book-icon Uitgawe April 2018

Hoe trek jy jou wa gelyk?

akkreditasie
Rubriek
Rubriek
Die slimste mense in Suid-Afrika werk nie vir die WNNR of by Tukkies of Maties nie. Nee, hulle vergader om ’n braaivleisvuur iewers by ’n kampplek waar hulle wyshede kwytraak oor onderwerpe soos wie die Bokke moet afrig, hoe ’n woonwa gepak moet word, watter voertuig die beste sleep en of ’n stabiliseerder rêrig nodig is.

Soms is ’n mens spyt jy vra raad by dié menere. ’n Doodeenvoudige vraag oor die beste manier om jou wa waterpas te kry word begroet met snedige opmerkings soos “jy parkeer hom op ’n gelyk stuk grond” of “gebruik die oë in jou kop”.

En as die menere al effens onder die prop is, sal hulle jou aansê om jou kampstoel onder ’n koelteboom staan te maak en eers met ’n ietsie in jou hand te sit terwyl jy vir die wa kyk.

Maar selfs al is jy nie met ’n spul grapjasse opgeskeep nie, sal jy ’n klomp menings moet aanhoor. Die een sê jy plak waterpassies bo elke hoekstut en draai elkeen om die beurt tot die wa gelyk staan.

Jy kry ook diegene wat glo jou waterpas moet minstens 12 duim lank wees, anders is die lesing onakkuraat. Daarom werk ’n lang waterpas tussen die agterligte en een bo die linkerwiel die beste.

Só kry jy die wa dan met behulp van die neuswiel waterpas in die lengte en draai die hoekstutte tot die wa in die breedte gelyk staan.

Dis nie ’n goeie plan om dié wa 100% waterpas te kry nie, want dan sukkel jy met die stort se uitloop en water lek in by die ventilasiegate in die dak.

’n Ander een gebruik ’n elektroniese waterpas op sy slimfoon as deel van ’n driepuntplan. Eers draai hy die neuswiel met drie draaie laer en sit dan die agterste hoekstukke op blokke, en maak hom van regs na links gelyk.

Dan draai hy die neuswiel op of af om hom van voor tot agter gelyk te kry. Dit is belangrik om eers die neuswiel af te draai, anders kan die hoekstutte agter nie hoog genoeg lig nie.

Dan kry jy die mense wat wieltrappe gebruik. Hulle trek óók die wa min of meer waar hulle wil staan en kyk dan watter wiel te hoog of laag staan. Jy trek dan die wa ’n bietjie vorentoe of agtertoe tot op die wieltrap, en gebruik die neuswiel om hom gelyk te trek. Sit ’n wielstop agter of voor die opgeligte wiel en draai die hoekstutte uit.

Onthou, die hoekstutte is net bedoel om die woonwa te stut, en nié om die woonwa gelyk te kry nie. Dit is hoekom groter woonwaens se sypaneel bo die deur kraak, veral by dubbelasmodelle. Daar word te veel spanning op die hoeke van die woonwaens geplaas wanneer jy hom in die breedte waterpas wil kry.

Die driepuntplan kan dalk met kleiner en ligter woonwaens werk, maar ’n mens moet darem nie met ’n reusewoonwa teen ’n steil helling stop en hom dan in die breedte probeer waterpas kry nie.

Natuurlik word die tegnologie ook ingespan om die gelykmaakproses te vergemaklik. Iemand vertel van ’n stelsel wat hy uit Engeland laat invoer het vir sy Elegance.

Hy sê dis nie ’n goeie plan om dié wa 100% waterpas te kry nie, want dan sukkel jy met die stort se uitloop en water lek in by die ventilasiegate in die dak. Die agterkant van die wa moet dus effens laer wees as die voorkant.

Hy gebruik sy woonwaskuiwer om sy Elegance op die regte plek te kry: Hy sit die hidrouliese stelsel agter die wiel en trek hom dan daarop. Dan pomp jy die meneer tot op die gewenste hoogte – nie meer as 3-6 duim (7,5-15 cm) nie, want anders is die voortent te skeef wanneer jy hom opslaan.

’n Mens wonder of dié stelsel net ’n foefie is, maar dan besef jy die Britte se Caravan and Camping Club het byna ’n miljoen lede. Dalk is dit die moeite werd om te ondersoek.