
Doen die somme
Die belangrikste beginsel van herwinning is dat jy met goeie, betroubare toerusting werk met die regte sterkte vir die taak wat jy aanpak. Die MBS (minimum breeksterkte) van alle goeie herwinningstoerusting (herwinningspunte, stroppe) is bereken en daarop gedruk.
Jy moet ook weet wat jou voertuig weeg waar jy hom gaan herwin, met ander woorde, met jou hele vrag en mense wat daar ingelaai is – ons verwys daarna in hierdie artikel as MVM (maksimum voertuigmassa of maximum vehicle mass).
Die goue reël is dat jou toerusting se MBS tussen twee of drie keer groter moet wees as jou voertuig se massa (MVM).
Jy moet self ’n boogskakel se minimum breeksterkte (MBS) bereken. Jy sal sien daar staan iets soos 3¼ WLL of 4¾ WLL op jou skakel. Dit staan vir “working load limit”. Om die MBS uit te werk moet jy die WLL met vier keer vermenigvuldig.
Jou boogskakels se MBS mag nooit laer wees as die strop of tou waarmee dit gebruik word nie, anders kan dit heel moontlik breek tydens die herwinning en soos ’n stuk skrapnel deur die lug vlieg. Dit kan dodelik wees.
Wees berekend.
Die minimum breeksterkte (MBS) van die tou moet twee tot drie keer groter wees as die massa van jou voertuig (MVM). Die MBS moet ook nie méér as drie keer meer as die MVM wees nie, want dan vind die uitrek-aksie nie reg plaas nie, wat ook gevaarlik kan wees.
As jy boogskakels gebruik, moet hulle WLL groter wees as die gestrande voertuig se MVM, met ’n MBS net so groot soos die kinetiese strop of groter.
Meneer, die skeidsregter
Gebruik ’n derde persoon wat deur al twee bestuurders gesien kan word om die teken te gee wanneer die herwinning moet begin. Radio-kommunikasie kan ook gebruik word. Al twee voertuie moet ’n rat kies waarin jy bietjie spoed kan kry, maar wat ook wringkrag het – tweede laag is waarskynlik die beste. Die voorste voertuig moet vet gee, maar nie soos ’n drag race nie – hy behoort tussen 12 en 18 km/h te ry op die oomblik van impak.
Die agterste bestuurder moet ook vet gee om te help om die gestrande voertuig uit te kry. Ry vorentoe. Probeer om herwinningsvoertuig nie in trurat te gebruik nie. Jy kan dele van die dryflyn beskadig.
Pak die goed in jou herwinningskrat
Handskoene
Ja, jy kan daai dik en goedkoop sweishandskoene gebruik waarmee jy braai, maar met doelgemaakte varkleerhandskoene wat styf pas, kan jy veel akkurater werk en voel wat jy doen. Dit haak ook nie aan goed vas nie.
Boogskakels
As jy nie ’n haak het waaraan jy jou strop direk kan vasmaak nie, kan jy boogskakels gebruik. Onthou net, boogskakels is eintlik ontwerp as takeltoerusting en dit verhoog die risiko dat iets in ’n herwinning kan verkeerd loop. ’n Boogskakel wat aan die punt van ’n kinetiese strop breek, kan soos ’n koeël uit ’n omgekrapte Boer se Mauser vlie’ en alles in sy pad uitvat. Daarom is dit des te meer belangrik dat jy seker maak die skakel se berekening is reg vir dit waarvoor jy hom gaan gebruik.
Die WLL moet meer wees as jou voertuig se bruto gewig, en as jy dit met vier maal, moet dit ook meer wees as jou kinetiese strop se MBS. Moet ook nooit ’n D-skakel in plaas van ’n boogskakel gebruik nie, want jy kan dit net gebruik as jy presies in ’n reguit lyn herwin – boogskakels laat jou toe om teen ’n effense hoek te herwin (nie meer as 10° nie).
Onthou om die strop se lus aan die ronde kant van die boogskakel te haak en die pen wat jy vasdraai op die metaalhaak. Nadat jy die pennetjie vasgedraai het, draai dit ’n halwe draai terug, anders gaan jy jou pers sukkel om dit ná die herwinning los te kry.
Herwinningspunte
Vir kinetiese herwinnings, waar jy die voertuig basies uit die modder uitpluk, is ’n berekende haak ’n gewilde keuse (die hake onder genoem, is 10 000 pond of 4535 kg MVM). Dit moet direk op die voertuig se onderstel vasgebout word met hoëspanningsboute (high tensile steel bolts) wat ’n minimum deursnee van 10 mm het.
