Wanneer jy aan kokosneutbome, spierwit strande en koraalriwwe dink, verwag jy dit op ’n eksotiese eiland. Maar Evan Naudé het dit alles in een van ons buurlande gevind.


Ek land op OR Tambo-lughawe nog half deur die slaap nadat ek vieruur in die oggend moes opstaan vir my sesuurvlug uit Kaapstad. Maar die vlug móés vroeg wees, want ek het nog ’n lang pad wat voorlê na my bestemming vir vanaand. Soos die kraai vlieg is dit seker een van die verste afstande tussen twee punte in die hele land – Kaapstad tot by die Punda Maria-kampeerterrein in die Krugerwildtuin. Hierdie keer is ek egter nie rêrig in die park geïnteresseerd nie, maar eerder in dit wat net anderkant die grens lê.



Deur die grens


Paul Wigley van Bhejane 4x4 Adventures tel my by die lughawe op en ons val in die pad. In Polokwane ontmoet ons die ander twee lede van die span, Sanana Seforo en Gilbert Modise, en doen ’n paar laaste inkopies voordat ons verder ry na die Kruger. Teen die tyd dat ek sit en kyk hoe die son sak, is ek sowat 1750km weg van waar ek dit vanoggend sien opkom het.


Die res van ons toergroep (22 mense in totaal), kom stuk-stuk die volgende middag by die kampterrein aan. Die kamp is die amptelike beginpunt van ons toer, maar daar is ook ’n ander rede om hier te vergader – ons wil die Pafuri-grenspos gebruik om in Mosambiek te kom. En om dit te doen, moet jy ten minste een aand in die Kruger of die Limpopo Nasionale Park deurbring. Voor aandete gee Paul die groep ’n oorsig van wat om te verwag op die toer en vroeg die volgende oggend skiet ons reguit vir die grens.  

Ondanks al die waarskuwings wat ek gekry het oor probleme by die Mosambiekse grensposte, ondervind ons geen kopsere nie. Die amptenare is vriendelik en bekwaam, al is dit die eerste keer dat ek ’n platskerm-TV op die toonbank van ’n grenspos sien. Terwyl ek die vorms invul, is Robert Duval en Kevin Costner, onderstreep deur Portugese onderskrifte, met cowboy-goeters in die fliek Open Range langs my doenig.


Net in Afrika


Sodra ons die nodige stempels in ons paspoorte het, ry ons met ’n suidoostelike draai op ’n tweespoor in die Limpopo-vallei af. Die pad neem ons deur ruie koorsboomwoude. Vir sowat 80km is die rivier voortdurend iewers aan ons linkerkant en al kan ons nie die water sien nie, verklap ’n digte groen strook bome sy teenwoordigheid.

Teen middagete bereik ons ’n plek waar ons die rivier kan oorsteek en hier ontmoet ons ’n man wat ’n valhek oor die pad bestuur. Elke voertuig moet R100 betaal, sê hy. Ek verstaan nie heeltemal waarvoor nie, maar ons maak soos hy sê en vorder verder af rivier toe.

Ons kom egter nie ver nie voordat ’n tipiese Afrika-probleem die hele konvooi tot stilstand bring. ’n Vragmotor, gelaai met sand, het ’n pap wiel en staan in die middel van die pad. Dit versper die enigste pad vorentoe, want aan elke kant is daar diep slote. Gelukkig vir die bestuurder is daar nou ’n stuk of twintig nuwe raadgewers, elkeen met sy eie plan van aksie. Sommige is meer prakties as ander, maar op die ou end kan geen hoeveelheid stoot of trek of grawe die vragmotor weer aan die beweeg kry nie. Gelukkig vir óns het dit wel veroorsaak dat die vragmotor effe na een kant van die pad verskuif het en skuur ons een vir een aan die ander kant verby.

’n Honderd meter of wat verder in die pad af sien ons uiteindelik die rivier. Maar die magtige Limpopo doen nie sy reputasie gestand waar ons dit oorsteek nie en is skaars meer as ’n stroompie. “Verstommend as jy dit vergelyk met ’n vorige toer waar ons Land Cruiser amper weggespoel het,” vertel Paul (Ek was by daardie geleentheid saam met Paul in die Cruiser. Dit het ’n paar biere daardie aand gekos om van die adrenalien ontslae te raak. – Jaco). Die effek van die droogte verder wes is duidelik hier sigbaar.

Ons hou oos in die rigting van die dorpies Machaila en Mabote, maar ons vorder stadig en kom eers teen sononder by ons slaapplek aan. Ons kamp wild vanaand, iewers in die bos naby die noordelike grens van die Bahine Nasionale Park. Met Bhejane se ondersteuningspan wat oudergewoonte vooruit gery het om kamp op te slaan, sit ons kort voor lank almal om die kampvuur en dink rustig na oor ons eerste dag in Mosambiek.


Strand toe!


Die volgende oggend vertrek ons met die kus in ons visier. Op die ou end is dit weer ’n lang dag op die pad, al het die tweespoor in ’n grondpad verander naby Mabote. En dan, wanneer ons teer by Mapinhane kry, word ons gekniehalter deur die 60km/h- en 80km/h-sones op pad verder noord na Inhassoro.


