Voordat jy ’n lang toer met jou eie voertuig na een van ons buurlande aanpak, berei jy waarskynlik jou ryding deeglik voor vir enige moontlike voertuigprobleme op die pad en in die veld. Maar sê nou maar ’n toerlid kry ’n skeet of ’n kwaal? En wat gaan jou siekefonds sê as ’n ambulanshelikopter of -vliegtuig jou moet kom haal? 

Die kanse dat dinge só ver gaan uitrafel, is dalk nie baie groot nie, maar voorsorg is beter as hoësorg! 

Kry jou papiere agtermekaar 

Maak eerstens seker hoe staan sake met jou siekefonds, want daar is heelwat voorwaardes en beperkinge rondom die dekking wat jy buite die landsgrense geniet. 

Die land se grootste fonds, Discovery, dek jou vir ’n bedrag van tussen R5 miljoen en R10 miljoen, afhangend van jou plan, terwyl Bonitas, die naasgrootste, tot R5 miljoen op alle planne behalwe die basiese BonCap sal betaal. Albei maatskappy dek jou ook net vir 90 dae. As jy dus beplan om vir ses maande al die pad tot in Noord-Afrika te reis, sal jy reisversekering deur ’n maatskappy soos Europ Assist of AIG moet uitneem (enige reisagent sal vinnig daarmee kan help).

Maak ook sommer van meet af aan seker jy’t jou siekefonds se internasionale noodnommers byderhand. Dit verskil waarskynlik van die nommer wat jy in Suid-Afrika gebruik.

Discovery en Bonitas sê albei hulle sal die koste van ’n gemagtigde noodbesoek aan ’n plaaslike hospitaal dek (mits dit natuurlik binne jou plan se limiet val). Indien dit nodig is en jy is in staat om te reis, sal jou siekefonds ook deur ’n nooddiens soos ER24 betaal sodat jy na Suid-Afrika gebring kan word. 

Maak egter seker van die fynskrif: Discovery dek byvoorbeeld nie soek-en-reddingsoperasies nie – indien jy dus êrens in Lesotho se berge verdwaal en ’n reddingsgeselskap jou kom haal, gaan jy dalk jou eie sak moet skud.

Wenk: Sorg dat jy genoeg kontant byderhand het vir mediese noodgevalle. Die kans is goed dat jy ’n bybetaling sal moet maak wat jy dalk eers tuis kan terugeis.


Pak jou (noodhulp)tas

Wanneer jy seker is oor die bepalings en voorwaardes van jou siekefondsdekking in die buiteland, is dit tyd om jou vir minder ernstige siektes en skete voor te berei. Moet egter nie net wegval en ’n hele apteek in ’n ou skoenboks probeer pak nie. 

Vrae die regte vrae

Waarheen gaan jy en wat gaan jy doen? As jy op pad is na ’n malariagebied soos Mosambiek, gaan jy byvoorbeeld ander medikasie pak as vir ’n yskoue Lesotho. 

Prioritiseer

Pak chroniese medisyne eerste (ook ’n ekstra stel vir noodgevalle).

Dink aan die kinders

Maak seker jy vat die regte soort medisyne vir grootmense sowel as kinders saam.

Pak genoeg

Ry genoeg medisyne vir jou hele vakansie saam plus ’n bietjie ekstra vir ’n noodgeval.

Merk alles duidelik Vra jou apteker om alle medisyne te merk, veral pille en stroop wat uit die oorspronklike verpakking verwyder is.

En onthou...

Daar’s papierwerk vir medisyne ook! Iets soos antibiotika, chroniese medisyne, sekere pynpille en antihistamien moet deur ’n dokter voorgeskryf word. As jy oor ’n landsgrens gaan, móét jy ’n brief van jou dokter saamneem om te bevestig dat jy voorskrifmedisyne drink.


Hou 'n noodplan reg

Vóór jy in die pad val, moet jy seker maak jy het ’n noodplan. In sy eenvoudigste formaat is so ’n noodplan bloot ’n stuk papier met al die noodnommers tuis en in die buiteland wat jy dink jy gaan nodig kry. Jy kan dit egter uitbrei na gelang van jou behoeftes.

Jou plan moet die volgende soort inligting bevat, sê Jacques: die nommers van private en provinsiale nooddienste, jou dokter se na-ure-kontakbesonderhede en enige ander nommer wat relevant is vir jou reis, soos die Bergklub van Suid-Afrika, Wildernis Soek-en-redding of die NSRI.

“Vergewis jou ook van die naaste hospitaal, waar dit is en watter dienste daar beskikbaar is. Jy wil nie 100 km ry en dan uitvind die ‘hospitaal’ is eintlik net ’n klein TB-kliniek nie!”sê Jacques.

Dieper in Afrika is mediese hulp nie altyd geredelik beskikbaar nie en die toestande in hospitale dikwels beroerd. Maak dus voor die tyd seker waar jy betroubare mediese hulp kan kry en sluit dié inligting by jou noodplan in.

