Só jol jy in ’n Jimny

akkreditasie
Die Suzuki Jimny is nie sommer vandag se kind nie. Dié vierkantige motortjie het al in April 1970 sy eerste verskyning gemaak, en ons trek nou al by die vierde weergawe van die ikoniese 4x4.

As ’n mens regtig wil verstaan hoekom Jimny-eienaars so gaande is oor hul motors, moet jy dit eintlik op ’n grondpad-avontuur neem – soos wat ons onlangs deur die Noord-Kaap gedoen het.

Maak net seker jy neem jou kamera saam, want van die mooiste landskappe in ons land kruip hier teen die Oranjerivier weg.

Sedert die die nuutste Jimny in 2018 in in Suid-Afrika bekendgestel is, het die vraag na hierdie ougat en bekwame 4x4 die aanbod vêr oorskry.

Om dié probleem op te los het Suzuki in 2021 die montering van Jimnys wat vir Suid-Afrika en ander Afrika-lande bestem is, van Japan na Indië verskuif.

Dit behoort nou makliker te wees om ’n nuwe een te koop, en Suzuki Suid-Afrika het intussen ook die GL – ’n nuwe model wat tussen die intreevlak-GA en die GLX-topmodel sal inskuif – bekendgestel.

Die GL sal met ’n hand- sowel as ’n outomatiese ratkas beskikbaar wees. Hoewel die montering nou in Indië plaasvind, word al die komponente steeds in Japan vervaardig.

Ons eerste rit in die nuwe “Indiese Jimnys” het amptelik by die Pofadder Hotel begin, waar ons onder ’n lekker vet reënwolk-kombers ons toerleier, JJ du Toit van African Expeditions, en ’n handvol ander joernaliste ontmoet het. Saam sou ons vir die volgende vier dae ’n “Suzuki Avontuur” deur die Noord-Kaap beleef.

Toe ons ná middagete noordwes mik, het die reën begin opklaar, en teen die tyd dat ons op Pella voor die Rooms-Katolieke Kerk stop, het die son weer geskyn.

Bouwerk aan die kerk is in 1814 deur die Londense Sendinggenootskap begin. Hoewel dit later jare vir byna 100 jaar leeg gestaan het, het die Katolieke Kerk dit in 1978 weer laat herleef.

Een van die plaaslike nonne, sr. Johanna Katrina, het ons op ’n vinnige toer deur die merkwaardige kerk geneem. Sy het vertel dat die twee eerste bouers, die sendelinge Jean Marie Simon en Leo Wolf, se enigste “bouplanne” ’n prentjie van ’n kerk in ’n ensiklopedie was.

Dit het hulle sewe jaar geneem om die kerk klaar te bou. Al die bakstene is plaaslik vervaardig, die kalksteen moes per ossewa 160 km ver aangery word en die water het van ’n plaaslike fontein gekom.

Slegs die altaar is van Europa af ingevoer.

Net buite Pella, voor ons noordwaarts mik, verlaag ons eers die banddruk na 0,8 bar.

Ons klim nou stadig die kort, steil Charlespas uit, diep die ruwe rooi berge in.

Die Jimny is in sy element. Ons het nou al oorgeskakel na 4x4, en hier en daar span ons selfs die laestrekratkas in.

Net ná die Charlespas ry ons die Bobbejaanspieëlpas, ’n uitdagende klim na ’n verlate mika-myn.

Hier moet jy jou ry ken, veral as jy nie die sywand van een van die 15-duim bande wil sny op skerp stukke leiklip wat langs die pad soos lemme lê en loer vir jou nie.

Die ligte Jimny (die motor weeg skaars meer as ’n ton) klim egter die pas uit soos ’n honger bergbok wat daar doer bo ’n polletjie gras gewaar het.

In die verte onder ons lê die Oranjerivier, die groen strook plantegroei aan sy oewers basuin die nuus dat hier water is. Maar oral om dit, en om ons, lyk dit asof ons op ’n bergagtige deel van Mars geland het.