Jy kan die lus van jou sleep- of kinetiese strop direk haak aan dié soort haak, want dit het ’n knippie wat keer dat die strop afglip. Só ’n soort haak skakel ook die gebruik van boogskakels uit. Vir ’n kinetiese herwinning moet jy nooit ’n onberekende hegtingspunt gebruik wat sommer net aan ’n bosbreker, buffer of selfs onderstel vasgesweis is nie – al sweis jy hoe goed, verswak die metaal altyd iewers en dit kan deur roes vererger word.
Die hoeveelheid energie wat tydens ’n kinetiese herwinning deur ’n herwinningspunt kom, moet nooit onderskat word nie.
Herwinningstoom (bridal)
As jy twee herwinningspunte aan dieselfde kant van jou ryding het, maak dit groot sin om ’n herwinningstoom te gebruik om veiliger te wees. Jy voer dit deur die lus van jou sleep- of kinetiese strop en dan heg jy dit op twee herwinningspunte op jou kar.
Die doel daarvan is om die las te versprei tussen twee punte en die spanning op die twee herwinningspunte te halveer, en op die skakels, as jy dit dalk gebruik. Dit maak die herwinningsoperasie veel veiliger.
Sekerheidslus (lanyard)
Dit is eintlik net ’n tou of strop wat jy naby die hegtingspunt aan die herwinningstoom vasmaak (of direk aan die kinetiese strop as jy nie ’n herwinningstoom gebruik nie), en aan ’n ander punt op die voertuig.
As die herwinningspunt of ’n skakel breek en vlieg, breek die sekerheidslus sy momentum en pluk hom grond toe voor hy skade kan aanrig. Dit moet speling hê wanneer die herwinning besig is en dit moenie die beweging van enige toerusting belemmer nie. Dis nie noodwendig ’n berekende (rated) stuk toerusting nie – dit moet net stewig genoeg vas wees. Om die waarheid te sê, jy kan enige stuk nylontou hiervoor gebruik.
Sleeptou
Die doodgewone 5m-lange sleeptou is die stuk herwinningstoerusting in jou sak wat jy die meeste gaan gebruik. Vir meer as 90% van herwinnings het die voertuig wat vassit bloot ’n sleep nodig tot op ’n plek waar hy weer vastrap het. Voor jy dus met ’n gevaarlike kinetiese herwinning voortgaan, probeer net altyd eers die voertuig wat vassit, uitsleep. Moet nooit met hom pluk nie, maar neem geleidelik die spanning op en sleep bloot die agterste voertuig uit.
Kinetiese tou
Ons noem dit ’n kinetiese tou omdat dit bewegingsenergie gebruik om die voertuig wat vassit, los te kry. Die voorste voertuig versnel basies met redelike momentum vorentoe tot hy nie verder kan nie, waarop al die kinetiese energie deur die tou na die gestrande voertuig oorgedra word. As alles mooi werk, skiet die gestrande voertuig soos ’n krukprop uit water uit die modder of sand of klippe waarin dit vassit. Anders as ’n sleeptou, gebruik dit dus nie bloot die krag van die enjin van die herwinningsvoertuig nie.
Moet onder geen omstandighede ’n kinetiese herwinning aanpak as jy nie gevorderde 4x4-opleiding ondergaan het en verstaan wat die kragte en risiko’s betrokke is nie (sien kassie langsaan). Dit kan baie gevaarlik wees, maar dit kan ook baie effektief en netjies gedoen word deur kundige mense. Jy kry twee soorte: ’n gevlegte tou en ’n plat strop. Die tou word op dieselfde manier gevleg as die toue waarmee skepe vasgemeer word, wat dit ’n natuurlike rekbaarheid gee. Jy kan dit oor en oor op dieselfde dag gebruik en as jy dit mooi oppas, raak dit nooit sat nie.
Die plat strop is ’n geweefde band wat meer soos ’n sleepstrop lyk. Die nadeel is dat jy dit elke keer nadat jy gebruik het, moet laat rus, gewoonlik ’n dag lank. Dis sodat die vesel in die weefsel sy elastiese kwaliteit kan herwin. Dié soort stroppe het ook ’n beperkte leeftyd – jy kan dit gewoonlik net 20 keer altesaam gebruik.