12 V en 220 V te loop. Hy het ’n kragsok wat langs die trekstang inprop en van die kar af loop as ons ry. By die kampplek prop ek hom by die kragpunt in. Die voordeel van dié stelsel is dat ek die sleepvoertuig se battery deur die yskas kan laai as die battery begin sukkel. As jy hom by die kampplek se 220 V-kragpunt inprop, verander hy self die toevoer na 12 V én krag word na die kar toe ook gestoot.

Ek koop die wa se trukamera met ’n monitor wat oor die truspieëltjie knip. Die trukamerastel se kragkoppeling is agter by die wa se hoofligte, en as ek my hoofligte aanskakel, skakel die kamera aan. Ek het die drade deur die kar se paneelbord gevoer en toe onder die kar vasgemaak.

Laaie vol plek

Die spasie onder ’n bed is goud werd, maar dit raak ’n groot werk as jy elke keer die bed moet oplig, veral as daar ’n kind lê en slaap. Die moeilikste is die inbou van buitelaaie om dié probleem op te los – veral om die laaie waterpas en waterdig te kry. Én hulle moet gemaak word om gewig te kan dra wanneer hulle oop is.

Met ’n saag, aluminiumplate wat spesiaal gebuig is, en swaargewig-glystawe bou ons drie laaie in die wa se sye in. Aan die voorkant sit ek ’n laai aan elke kant in. Elkeen is ’n halwe wabreedte lank (1 m lank, 85 cm breed en 28 cm diep). Een maak in die tent oop en is vir die kombuisgoed en eetgerei. Langs dit pas drie eettafeltjies netjies in.

In die anderkantste laai kom die braaigereedskap, die groot opvoutafel en ’n opwaskassie met rakkies.Ek sit die derde laai aan die agterkant van die wa in en dit trek ook in die tent oop (180 cm lank onder die hoofbed en 58 cm breed). Dit hou die tent, pale en grondseil, tentpenne, hamer, visvangkassie en drie klein spinnekopstoele vir die kinders.

Agter dié laai, onder die bed, sit ek die 60 l-watertenk in, met ’n stuk tuinslang na ’n tuinslangkoppelstuk aan die agterkant van die wa. Om die tenk vol te maak koppel ek ’n stuk tuinslag aan die kraan en die wa.

Die ander laai word die wasgoedmandjie, en die tentlaai is breed genoeg vir ons plastiekwasbak. Ons het ’n kraan met ’n pompie reg bo die wasbaklaai vir skottelgoed- en koffiewater.  Die mikrogolf is aanvanklik los in die wa, maar ek bou dit ook in met plek langsaan vir die ketel.Voor, oor die A-raam teen die breedte van die wa af, sit ek plastiekdreinpyp met skroefdoppe vas vir die visstokke.

Buiteligte en ’n slim boor

Vir ligte in die tent en onder die afdak vat ek 12 V-LED-strokies en voer die drade deur die tentpale, met ’n kragpunt in die wa se symuur. As die tent staan, prop ek net in en het ons buiteligte.Vir die hoekstutte saag ek ’n ou nr. 19-stermoersleutel af en pas dit aan om op my koordlose boor te pas. Dit werk soos ’n bom en ek span die boor ook in as die grond te hard is vir die tentpenne.

Haak aan

Nege maande nadat ons die wa gekoop het, is alles finaal ingesit en vasgeskroef. Die veranderinge het ons nog R30 000 gekos. Dit was ’n wonderlike ervaring om alles uit te dink en maniere te kry om alles te laat werk.

Die wa is deur die toets toe ons dit gekoop het en ek het nie nodig om nog papierwerk te doen nie. Die veranderinge het niks aan die padwaardigheid verander nie en sy gewig is ook binne perke.

Ons maak planne en werk roetes uit, en in Julie 2014 sleep ons die Camp-Innator vir sy eerste 6 000 km: deur Beaufort-Wes, Bloemfontein, Waterval-Boven, die Krugerwildtuin, die Koninklike Natalse nasionale park en weer Beaufort-Wes.

Wanneer ek met ons wa in die kampplek stilhou, vat dit so 40 minute om alles op te slaan voordat ek kan vuur maak. Wanneer ons huiswaarts keer, duur die oppak so ’n uur, want dan wil die kinders mos nie regtig help nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in WegSleep # 90 (Julie 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.