Buiten moeilike grenspos-amptenare, is ek ook gewaarsku oor die land se bitter streng (lees: korrupte) verkeersbeamptes en ons groep ry so preuts soos ’n klomp pensioenarisse op pad na die rolbalbaan. “Jy wil rêrig nie aan hulle verkeerde kant wees nie,” waarsku Paul oor die radio, “want dis ’n helse kopseer.” Op die ou end het ons geen probleme met verkeersbeamptes op ons hele toer gehad nie, maar miskien het dit ook te doen gehad met die feit dat ons in konvooi ry.

Dis laatmiddag toe ons uiteindelik by ons slaapplek vir die volgende vier aande, Estrela de Mananisse Lodge (ook bekend as die Star of Moz), aankom. Ek stap dadelik af na die restaurant, waar daar ’n houtdek is wat oor die see uitkyk. Terwyl ek kyk hoe die son sak, besef ek opnuut iets: Al is ek hoe lief om die hoekies en draaitjies van die binneland te verken, kom ’n mens eintlik Mosambiek toe vir die strandlewe. En nou dat ons hier is, gaan ons dit behoorlik beleef.


Lekker plek vir ’n braai


Met twee lang dae se ry agter die rug, begin ons die volgende oggend met ’n luilekker ontbyt voor ons aan enigiets anders begin dink. Laatoggend ry ons af strand toe en draai noord na die punt van ’n skiereiland genaamd Bartholomeo Diaz Point. Dit is nogal ’n voorreg om die stuk of 30 kilometer op die strand te mag ry, want dit word feitlik orals in die land verbied. Inteendeel, ons word net toegelaat tot by BD Point en terug, en elke voertuig het ’n permit nodig.


Op pad daarheen ry ons verby spanne vissermanne, vroue en kinders wat lang nette met die hand uit die water trek. Hulle is dikwels families wat uit die see leef.

Die nette word vroegoggend met bote uitgevat en smiddae weer ingetrek. Ons word verskeie soorte vis, calamari, garnale en kreef aangebied soos ons verby ry. As jy die plaaslike gemeenskap wil ondersteun, sal ek voorstel dat jy hier jou seekos koop.


Kort voor lank bereik ons die punt waar die Bhejane-span vir ons middagete in ’n verlate gebou maak wat eens aan die BD Lodge behoort het. Moedernatuur het haar stempel hier afgedruk. Elke jaar wanneer hulle hierheen terugkeer, het die see meer en meer van dié eens spog-oord ingesluk, vertel Paul my. Die stukke van ’n swembad wat op die strand lê, is ’n duidelike teken hiervan.


’n Positiewe gevolg van die verval is egter dat ons die strand in al sy glorie kan geniet sonder enige ander besoekers in die omtrek. ’n Paar uur later keer ons terug na die lodge met vol mae, ’n vars tan en ’n ordentlike dosis ontspanning.


Vat my paradys toe


Die volgende oggend word ons met ’n prentjiemooi dag wakker. Wanneer ek die eienaar van die lodge, Basie Botha, raakloop, sê hy met ’n groot glimlag: “Wat ’n perfekte dag! Is jy reg vir die eiland?”
Die betrokke eiland waarvan hy praat is Ilha Santa Carolina naby die meer bekende Bazaruto-eiland. Dit het ook ’n Engelse naam, Paradise Island, wat meer aanloklik klink.

In twee rubberbote neem dit ons sowat 45 minute om die stukkie land te bereik, maar die oomblik toe ons daar aankom, besef ek die aanslag van soutwater in my gesig was die moeite werd. Die water is kristalhelder en die sand net so spierwit soos in elke foto wat ek al voorheen van tropiese eilande gesien het. Die beste ding van hierdie eiland is egter dat dit as ’n natuurreservaat geklassifiseer is (jy’t ’n permit nodig om dit te besoek) en dus feitlik verlate is, afgesien van ’n paar natuurbewaringsbeamptes wat hier woon. Ons deel die omgewing met net ’n dosyn ander besoekers vir die dag en ek hoef nie ver te stap voor dit voel asof ek die enigste mens in die omgewing is nie.


Vir ’n wyle verken ek die bouvalle van ’n verlate vakansieoord op die eiland. In sy glorietyd moes hierdie ’n bedrywige plek gewees het, want ek ontdek verskeie woonstelblokke, ’n reuse hoofgebou waar daar eens ’n groot eetsaal was wat oor die turkoois-kleurige water uitkyk, ’n kerkie en selfs ’n landingstrook. Later eet ons middagete op die strand, teug aan koue biere en snorkelduik bo ’n koraalrif. Jy weet, die gewone paradys eiland-dinge. (Jou arme ding. – Jaco)


Kuslangs suidwaarts


Ons het nog een dag in Inhassoro oor voordat ons ons reis suidwaarts hervat. Ons besluit om dit ’n luilekker dag te maak sodat ons die plaaslike mark kan verken, 2M-biere by die bekende Johnson’s Bar op die strand kan drink en peri-peri hoender vir middagete kan geniet (Ek moet jou toewyding prys! – Jaco). Ek kan aan niks dink wat meer eg Mosambieks is as dit nie.


