book-icon Uitgawe En die wenner is...

Sagte veldryer van die jaar

akkreditasie

In die vorige jare het ons 'n interessante paar wenners in hierdie kategorie gehad. Ons dink byvoorbeeld aan die Range Rover Evoque en Land Rover Discovery Sport. Maar so goed soos wat hierdie voertuie is, is hulle ook vrekduur. En in die huidige ekonomiese klimaat raak dit al hoe moeiliker om sulke voertuie as ’n wenner in ’n segment aan te wys, want ’n mens wil graag relevante keuses maak.

Hoewel rygoed soos dié nie regtig gemaak is om in die veld mee te ry nie, is dit tog vir ons belangrik dat hulle enige grondpad met gemak kan hanteer. En baie sogenaamde sportnutsvoertuie het bande van 18 duim en groter – en dis iets wat hulle baie kwesbaar maak vir bandskade.

Een voertuig wat egter regmerke by al die regte boksies kry, is Nissan se X-Trail. As jy die nuwe X-Trail langs een van sy hoekige voorsate gaan staanmaak, sal jy agterkom hoeveel die reeks vooruitgeboer het in terme van stilering.

Ons is veral beïndruk met die 1.6 dCi SE AWD-model. Nie het het hy 17 duim-wiele nie, maar het hy ook ’n verrassend goeie grondvryhoogte van 209mm. Nee, sy nader- en vertrekhoek is nie van só ’n aard dat jy die Namib se duine kan platstorm nie, maar met ’n pens wat op daardie relatief hoë hoogte staan, behoort geen grondpad of redelike paadjie jou sommer te kan stuit nie, veral nie as jy die regte bande opsit en jou gesonde verstand gebruik nie.

Die ander voertuig wat ons gevoel het ’n sterk mededinger is, is die Toyota RAV4 2.2D GX handrat. Hulle is nogal na aan mekaar met spesifikasies, met die Toyota-enjin wat ’n kortkop voorloop: 110kW en 340Nm, teenoor 96kW en 320Nm. As jy kyk na brandstofverbruik, maak Toyota aanspraak op 5,6liter/100km en Nissan op 5,3liter/100km.

Maar die RAV4 se lae grondvryhoogte van 187mm tel weer teen hom. Boonop kos die Toyota R459 000, teenoor die R436 900 van die Nissan.

Die Nissan wen ook met klein bietjie meer luukses. Waar die intreevlak-RAV4 se stuurwiel en ratkierie van kaal plastiek is, is die Nissan s’n met leer oorgetrek.

Hoe sê hulle nou weer?Jy kan met ’n Nissan.” Veral as dit ’n X-Trail is.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan