Die Land Cruiser Namib het ontstaan toe Calvyn Hamman, Toyota Suid-Afrika se senior visepresident van verkope en bemarking, en ’n groep vriende een aand in Namibië langs ’n kampvuur hulle ideale Cruiser uitgedink het.
Calvyn is ’n groot Land Cruiser-aanhanger (sy kollegas skerts dit is sy gunsteling-Toyota-produk) en hy’s veral lief vir die 70-reeks. Terug in Suid-Afrika, ná sy kuier in Namibië, het Calvyn opdrag gegee dat die lewensvatbaarheid vir hierdie lugkasteel-Land Cruiser ondersoek word.
Die swartgalliges sou dit dalk ydelheid noem, maar vir Calvyn was die Namib eerder ’n passieprojek. “Die Namibwoestyn het van die mees uitdagende terrein op aarde, en om hier te kan oorleef het jy die regte soort toerusting en voorbereiding nodig. Ek kondig dus met trots aan dat die spesiale weergawe van die Land Cruiser 79 slaggereed is om dié uitdagende toestande te pak,” sê Calvyn.