Die volgende oggend val ons vroeg in die pad op die EN1-hoofweg in ’n suidwaartse rigting. Ons bestemming is Xai-Xai, sowat 560km van Inhassoro en  daar wag weer ’n vol dag se ry op ons.

Al is dit ’n lang pad, is dit nietemin ’n interessante een. Ek het nog nooit so baie kokosneutpalms op een plek gesien nie en as jy ’n liefde vir rissiesous of kasjoeneute het, kan jy so veel as wat jou hart begeer by die hordes stalletjies langs die pad koop.

Ons kom laatmiddag by Sunset Beach Lodge aan, ons verblyf vir die volgende twee aande. Teen hierdie tyd is ons al goed gewoond aan die Mosambiekse strandlewe, dus is dit geen probleem om die volgende dag weer luilekker op die strand deur te bring nie.


Van Xai-Xai af beplan ons om verby Chokwe en die Limpopo Nasionale Park terug na Suid-Afrika te ry. Hier kamp ons vir ons laaste aand by die pragtige Aguia Pesqueira-kampeerplek op die Massingir-dam voor ons uiteindelik Mosambiek by die Giriyondo-grenspos groet. Al het ek in meer as ’n week skaars na my horlosie gekyk, wens ek skielik ek het meer tyd op daardie tropiese strande gehad. Aan die ander kant, daar is altyd volgende keer.  


Ek wil ook gaan!

Beste tyd: Heel jaar, maar natuurlik is die warmer somer maande meer genotvol. Hou egter in gedagte dat lodges en vakansieoorde, veral op die kus, gedurende Desember stampvol raak. Bespreek ver vooruit.

Veiligheid: Ons het nooit enige probleme op hierdie toer gehad nie. Ons is wel gewaarsku dat die situasie meer onstabiel is noord van Inhassoro, waar Renamo- en Frelimo-magte meer aktief is. Hou die Facebook-blad DriveMoz dop vir die jongste inligting.  

Brandstof: Orals beskikbaar. Petrol is gasolina en diesel is gasoleó – maak seker jy vra vir die regte een.

Kontant: Die meeste plekke in die suide aanvaar rand, maar dit is ’n goeie idee om meticais byderhand te hê vir die markies en kleiner winkels. Jy kan meticais by OTM’s, wat volop is, trek. Visa-kaarte word die algemeenste aanvaar.

Taal: ’n Basiese kennis van Portugese frases sal definitief help, maar ons het gevind dat die meeste mense in winkels, vulstasies, restaurante en lodges in die groter dorpe Engelsmagtig is.

Verblyf: Bespreek lank vooruit vir die Desember-vakansie. Ons het Estrela de Mananisse (Star of Moz-lodge) in Inhassoro (*starofmoz@gmail.com, *079 530 3674), Sunset Beach Lodge naby Xai-Xai (*info@sunsetbeachlodge.com, *+258 863 573 296) en die Aguia Pesqueira-kampeerplek in die Limpopo Nasionale Park (*salinhal@yahoo.com, *+258 84 3011 719) gebly.



Pak in vir Mosambiek

  • Jou paspoort.
  • Rybewys (SA-rybewyse is geldig in Mosambiek).
  • Oorspronklike, onverkorte geboortesertifikaat vir kinders onder 18.
  • Malaria-medisyne.
  • Registrasie- en eienaarsdokumente vir jou voertuig. Vir gefinansierde of gehuurde voertuie benodig jy ’n toestemmingsbrief van jou bank of die verhuringsmaatskappy.
  • ’n Brief van jou versekeringsmaatskappy wat wys dat die voertuig vir Mosambiek verseker is.
  • Tydelike invoerpermit (jy kan dit by die grenspos kry).
  • Derdeparty-versekering – beskikbaar by die meeste grensposte, maar jy kan tyd spaar deur joune voor die tyd by Outdoor Warehouse of die AA te kry.
    ZA-plakker agter op jou voertuig.
  • As jy sleep, sal jy ’n blou-en-geel-driehoekplakker vir die voertuig én die sleepwa nodig hê.
  • Twee rooi nood-driehoeke en een geel veiligheidsbaadjie.
  • Brandblusser (nie verpligtend nie, maar altyd ’n goeie idee).


Verken Inhassoro

1. Ons het die grootste gedeelte van ons toer in die rustige kusdorpie Inhassoro deurgebring. Hier is ons keuse van vyf dinge om te doen terwyl jy daar is.

2. Koop seekos by die plaaslike inwoners op die strand vir aandete.

3. Besoek die plaaslike mark waar jy byna enigiets kan koop.

4. Spandeer ’n dag op Paradise Island naby Bazaruto.

5. Drink ’n 2M-bier en eet peri-peri-hoender by Johnson’s Bar op die strand.

6. Pak ’n piekniekmandjie en ry na BD Point (kry ’n permit om op die strand te ry by die verkeersdepartement in Inhassoro).