Met die rivier al aan ons regterkant, kronkel die pad nou Klein Pella toe. Af en toe sien ons verlate “staninkies”, eens die tuistes van Nama-herders wat die lewe hier vir ’n dorpsbestaan verruil het.

Beddens staan by party op die voorstoep, ’n teken dat hier nog ’n herder woon wat verkies om op warm somersaande steeds buite te slaap.

Een so ’n man is Adam Basson, ’n stoere Bloubul-ondersteuner wie se staning knus teen die pad lê.

Ons stop om te groet en gesels. Adam dring daarop aan om eers sy rugbytrui te gaan aantrek voor ons foto’s mag neem.

Die woestynlandskap rondom Klein Pella is ideale wêreld vir dadels, en hier is die Karsten Boerdery die grootste van sy soort in die Suidelike Halfrond.

Die reuse dadelbome staan in hul honderde in netjiese gelid – in massiewe plantasies wat soos groen oasisse tussen die berge skuil.

Die plaas is veral bekend vir sy Medjool-dadels wat meesal uitgevoer word, veral na Israel en ander lande in die Midde-Ooste.

Ons slaap die aand in ’n glanskamp wat African Expeditions vir ons in ’n kloof so ’n paar kilometer vanaf die dadelplantasies oprig. Ons sit tot laataand rondom die kampvuur, ’n sterrekombers bo ons kop, en deel ons stories van die dag.

Tussendeur smul ons aan die feesmaal wat JJ se span op die kole voorberei het, en luister na sy stories oor hierdie besonderse deel van die land.

Die volgende oggend, ná ’n kampontbyt en koffie, is ons terug in die Jimnys.

Ons mik nou na Springbok, grondpad langs verby ’n kokerboomwoud waar die bome soos wesens uit die buitenste ruimte op aandag staan, en waar versamelvoëls reuse neste in die doringbome en op telefoonpale bou.

Die ent wat ons dan op die N14 se teer Springbok toe moet ry, voel vreemd. ’n Mens verlang vinnig terug na die rustige gedruis van ’n grondpad.

Die dorp is woelig wanneer ons hom op ’n Vrydagmiddag binnery, maar ons is net hier om die Jimny met petrol vol te maak. Ons is eintlik op pad kus toe, in Kleinsee se rigting oor die Komaggasberge via die Spektakelpas.

Die Jimny is op sy lekkerste op grond- en sandpaaie, en ons draai anderkant Komaggas af op ’n tweespoorpad wat deur ’n akasiawoud vleg.

Nou voel dit weer asof ons in die Kalahari is, met die doringbome wat oor ’n rooi sandvlakte gesaai lê.

Só suiker ons rustig aan tot by Die Houthoop Gasteplaas naby Kleinsee waar ons die volgende twee aande gaan slaap.

Die plaas word besit deur Veronica en Willem van Dyk, en Die Houthoop kry sy naam van ’n stapel stokou wildevyhout wat in die vorm van ’n boma gepak is.

Sedert 1998 word die boma gebruik vir buitelugetes en onthale, en dit het oor die jare ontwikkel tot ’n volledige gasteplaas vir mense wat die Diamantkus wil besoek.

Een van die groot trekpleisters in dié wêreld is die Noord-Kaap se eie skeepswrakroete, wat ons op ons derde dag verken.

Ons volg vir JJ tot die begin van die roete naby Noup, en van hier ry ons noord, kuslangs al met ’n sand tweespoorpad waar ons eerste by die Piratiny stop.

Die 5 000-ton Brasiliaanse stoomskip het in Junie 1943 in ’n storm by Skulppunt, sowat 32 km noord van Hondeklipbaai, op die rotse beland. Die Piratiny was onderweg na Kaapstad, en volgens legende het ’n Duitse duikboot haar gesink.

