Die Honda Jazz is een van die duurder klein luikrugmotors wat plaaslik verkoop word en dit is ’n sinvolle ryding om die kinders by die skool te gaan haal en oor die naweek inkopies te doen.
Jy koop egter nié ’n Jazz om die boendoes in te vaar nie… tensy jou naam Jefferson Palma van Kalifornië in Amerika is. Jeff het sy 2015-model Jazz (wat in ander dele van die wêreld as ’n Fit bekend staan) aan die einde van 2017 tweedehands gekoop. Hy wou die karretjie ’n bietjie warmer maak en het klein kosmetiese veranderinge aangebring om die Jazz meer vaartbelyn te laat lyk. Hy was egter in ’n klein ongeluk betrokke en moes ’n paar panele vervang.
Daarna het hy namarkse produkte aangebring om die kar se bande met hulle allooivellings knus in die wielboë te laat pas, en kort voor lank ’n fiets en dakrak laat aanbring én besluit dit sal ’n goeie idee wees om die vering te lig.