Is jou ligte wettig?

akkreditasie
Gaan jy regtig beboet word in Namibië vir ’n LED-ligstaaf op jou 4x4? Hoe staan sake in Suid-Afrika wat LED-stawe en ander ligte op jou voertuig betref? Charles Thompson gesels met ’n paar kenners.

Gaan jy regtig beboet word in Namibië vir ’n LED-ligstaaf op jou 4x4? Hoe staan sake in Suid-Afrika wat LED-stawe en ander ligte op jou voertuig betref? Charles Thompson gesels met ’n paar kenners.


Volgens die Namibiese koerant Republikein kan voertuigeienaars in dié land beboet word vir LED-ligstawe op hulle voertuie. Daar heers egter onduidelik op 4x4-internetforums en Facebook-blaaie oor wat presies dié wet beteken en hoe streng dit toegepas word.

Adam Eiseb, verkeershoof vir die Namibiese verkeersdienste in Windhoek, sê die verskillende gebruike van LED-ligte op voertuie is nog relatief nuut. Padregulasies is nog besig om aan te pas by die veranderende tegnologie, sê hy, maar LED-ligstawe voor op ’n voertuig is en bly onwettig. 

Namibië se padwette sê dat slegs gloeilampe (halogeen, Xenon, LED) op openbare paaie wettig is en dit blyk asof ’n LED-ligstaaf nie as ’n gloeilamp geklassifiseer word nie maar eerder as ’n diode. Eiseb sê egter die vraag is eerder rondom die interpretasie van wat ’n ligstaaf nou eintlik is. Owerhede, sê hy, is nie altyd seker of hulle dit as een lig moet sien of ’n omhulsel wat eintlik ’n klomp klein liggies huisves nie. In die meeste gevalle word ’n ligstaaf geïnterpreteer as ’n klomp klein liggies in ’n langwerpige boks. Omdat jy net ses ligte voor op jou voertuig mag hê, is so ’n versameling ligte dan onwettig.

Eiseb sê wel dat die gebruik van LED-ligstawe in veldtoestande en op plase nie onwettig is nie, maar dat motoriste beboet kan word indien hulle met so ’n lig op hulle voertuie op ’n openbare pad betrap word, selfs al is die lig nie aangeskakel nie én met ’n omhulsel bedek. Tog sê hy dat dit aan die oordeel van die verkeersbeampte oorgelaat word of hy jou wel beboet of nie. “Indien jy aan die owerhede ’n geldige rede kan verskaf waarom jy die staaf op jou voertuig het, kan die beampte jou oorsien.”

Eiseb sê die konstabel mag jou dalk ook genadig wees as jou lig bedek is en dit duidelik is dat jy dit net in die veld wil gebruik. Maar, sê hy, die beste manier om ’n boete hiervoor in Namibië te vermy is om glad nie ’n ligstaaf op jou voertuig te hê as jy op openbare paaie ry nie.


En Suid-Afrika?

Alta Swanepoel, ’n Pretoriase prokureur wat spesialiseer in padverkeerswette en regsbedinging, sê LED-ligstawe is ook nie wettig op voertuie in Suid-Afrika nie. Die rede daarvoor in Suid-Afrika, sê sy, is die regulasies rondom waar jy ligte mag monteer. Alta sê dat alle ligte voor op jou voertuig op ’n gelyke afstand van ’n denkbeeldige sentrale lyn moet sit. Om hierdie lyn te verstaan, trek ’n denkbeeldige streep van bo na onder deur die embleem op jou voertuig se sierrooster. Dis die sentrale lyn en al jou ligte moet op gelyke afstande aan weerskante van hierdie lyn sit. 

Dié regulasie skep ’n probleem vir soliede LED-ligstawe, sê Alta, en heelwat ligstawe word by toetsstasies afgekeur omdat dit in een lang strook oor die middelpunt van die voorkant van ’n voertuig aangebring is.

Gewone LED-hoofligte is egter nie ’n probleem nie. Indien jou voertuig met LED-ligte uit die fabriek gekom het, is dit so deur die vervaardiger gedoen omdat dit reeds deur die SANS (die nuwe naam vir die SABS) goedgekeur is. “Oppas egter vir die ligstawe,” sê Alta. As dit nie standaard-toerusting op jou voertuig was nie, is die kans daar dat dit nog nie deur die SANS goedgekeur is nie en nie in die regulasies toegelaat word nie.

