Jou bande is eintlik belangriker as jou ryding. Sonder hulle kan jou enjin hoe sterk wees; as die wiele nie kan draai nie, help dit jou niks nie. Ondanks gevorderde tegnologie kan niks jou waarborg dat jy nie ’n pap band sal kry nie.

As die noodlot jou tref en die tweede pap band binne ’n uur oor jou pad kom in die Tankwa-Karoo, moet jy voorbereid wees en self kan inspring om die band te herstel.

WAT KAN JY DOEN?

Na gelang van die grootte van die gat en waar op die band hy is, het jy ’n paar keuses. Jy kan ’n ander band opsit, die band self herstel of ’n binneband insit. As die gat nie té groot is nie (minder as 3 mm in deursnee), kan jy ’n snotprop insit.

 Vir gate wat groter is, kan jy ’n paddastoelprop (mushroom plug) gebruik. As die gat groter as 6 mm in deursnee is, word ’n binnesool (gaiter) aanbeveel. Weg Ry & Sleep het by Johann Viljoen van 1st Allignment Centre in Stikland, Bellville, gaan kers opsteek. Veldrygeesdriftiges in die Kaap ken hom as “Johann Tyres”. 

Al waar ’n snotprop, binnesool of paddastoelprop aanbeveel word, is op die loopvlak van die band. Skade aan die sywand (sidewall) moet eerder nie self reggemaak word nie. Die natuurlike beweging van die wand maak die herstelplek kwesbaar vir verdere skade en dit kan selfs die band laat bars. In ’n noodgeval kan jy dalk nie anders nie, maar dan moet jy nie vinnig ry nie en die band so gou as moontlik vervang.

PROP

’n Prop (die meeste mense verwys daarna as ’n “snotprop”) is ’n veselrige stukkie tou met gom aan. Dit word deur die gaatjie gedruk en seël dit. Dis ideaal vir ’n klein gaatjie (kleiner as 3 mm). As jy self ’n band herstel het, moet jy so gou moontlik by ’n kundige uitkom sodat hy kan seker maak die band is nog veilig vir die langpad.

STAP VIR STAP

1. In ’n bandherstelstel kry jy (1) gom, (2) ’n ruimer, (3) ’n bandnaald en (4) snotproppe.

2. Voer die prop deur die oog van die naald. Onthou om die een punt van die prop plat te druk, dan voer hy makliker deur. As jy voel dit is nodig, kan jy van die gom aan die prop sit om hom nog meer “snotterig” te maak.


3. As jy gelukkig is, sit die voorwerp wat die gat veroorsaak het, nog daarin. Gebruik ’n tang om dit uit te trek. As jy bang is jy verloor die merk, merk dit met ’n stuk kryt of enige skryfding. Andersins moet jy die lekplek soek.



4. Gebruik die ruimer om die gat skoon te maak. Die binnekant van ’n band bestaan uit verskeie lae rubber, nylon en draad wat geweef is. Nog ’n doel van die ruimer is om die gat oop te maak sodat die prop makliker sal kan ingaan.


5. Druk die naald versigtig in die gat todat daar omtrent net ’n sentimeter van die twee puntjies van die prop aan die buitekant uitsteek en trek dan die naald versigtig uit. Die prop sal agterbly in die band en die gat sal geseël wees.

PADDASTOELPROP

’n Paddastoelprop word só genoem na aanleiding van sy vorm.

Die propgedeelte (wat soortgelyk is aan ’n binnesool) het ’n lang rubbernek met ’n stuk draad in. Jy voer die nekgedeelte deur die gat en trek dit styf teen die binnekant van die band vas en sny die rubbernek af. Al manier hoe jy die rubbernek gaan afbreek voor die prop stewig in posisie sit, is as die prop te groot is vir die gat. Maak dus seker jy het die regte grootte prop voor jy begin.

Om ’n binnesool en paddastoelprop in te sit, moet jy die band van die velling afhaal.

STAP VIR STAP

1. Jy het ’n (1) rollertjie, (2) vulkaniseergom, (3) ’n tang, (4) die paddastoelprop en iets grof soos skuurpapier nodig.



2. Sodra jy die gat opgespoor het, maak seker die binnekant van die band is skoon – sonder sand, stof en olie. Dan vat jy skuurpapier en skuur aan die binnekant van die band (die plek wat jy skuur, moet omtrent 1 cm wyer wees as die paddastoelprop).

3. Smeer die vulkaniseergom aan die binnekant van die band. Dis belangrik dat daar geen olie of ghries op die band is as jy dit aansmeer nie. Toets net met die agterkant van jou vinger of dit droog is; dis om seker te maak die natuurlike olie van jou vel kom nie met die band in aanraking nie.


4. Trek die beskermende plastiek van die prop af. Dis baie belangrik om nie aan die deel te raak wat met plastiek bedek was nie.



5. Druk die punt van die rubbernek deur die gat en vat dit aan die buitekant vas met ’n tang. Trek asof jy betaal word totdat die prop styf teenaan die binnekant van die band sit.

6. Gryp die rollertjie. Die doel hiervan is om seker te maak die prop is oral styf teen die binnekant van die band. Johann stel voor jy verdeel die prop soos ’n kompas – noord, oos, suid, wes. Eers rol jy van die middel af kante toe op die noord-suid-as, en dan weer van die middel af kante toe op die oos-wes-as.

7. Sny die rubbernek van die paddastoelprop teenaan die band af.

BINNESOOL

’n Binnesool (gaiter in Engels) is soos die patch ’n solution wat jy as kind gebruik het om jou fiets se wiel te herstel. Dis baie sterk en vir swaarverrigtingwerk bedoel. Anders as jou fiets se wiel, word dit nie aan die binneband vasgeplak nie, maar aan die binnekant van die buiteband. Die gom smelt die binnesool in effek vas aan die buiteband.

STAP VIR STAP

Die stappe om ’n binnesool aan te sit, stem baie ooreen met dié van ’n paddastoelprop.

1. Jy het ’n (1) rollertjie, (2) binnesool, (3) vulkaniseergom en skuurpapier nodig.

2. Jy volg dieselfde stappe om die binnekant van die band voor te berei as met ’n paddastoelprop.

3. Sodra die gom droog is, trek jy die beskermende papiertjie van die binnesool af en plak hom stewig vas op die area wat jy voorberei het. Op die binnesool sal jy sien daar is merke wat wys na die spanrand (bead).

Maak seker jy plak hom ooreenkomstig aan die binnekant van die band vas. Daarna takel jy hom met die rollertjie (nes jy met ’n paddastoelprop sou maak).