Dan moet jy ook jou plan rondom die spesifieke mediese probleme vorm wat jy dalk op jou roete kan ondervind – dink aan ontwatering weens uiterste temperature, hoë ongeluksones en malaria.

Maak ook seker jy’t ’n vriend by die huis wat ’n afskrif van jou noodplan het.

Laastens sê Jacques dis baie belangrik om die mediese inligting van almal in jou groep te hê: Mediese toestande en hoe om dit te hanteer, siekefondsnommers, bloedgroepe en persoonlike inligting, en naasbestaandes se kontaknommers.

Wees gereed vir die ergste

Bertus Prinsloo, ’n konsulterende operasionele offisier van die mediese ontruimingsdiens Aerocare, sê wanpersepsies rondom siekefondsdekking in die buiteland en hoe vinnig hulle kan optree, is van die grootste probleme wat hy onder reisigers sien.

Bertus het ook sy eie mediese nooddiensmaatskappy, Outdoor Medical, en bied gereeld paramediese dekking vir Land Rover en Ford se buitelugaktiwiteite. Én hy het al saam met Kingsley Holgate in Afrika gereis.

“Moenie dink jy swaai net jou kaart terwyl jy êrens in die veld lê en dan verskyn daar ’n chopper op die horison nie,” sê dié Gautenger. “Dit vat ure om al die administrasie rondom vliegtuie of helikopters uit te sorteer. Jy moet ’n vlugplan hê, magtiging om oor die grens te vlieg én daar’s doeane.”

Hy sê dis ’n probleem met die fondse as jy buite kantoorure of ver van ’n hospitaal af ernstig siek of beseer word. “Op ’n onlangse toer het ’n Britse vrou haar enkel in Mosambiek gebreek. Haar mediese versekering tuis het eenvoudig geweier om haar dekking te aktiveer voor hulle met plaaslike mediese personeel kon praat. Toe ons haar uiteindelik na ’n plaaslike kliniek kon sleep, het die mense daar boonop slegs Portugees gepraat.”

Bertus sê dis belangrik om altyd jou siekefonds skriftelik te laat weet voor jy die landsgrense verlaat. “As jy in Namibië gaan 4x4 ry en jy rol jou kar êrens in Etosha, wil jy nie dán verduidelik waarom jy uit die buiteland bel nie.”

Hy meen dis altyd ’n goeie plan om addisionele dekking uit te neem, maar waarsku dat siekefondse en reisversekering eintlik die beste werk vir “ideale gevalle” – dis nou waar jou toestand nie té ernstig is nie en daar tyd is om die nodige magtiging te kry wanneer jy iewers in ’n hospitaal opgeneem moet word.

“Op een van ons toere het ’n lid van die groep dodelik siek geword met malaria. Ons was egter nie in ’n malariagebied nie en niemand het dit verwag nie. Dit kom toe uit hy het ’n week tevore in ’n malariagebied gereis. In normale omstandighede sou hy by ’n plaaslike hospitaal behandeling kon ontvang, maar omdat ons nie in ’n malariagebied was nie, was geen van die mediese sentrums daarvoor toegerus nie. Ons moes hom uiteindelik landuit vlieg vir behandeling.”

Geld in die noodbank

Bertus se raad aan reisigers is om ’n “noodfonds” te hê vir ’n lugambulansdiens en só die rompslomp van mediese evakuasies te vermy.

“Ons behartig dikwels die nooddiensdekking vir motorfietstoere ook. Ek stel dan altyd voor dat die lede van die groep elkeen vir ons ’n bedrag geld gee.

“As jy ’n konvooi van 10 of 15 mense is en elkeen gee R10 000, het ons ’n stewige bedrag geld om ’n vliegtuig in die lug te kry indien nodig. Dan hoef ons nie vir die mense se mediese versekeraars te wag om toestemming te gee nie – ons kan amper dadelik in die lug wees en later, wanneer die noodsituasie verby is, die res van die finansies uitsorteer.”

  • Kontak Bertus Prinsloo en Aerocare by 082 555 8222 of 082 880 8539
HOE MOET JY OPTREE VOOR ’N ONTRUIMING?

Bertus sê tyd is van kardinale belang met ’n ontruiming in die buiteland.

“Die beste ding wat jy dus kan doen terwyl jy vir die helikopter wag, is om ons so min as moontlik te bel om te hoor waar hulle trek. Onthou, ons is dan bitterlik besig om dinge vir jou te reël. Hoe meer jy bel, hoe meer tyd steel jy eintlik vir die voorbereiding.”

WENK “Wanneer ons jou vra vir jou ligging, stuur ’n foto van jou koördinate. Moenie dit probeer WhatsApp of verduidelik nie. As jy ’n foto stuur, kan ons dadelik die formaat sien waarin jou GPS die ligging gee, asook die presiese tyd waarop jy dit gestuur het,” sê Bertus.