Deel

PLAN B: Skuif jou wa met 'n boormasjien

akkreditasie
As jy ’n paar stukkies oorskietyster, die ratstelsel van ’n hekmotor, twee wiele en ’n boormasjien bymekaar sit, kry jy ’n woonwaskuiwer vir minder as R500, sê Gerrit Grobler van Witbank.

Ek sleep ’n Jurgens Exclusive en het ’n woonwaskuiwer gesoek om my te help om die wa op sy plek te kry wanneer ek hom by die huis op sy bêreplek staanmaak. Ek het na verskeie woonwaskuiwers op die mark gekyk en gesien hulle het een ding in gemeen: Die meeste van hulle gebruik dieselfde ratstelsel, een wat met die sogenaamde wurmaandrywing werk.


Ek het ’n ou Gemini-hekmotor gehad en besef ek kan my eie waskuiwer daarmee bou. Eers het ek vir my twee ou wiele van ’n grassnyertrekker gekoop en toe die raamwerk vir my skuiwer gebou met oorskietyster wat in my motorhuis was. Ek het die hekmotor se plastiekrat vervang met een van staal wat ek gekoop het, en toe die besigheid aanmekaargesit. Ek het ook die skuiwer se bol waarop ek my Exclusive haak, by my plaaslike woonwahandelaar aangeskaf.

Ek het besluit my 850 W-boormasjien is nét die ding om die wiele aan die rol te kry en het vir hom ’n passtuk bo die ratkas gebou. Hy werk lekker, want hy kan vorentoe én agtertoe draai. Ek skroef net ’n boutpasstuk in die boormasjien, druk hom in die ratkas en my skuiwer loop.

Een groot voordeel van die boormasjien is dat hy stadiger draai as jy sy sneller liggies druk en vinniger namate jy harder druk. Dit gee my dus spoedbeheer. Om dit behoorlik te benut het ek ’n fietsrem op my skuiwer se handvatsel vasgemaak wat om die boormasjien se sneller pas – nou het ek volkome beheer oor hoe vinnig of stadig my woonwaskuiwer loop, wat dit makliker maak om met hom te werk.

Ek gaan kamp nie regtig met hom nie, maar ek dink hy sal nét so goed werk in die kampterrein. ’n Mens kan maklik die kabel van die rem losmaak en sodoende die handvatsel opvou en hom op jou bakkie laai wanneer jy gaan kamp. En dan is die boor sommer byderhand om die hoekstutte af te draai.

Die skuiwer het my minder as R500 gekos, maar ek het reeds die boormasjien, ratstelsel en oorskietyster gehad. Al waarvoor ek betaal het, was die wiele, die staalrat en die bol vir die wa se haak.