book-icon Uitgawe En die wenner is...

Mees bekwame 4x4 van die jaar

akkreditasie
Kyk hier watter voertuig wen Wegry as 2017 se Mees bekwame 4x4 van die jaar-kategorie.
Dis vanjaar die vyfde jaar wat WegRy sy jaarlikse 4x4 van die Jaar-kategoriewenners aanwys. Ons toekennings is anders as dít wat elders in die bedryf gedoen word en is uniek om die volgende redes:
  1. Ons neem alle voertuie in ag. In gewone Motor van die Jaar-toekennings word daar slegs gekyk na voertuie wat die vorige jaar bekend gestel is. Ons glo dis nie realisties nie, want wanneer ? koper in ? ryding belangstel, kyk hy of sy nie na die heel jongste model nie, maar na alle voertuie in ? gegewe segment, selfs dié wat twee of drie jaar tevore bekendgestel is.
  2. Ons vergelyk appels met appels. Ons dink nie dis reg om byvoorbeeld ? sedan, ? sportnutsvoertuig, ? dubbelkajuitbakkie en ? sportmotor teen mekaar te laat meeding nie, want hulle is op totaal verskillende kopers gerig. Daarom vergelyk ons byvoorbeeld bakkies met bakkies, en sportnutsvoertuie met sportnutsvoertuie.
  3. Ons neem verskeie faktore in ag. Dis een ding om ’n voertuig te bestuur. Maar wat van sy prys, toerustingvlakke, die tegnologie wat hom uniek maak, of sy betroubaarheid?
  4. Ons werk vir ons teikenmark. Ons kyk na voertuie se geskiktheid vir ons lesers en die breër Suid-Afrikaanse publiek.
  5. Ons is onafhanklik. Ons besluite word intern geneem en ons as redaksie het 100% beheer daaroor. 

Wrangler Rubicon Unlimited


Nes die Cruiser 76 Series, is die Rubicon nog ’n voertuig wat basies sy afdeling besit. Want wys ons nog ’n standaardryding met die veldryvermoëns van die Rubicon en ons wys vir jou ’n pienk, dragtige eenhoring. En nee, die Mercedes-Benz Unimog tel nie, want dis ’n vragmotor!


Ja, hy het heelwat tekortkominge. Sy hoekige vorm en dun afslaandak beteken dat wind- en padgeraas erg is as jy vinniger as 100km/h ry. En pakplek agterin is maar skraps, veral as jy vier mense met bagasie is. Maar mense koop nie ’n Wrangler Rubicon Unlimited om ’n Katolieke gesin teerpadlangs van Gauteng tot in die Kaap te vervoer nie. Hulle koop ’n Rubicon om bo-oor amper enige hindernis te ry.

Kom ons begin by sy enjin. Sy 3,6 liter-Pentastar-V6 petrolenjin ontwikkel 209kW en 353Nm. Ja dit het dalk nie soveel wringkrag soos die meeste turbodiesels nie, maar hier is die ding: petrolenjins se wringkragkurwe is baie liniêr. En met ’n enjin soos hierdie, gekombineer met sy baie lae laestrekverhouding van 4,1:1, beteken dit dat jy in eersterat, laestrek, basies bo-oor enigiets kan luier en klein versnellerinsette kan maak, sonder dat die wiele tol.

Net vir perspektief, die Cruiser 76 se laestrekverhouding is 2,488:1 – wat min of meer dieselfde is as dié van die meeste dubbelkajuite. Die Rubicon s’n is dus regtig laag.

Ander meganiese truuks is die teenrolstawe (sway bars) wat jy met die druk van ’n knoppie kan ontkoppel, asook twee meganiese ewenaarslotte. 
Tot dusver was die enigste nadeel dat die Rubicon nie te kry is met ’n dieselenjin nie. Wel, wanneer die nuwe Wrangler in 2018 plaaslik bekend gestel gaan word, gaan daardie tekortkoming reggestel word. Maar intussen bly die petrolaangedrewe Wrangler Rubicon ’n bleddie goeie veldryer.

Die Rubicon het plaaslik, nes in soveel ander markte, ook begin om ’n subkultuur te vorm, waarin van die mees fantastiese veldry-gerigte ombouings van hulle gedoen word. Die feit dat daar soveel veldry-onderdele spesifiek vir hierdie doel in die mark beskikbaar is, is ’n verdere bewys van presies hoe gefokus die Wrangler – en spesifiek die Rubicon – op ernstige veldry is.


* Onthou: Hierdie is 'n lys van wat ons dink die beste voertuie in hulle onderskeie segmente is. Dit beteken nie dat die ander voertuie in hierdie segmente gemors is nie. In sommige segmente – en hier dink ons veral aan dubbelkajuitbakkies – is die verskil 'n polonieskildikte (tydens 'n depressie en 'n droogte) en moes ons hare kloof om 'n wenner aan te wys.

Hou ons webwerf en Facebook-blad dop vir die ander segmente se wenners.