Volgens JJ was daar geen lewensverlies nie, en kon driekwart van haar vrag gered word. Die res van die vrag, wat materiaal ingesluit het, het nog weke daarna uitgespoel, tot die vreugde van die plaaslike inwoners wat dit op die strand kom optel het.

’n Paar kilometer verder stop ons by die Border, nog ’n slagoffer van die stormweer aan hierdie wilde kus.

Die Border het op 1 April 1947 naby Naaspunt, net suid van Kleinsee op die rotse geloop. Byna 200 ton se brandstof, plofstof en ander vrag, alles bestem vir die Namakwalanse kopermyne, was aanboord.

Dit is alles sorgvuldig afgelaai en toe met donkiewaens 2 km verder na die naaste pad vervoer.

Die skip self kon nie gered word nie, en is gelos om nog ’n geroeste geraamte te word.

Dis nie net skepe wat hier gelos is om te vergaan nie. Ons mik land in en stop by ’n bouval in die middel van die sandveld.

Dis “Die Kliphuis” wat in 1926 deur die boer Jan Kotze op die plaas Zwart Duine gebou is. Kotze het later spoorloos verdwyn, en die Agenbach-gesin het in 1931 hul intrek geneem.

Maar hulle is ook deur tragedie getref toe van die dogters op ’n dag saam met ’n plaaswerker bolle op ’n nabygeleë heuweltjie uitgegrawe het.

Een van die meisies het ’n giftige bol geeët, en sy is oorlede voor die gesin haar by die dokter op Springbok kon kry.

Die familie het weggetrek en die huis staan sedertdien leeg.

Toe die son begin water trek, mik ons met die Jimnys na die rooiduine op Die Houthoop Gasteplaas om ons sandduin-ryvermoëns te toets. Dis soveel pret dat my begeerte om ’n Jimny van my eie te koop, al hoe sterker word.

Dis al donker toe ons terugry Boma toe, waar ’n seekos-feesmaal vir ons wag wat inwonende kok, Jackie Moolman, voorberei het.

Op ons laaste dag ry ons ’n wye draai deur die Namakwa Nasionale Park. Dié deel van die land is welbekend vir sy blomme-skouspel in die lente.

Ons ry stadig oor die 120-jaar oue Wilde Perdehoekpas, vernoem na die wilde perde wat vandag nou hier hou.

Dit word ook die Bandietpas genoem oor ’n ou tronk wat hier gebou is. Die ruïne onder in die vallei kan is vandag nog vanaf die pad sigbaar.

Ons laaste grondpadpas is die skouspelagtige Messelpadpas, wat vanaf 1867 tot 1869 gebou is.

Die noukeurige bousteenwerk aan die muurtjies aan die kant van die pad het die pas sy naam gegee, en by plekke herinner dit ’n mens aan die veel meer beroemde Swartbergpas tussen Prins Albert en Oudtshoorn.

Die grondpad eindig teen die N7, waar een deel van ons toergroep links draai na Springbok.

Ons mik regs, op die lang pad na Kaapstad.

Dit gee ons gedagtes die tyd om te maal oor alles wat ons die afgelope paar dae in die Noord-Kaap ervaar het.

En uiteindelik laat dit ons met ’n nuwe waardering vir die Jimny en sy buitengewone vermoëns.

SUZUKI JIMNY GLX 4X4 MT

Enjin 1 462 cc petrol

Krag 75 kW @ 6 000 rpm

Wringkrag 130 Nm @ 4 000 rpm

Ratkas vyfspoed-handrat

Brandstofverbruik (beweer) 6,3 l/100 km

Grondvryehoogte 210 mm               

Waarborg 5 jaar/200 000 km

Diensplan 4 jaar/60 000 km

Diensintervalle 15 000 km

Prys R356 900

Ons het saamgereis op uitnodiging van Suzuki Suid-Afrika. Kontak JJ du Toit van African Expeditions by 084 874 7388 oor die toere wat sy maatskappy in dié dele van die Noord-Kaap aanbied.