’n Vuur is bekoorlik, maar gevaarlik. Daarom is dit noodsaaklik om ’n brandblusser in jou reisvoertuig en jou kampplek byderhand te hê. Maar watter brandblusser is die regte een?



Daar word tussen klas A-, B- en C-vure onderskei en elkeen van hulle moet op ’n ander manier geblus word.

’n Klas A-vuur ontstaan wanneer hout of enige vaste stof soos seil, tekstiel of papier aan die brand slaan. Jou kampvuur is klas A, en as jou tent en kamptoerusting vlamvat, sal dit ook ’n klas A-vuur wees.


’n Klas B-vuur is wanneer vloeistof of chemikalieë soos petrol of olie brand en ’n Klas C-vuur is ’n elektriese vuur. Klas C-vure word gewoonlik slegs deur elektrisiteit veroorsaak. Die kortsluiting steek dan hout, papier of vloeistowwe aan die brand en het ’n klas A-vuur tot gevolg. Dit is ook nie die elektrisiteit self wat die vuur laat aanhou brand nie, eerder die stowwe wat dit aan die brand laat slaan het.


Die aktiewe bestanddeel in poeierbrandblussers wat die vuur blus is mono-ammoniumfosfaat (MAP). ’n Goeie brandblusser behoort 40% of meer van dié bestanddeel te bevat. Die res van die poeier in die brandblusser bestaan uit ’n kombinasie van ammoniumsulfaat, silika en ander middels wat help om die poeier te laat spuit en vloei.


Rooi, geel, blou of swart?

Die grootste deel van ’n poeierbrandblusser se etiket is gewoonlik blou. As ’n brandblusser se etiket ’n ander kleur is, bevat dit gewoonlik ’n ander blus-medium as mono-ammoniumfosfaat – rooi vir water, geel vir skuim en swart vir koolstofdioksied.
Poeierbrandblussers is geskik vir klas A-, B- en C-vure.


Lees dus die brandblusser se etiket – dit stipuleer watter soort vuur én hoeveel vuur hy kan blus.


’n Brandblusser kry ’n spesifieke gradering na gelang van hoe groot die toets vure was wat suksesvol deur SABS geblus is tydens die blusser se sertifikasie proses.
Die gradering word in standaardeenhede aangedui vir Klas A en B toetsvure waarin die gradering van byvoorbeeld 8A/55B die grote van die houtstapel met 8A aandui en die volume van die brandstof met die 55B.


Hoe hoër hierdie nommer is, hoe meer vuur kan jou brandblusser natuurlik bestry.

Wat van CO2?

Brandblussers wat CO2 in plaas van mono-ammoniumfosfaat bevat word gemaak vir vloeistof- of chemiese vure, nie houtvure nie.
In die geval van ’n vloeistofvuur is dit eintlik die dampe wat brand. CO2-gas (koolstofdioksied) werk goed hiervoor omdat dit die vuur smoor en afkoel.
In die geval van ’n houtvuur is dit egter die hout self wat brand. As jy dus ’n houtvuur met CO2 takel, smoor jy dalk die vlamme, maar kan die hout hitte behou en later weer opvlam.