Corolla Cross kraai koning

akkreditasie
Toyota se nuutste Corolla is nie ’n tradisionele sedan of ’n luikrug nie, maar ’n splinternuwe kompakte sportnutsvoertuig wat ten volle in Suid-Afrika gebou word. Verwag om binnekort duisende Crosses op ons paaie te sien, skryf Ronel Steyn.

Daar is bitter min middelslag- Suid-Afrikaanse families waar daar nie in die afgelope 50 jaar êrens ’n Corolla diens gedoen het nie.

Eers die sedan en toe later die Corolla Conquest-luikrug het ons paaie oorheers – goed geboude, betroubare en bekostigbare wiele vir die nasie.

Maar die heerskappy van sedan- en luikrugmotors is op ’n einde. As die koning nog nie dood is nie, skuifel hy tree vir tree nader aan sy sterfbed want sy opvolger is reeds aangewys.

Sy naam is die kompakte sportnutsvoertuig – ’n klas gesinsmotor met meer spasie, meer grondvryehoogte en ’n hoër, gemaklike sitposisie agter die stuur.

Gewilde motors soos die Hyundai Creta, Ford EcoSport, Volkswagen T-Cross, Renault Duster en die Mazda CX-3 verkoop soos soetkoek.

Nou het hulle rede om ietwat angsbevange oor hul skouers te loer na die reus genaamd Toyota, en meer spesifiek die Corolla Cross, wat op hulle afgestorm kom.

Die erns waarmee Toyota die motor benader, blyk uit die hoeveelheid motorjoernaliste wat na die bekendstelling genooi is.

Altesame 35 splinternuwe Corolla Crosses het die parkeerarea van die Mount Nelson Hotel in Kaapstad volgestaan, genoeg vir 70 motorjoernaliste om hulle te toetsbestuur.

Dit was maklik die grootste motorbekendstelling van die jaar!

Die Cross word ten volle in Toyota se Prospecton-aanleg in Durban gebou met twee enjinkeuses – ’n konvensionele petrol-1,8-liter wat 103 kW se krag en 173 Nm se wringkrag lewer en ’n hibriede 1,8-liter-model wat met ’n elektriese motor gekombineer word.

Dit is die eerste hibriede motor wat in Suid-Afrika gebou word, en dit was die eerste een agter wie se stuur ek ingeskuif het.

Tussen die twee enjins was die hibriede model my gunsteling. Die elektriese enjin is sag op die oor (dit het my ’n paar sekondes geneem om te besef die voertuig is reeds aangeskakel), en die versnelling is glad en vinnig danksy die ekstra wringkrag wat deur die elektriese motor verskaf word.

Omdat die batterypak van die motor deur die petrolenjin en herwinde remmingskrag herlaai word, het jy nie nodig om die motor êrens in te prop soos met ’n ten volle elektriese motor nie.

Toyota beweer sy brandstofverbruik is 4,3 liter per 100 km, heelwat minder as die 6,8 liter van die konvensionele petrolenjin.

Op ons toetsrit vanaf Kaapstad deur die Swartland en Boland was dit veral die gemak van die rit, die afwerkingsvlakke, ruimte binnelangs en standaard-gemakstoerusting wat beïndruk het.

Moenie ’n verrigtingsmotor verwag nie. Dié outjie is ’n gerieflike gesinsmotor waar die enjin en die palwisselratkas doeltreffende eerder as buitengewone kraglewering bied.

Die Cross is beskikbaar in drie afwerkingsvlakke met die intreevlak Xi wat begin by R350 000 en die luukse XR Hybrid (met ekstras soos sagte leersitplekke en 18-duim allooiwielvellings) wat by R450 000 gaan draai.

Al die modelle het ’n rits veiligheidstelsels soos lugsakke vir die bestuurder, passasier en kantlugsakke, stabiliteitsbeheer, ABS-remme, ’n elektroniese remstelsel, ISOFIX-ankerpunte vir kinderstoeltjies, deure wat vanself sluit en ’n teendiefstalstelsel as standaard ingesluit.

Al probeer die Cross ’n bietjie pronk met ’n groot sierrooster, bufferstroke langs die kante en moderne, skerp lyne gaan hy nie noodwendig uitstaan in ’n see van motors by die winkelsentrum nie.

Maar sy voorkoms gaan jou ook nie jou kop in skaamte laat sak nie.

Sy voorgangers, die Corolla luikrug en sedan, se mantels het dalk lankal uitgerafel maar ons voorspel die Cross gaan binnekort die troon bestyg as een van Suid-Afrika se topverkopers.

Die koning is dood. Lank lewe die koning!

Toyota Corolla Cross 1.8 Xr Hybrid

Enjin 1 798 cc petrol hibriede

Krag 72 Kw @ 5 200 r.p.m.

Wringkrag 142 Nm @ 3 600 r.p.m.

Ratkas Palwissel-ratkas (CVT)

Brandstofverbruik (beweer) 4,3 l /100km

Grondvryhoogte 161 mm               

Waarborg 3 jaar / 100 000 km

Diensplan 6 jaar / 90 000 km

Diensintervalle 15 000 km/12 maande

Waarborg op hibriede battery 8 jaar/195 000 km

Prys R448 300