Daar is sekere dinge wat ’n mens dadelik wil ervaar wanneer jy in ’n luukse sportnutsvoertuig soos die Mitsubishi Pajero Sport klim. Jy wil gemaklik sit, en dit moet voel asof als van rathefboom tot flikkerligarmpie gemonteer is met jóú in gedagte. In die kajuit moet dinge stylvol lyk en goed afgewerk wees.
Die stikwerk van die Pajero Sport-stuurwiel se leeroortreksel voel dadelik goed onder jou palms. Die groot raakskerm lê netjies weggesink in die kontrolepaneel – nie asof dit later aangeplak is nie – en jou foon verbind sonder moeite.
Die Pajero Sport doen al dié dinge reg, en gee dan boonop vir jou ’n goeie skoot woema wanneer jy op die snelweg klim, want die 2.4 l-dieselenjin praat met groot sekerheid (maar sonder ’n geskal) wanneer jy die pedaal trap.