Darren Magerman, Wes-Kaapse streeksbestuurder vir Dekra Automotive, ’n maatskappy wat spesialiseer in padwaardigheidstoetse, sê ook ’n ligstaaf voor op jou voertuig is nie wettig in Suid-Afrika nie. Hy sê selfs al gebruik jy dit net vir veldry en bedek dit heeltemal wanneer jy op openbare paaie ry, kan ’n ligstaaf jou in die sop laat beland. “Al gebruik jy die lig net as jy in die veld ry, maak die blote feit dat jy dit op jou voertuig gemonteer het die voertuig onpadwaardig.”


Wat van daai spots?

Hoe meer lig jy het, hoe makliker kan jy snags in die veld ry, en heelwat 4x4-bestuurders hou van ’n paar ekstra ligte op hulle voertuie. Volgens Alta interpreteer die wet daai ekstra stel ligte voor op jou bosbreker as ’n ekstra stel hoofligte. Maak dus seker jy het nie in totaal meer as ses ligte voor op jou voertuig nie. Dié ligte mag ook nie hoër as 1.4 m van die grond af wees nie. ’n Stel ligte HID Supernova’s voor teen jou dakrak is dus uit, maak nie saak hoe mooi hulle lyk nie. 

Alta sê dis ook belangrik om te onthou dat al die ligte op jou voertuig moet werk. Dis nie goed genoeg om ekstra ligte wat jy dink dalk onwettig kan wees te ontkoppel as jy op openbare paaie ry nie. Al is jy nie van plan om hulle op openbare paaie te gebruik nie, moet jy hulle kan aan- en afskakel as die konstabel sou vra.

Laastens sê sy jou ligte mag net die kleure uitstraal wat die wet toelaat: rooi na agter en wit na voor (die nuwer ligte met ’n effense blou skynsel word ook aanvaar). Daai lig wat jy agter aan jou Landy se dak gemonteer het om die kamp te verlig wanneer julle afsaal, gaan nie deug nie. Laastens mag geen ligte op jou voertuig, behalwe die flikkerligte, flikker nie, los dus maar daai LED strobe waarmee jy Twee Rivieren in ’n nagklub wou verander. Bly liefs ook binne die Suid-Afrikaanse wette wanneer jy Namibië toe gaan. Eiseb sê die Namibiese padwette rondom ekstra hoofligte voor op ’n voertuig is presies dieselfde as dié in Suid-Afrika.


Piet van Niekerk (bestuurder van Dekra se Vanderbijlpark-tak) en Marius Schütte (streeksbestuurder van die Pretoria-streek) van Dekra Automotive, sê SANS kan ook jou voertuig vir die volgende redes afkeur ná jy ekstra ligte opgesit het:

As enige van die hoofligte nie op 150 m duidelik sigbaar is in situasies waar voetgangers en voertuie nie op dié afstand gesien kan word nie (bv. in die donker).

As enige enkele lig 75W oorskry.

As enige van die ligte gedeeltelik of heeltemal deur ’n deel van jou voertuig versteek word. Jy kan dus nie enige ligte só rondom jou sierrooster monteer dat hulle net halfpad agter jou bosbreker uitsteek nie.

As enige van jou ligte laer as 450mm of hoër as 1.4 m van die grond af is. As jy jou voertuig gelig het, sal jy dus weer moet gaan kyk of jou ligte se hoogte steeds binne die regulasies val.

Enige van jou hoofligte verder as 500mm van die voorkant van die voertuig sit, of meer as 400mm van die kant af. 

Jy meer as drie ligte aan elke kant van die denkbeeldige middellyn van jou voertuig het.

Jou hoofligte nie teen dieselfde intensiteit skyn nie.

Enige van jou ligte se lense of glas/plastiekbedekkings gebreek of selfs net los is.

Jou ekstra ligte saam met die hoofligte gekoppel is. “Ons is baie streng hierop,” sê Piet.