book-icon Uitgawe Januarie 2018

Jou foto: Op die radar...

akkreditasie
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Almal se idee van mooi is anders – vir sommige is dit waterstrome, vir ander ’n ou Valiant of ’n windpomp. En ja, vir sommige mense is selfs ’n vlermuis mooi.

‘Vrieslik’ mooi!

Wenfoto

Erica Demetriou van Roodepoort skrik nie vir die uitdaging van ’n moeilike foto nie.

“Ek het hierdie foto in Marlothpark geneem. Eers het ek gedink die beweging hier naby ons is ’n voël, maar ek het gou besef dis ’n vlermuis. Met die hulp van my vriendin Leandi Mollentze kon ek twee foto’s van die vlermuis neem. Ek kon nie tegelykertyd my oog op die vlermuis hou én deur die kamera mik nie. Die vlermuis het teruggevlieg, ek het aangelê, Leandi het my gewaarsku en ek was gereed vir die foto.”

Weg Ry & Sleep sê Dié soort foto is selfs vir beroepsfotograwe ’n uitdaging. Diere is nie afstandbeheerde wesens nie en ’n mens kan nie altyd hulle bewegings voorspel nie. Jy moet dus wakker slaap om ’n ratse vlermuis te probeer afneem.

Op Erica se foto “vries” die flitslig die vlermuis se beweging en beklemtoon elke liewe detail wat in fokus is by die dier se bek. Die nadeel van ’n flitslig is egter die skaduwee wat dit agter die voorwerp veroorsaak. In dié geval is die skaduwee minder steurend, want die agtergrond waarteen dit val, is ver genoeg van die vlermuis sodat dit nie duidelike lyne maak nie.

Om die foto selfs treffender te maak kan ’n mens baie van die onnodige detail rondom die vlermuis afsny.

Selfs die paaltjies aan die onderkant kan ’n bietjie donkerder wees. Tans trek dit ’n mens se aandag van die vlermuis af.

Hoe het Erica dit geneem?
Canon EOS 760D; Canon 70-300 mm-lens; 1/60 van ’n sekonde; f5,6; ISO 400.


Wat die oog kan sien

As hy in die berge gaan stap, vat John Wait van Hankey in die Oos-Kaap sy Nikon saam.

“Ek het die foto op ons maandelikse InniKloof-watervalstap geneem. Dit val in die Stinkhoutberg-natuurreservaat, wat ook deel is van die Groter Baviaans hier naby Hankey.

Ek het die HDR-tegniek gebruik en vyf raampies teen dieselfde lensopening geneem, maar elk met ‘n ander sluiterspoed. (Dis bracketing in Engels.) Die middelste een van die vyf is die regte beligting.

Hierna het ek die vyf foto’s op my rekenaar een gemaak.”

Weg Ry & Sleep sê Die “HDR” waarna John verwys, staan vir “high dynamic range” en kom neer op ’n saamgestelde foto. Met ’n standaard- digitale foto kan jy nie al die detail in die lig en donker dele van ’n toneel op een oomblik vasvang nie. Die HDR-tegniek stel ’n mens in staat om juis dit in ’n groot mate te doen.

’n Mens neem die “regte” beligting asook twee verskillende beligtings té donker en té lig. As jy al hierdie foto’s kombineer, word heelwat meer detail vasgevang. Hierdie foto is ook meer getrou aan hoe ’n mens se oog al die detail om ons waarneem terwyl die iris spontaan aanpas.

John se saamgestelde foto wys dus al die detail – van die wolke tot die donker hoekies van die rotspoele.

Hoe het John dit geneem?
Nikon D7200; Sigma 10-20 mm-lens; 5 sluiter-spoedbeligtings; 1/320 tot 1/5 000 van ’n sekonde; f4.5; ISO 1 000.


Wag so ’n bietjie

Vir Natasha Hijbeek van Melkbosstrand is dit geen moeite om alles tot stilstand te ruk en ’n stil oomblik langs die pad met haar selfoon vas te vang nie.

“Ons was op pad na die jaarlikse Bull Run by Vanwyksvlei en my man, Roland, moes gou langs die pad stilhou om die Valiant se enjin ’n bietjie te verstel.

Ons lewe is so gejaagd met daaglikse take en verantwoordelikhede, en soms verg dit iets spesiaals om ons vir ’n oomblik te laat stilstaan en die mooi te waardeer. Ons was dadelik omring deur stilte en die ongekende vrede. Al wat ’n mens hoor, is die sagte kraakgeluid van die windpomp wat eenkant staan.

Ek moet bysê: Ná dese waardeer ’n mens weer die teerpaaie.”

Weg Ry & Sleep sê Danksy selfone het die wêreld vandag ontelbaar baie kitsfotograwe wie se foto’s op al wat ’n digitale platform gedeel word.

Natasha neem ’n mens met haar foto tot in die middel van nêrens om die stilte te ervaar. Terwyl ’n mens deesdae alles wat leef en beef met jou selfoon kiek, kan jy die alledaagse lewe nóg beter vasvang deur op ’n punt of twee te let.

Een van die mees onderskatte tegnieke is hoe hoog ’n mens die kamera van die grond af hou. As jy (soos die meeste van ons) staan en die foon voor jou gesig hou, wys die foto ’n beeld van hoe ons almal na die wêreld kyk: op ooghoogte. Kniel ’n slag of klouter ’n bult uit en kyk hoe verander die foto. Dis nie dat dit ’n beter foto tot gevolg het nie, maar eerder ’n ongewone hoek wat ’n mens nie aldag sien nie.

Met Natasha se foto kan ’n mens ook verder die komposisie interessant maak. Lig die kamera sodat die horison nie in die middel sit nie, of sny die onnodige agtergrond uit.

Hoe het Natasha dit geneem?
Samsung Galaxy S7; 4,2 mm-lens; 1/3 000 van ’n sekonde; f1.7; ISO 40.