
Voor jy lostrek en die 4x4-winkels leegkoop vir ekstra ligte, maak seker jou voertuig se gewone ligte is reg ingestel en dit werk so goed soos dit kan. Jy kry ingewikkelde toestelle waarmee jy die ligte kan instel, maar die goeie ou boeremanier werk net so lekker.
- Parkeer jou wa op ’n gelyk vloer, 6 m vanaf ’n muur of skerm en reghoekig daarmee.
- Trek ’n denkbeeldige lyn tussen jou voorligte en meet hoe hoog die lyn bo die grond is.
- Trek ’n horisontale streep op die skerm (H-H) of plak ’n strook kleefband.
- Trek nog ’n horisontale streep, 50 mm laer as lighoogte op die skerm. (B-B)
- Kry die middel van die voertuig en merk dit met ’n ooreenstemmende vertikale streep op die skerm. (V) (Laat een van jou kinders reg in die middel agter die voertuig staan en beduie waar die denkbeeldige lyn wat vorentoe deur die truspieëltjie gaan die skerm tref.
- Merk die afstand wat elke lig vanaf die middel is op die skerm, soos ’n spieëlbeeld van die kar. (V-C)
- Stel nou jou dompligte in, effens links van die kruis by B, en jou hoofligte reg op C.
Weg Ry & Sleep sê
Stel kol- of ryligte op dieselfde manier in. Kry die hoogte van die middelpunt tussen die twee ligte, merk dit op die skerm en merk die ooreenstemmende afstand weerskante van dié middelpunt. Voor jy die ryligte instel, bedek die motor se hoofligte sodat jy net die ryligte se lig sien.
Maak seker jy’t ’n goeie gloeilampie in jou lig, al kos dit ’n bietjie meer as gewone gloeilampies, maar dit spaar jou dalk ’n bees of twee se geld vir ’n versekeringsbybetaling. Maak ook seker jou ligomhulsel se lens is mooi helder en die reflektor nog mooi. Dié goed raak ná ’n paar jaar maar dof en verweer. ’n Paar standaard-Hella-omhulsels sal jou nie veel kos nie.