Die dae toe mense hulle neus meerderwaardig sou optrek vir ’n voertuig uit Indië of China, behoort lank verby te wees. Deesdae bied motors uit dié lande uitstekende waarde vir geld, met goeie bougehalte, omvattende waarborge en al die tegnologiese katoeters wat ’n mens van Amerikaanse, Europese of Japanese vervaardigers verwag.
Boonop is van hierdie motors uiters geskik vir ons Suid-Afrikaanse toestande, soos die splinternuwe Mahindra Scorpio-N wat vroeg in 2023 plaaslik bekend gestel is. Die duurste model kos R590 000, en dit is ’n behoorlike 4x4 met ’n leerraam-onderstel, sesspoed- outomatiese laestrekratkas en ’n meganiese ewenaarslot.
Ons het die Klein-Tafelberg-4x4-roete naby Redelinghuys in die Sandveld met die nuwe Mahindra gaan ry. Met die bande afgeblaas het die Scorpio-N sonder enige noemenswaardige gesukkel die sanderige roete tot bo-op die berg en die klipperige tweespoor af baasgeraak.