Só sleep jy kommervry

akkreditasie
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Uit die argief: Swak padoppervlakke of nukkerige dwarswinde kry gou die skuld wanneer jou wa begin swaai, maar dit is nie noodwendig die enigste redes nie. ’n Paar ander faktore speel dikwels ook ’n rol – faktore wat jy kan beheer.

Al het jy alles al honderd keer tevore nagegaan, en al sleep jy al van die dae toe petrol nog R2 per liter was, kan jy dié 13 dinge maar gerus weer doen – elke keer voor jy sleep. Jy sal veiliger reis, en wanneer jy by die kampplek aankom, sal jy meer energie hê vir die tentopslanery en touchies saam met die kinders.

1. Haak ’n pasmaat

Die belangrikste faktor is waarskynlik jou sleepkombinasie: Waarmee sleep jy en wat sleep jy daarmee? 

Die BVM – totale massa van die woonwa wanneer dit gelaai is – moet minder wees as die sleepvoertuig se tarra (die massa sonder ’n vrag).

Die sleepvoertuig se asafstand is ook ’n oorweging. Voertuie met ’n langer as-afstand sleep amper altyd meer stabiel.

2. Ry stadiger

In Europa is die spoedgrens vir ’n voertuig wat ’n woonwa sleep, 80 km/h, en met rede. Wanneer ’n voertuig iets sleep, kan baie meer dinge skeef loop. Goed, jy wil nie heeldag op die pad wees nie, maar kom eerder ’n uur later by jou bestemming aan as glad nie. Probeer dus om nooit vinniger as 100 km/h te sleep nie. Die rit is immers deel van die vakansie, of hoe?

3. Banddruk

Banddruk speel ’n groot rol in jou sleepkombinasie se stabiliteit. As ’n reël is dit beter om met stywe bande te sleep: Hoe stywer die bande, hoe minder “wieg” die bandwande en hoe kleiner is die kans dat die voertuig of woonwa oor die pad sal begin swaai.

Veral die banddruk van die sleepvoertuig se agterwiele is belangrik. Kyk watter banddruk jou voertuig se vervaardiger vir ’n swaar vrag aanbeveel en pomp dit daarvolgens, of selfs ’n bietjie stywer. Onthou, as jy op grondpad sleep, moet jy die bande weer effens afblaas en ’n bietjie stadiger ry.

Elke band se maksimumdruk word op sy wand aangedui. Hou dit in gedagte wanneer jy vir jou woonwa of sleepvoertuig nuwe tekkies aanskaf.

4. Laaigewig

Sorg dat die gewig eweredig in die woonwa versprei is: nie te veel vrag bo een van die wiele nie, en nie te veel agterin nie. As jy verkeerd pak, maak dit die woonwa minder stabiel.

As daar vars water by jou bestemming is, los die watertenk leeg. ’n Vol tenk is net ’n onnodige vrag. As jy noodgedwonge water saamry, ry stadig. Maak die tenks tot bo vol, want die water in ’n halfvol tenk skommel baie rond. (Gelukkig het die meeste watertenks deesdae dempers wat die water se beweging beperk.)

5. Sleephaak

Kyk ’n bietjie of jou sleepstang te hoog of laag sit. Wanneer jy die woonwa gehaak het, moet hy waterpas staan, met sy neus nie meer as ’n duim laer nie. 

Die SABS beveel aan die sleepstang se bal moet tussen 350 mm en 465 mm van die grond af wees. As jou sleepstang hoër as dit sit, haal die stang af en monteer ’n sakplaat op die voertuig. ’n Mens kry sakplate met vier gate en ander met ses – vra ’n handelaar om te kyk watter een die beste vir jou motor gaan werk.

6. Syspieëls

Sleepspieëls is nie verpligtend nie. Die wet bepaal slegs dat jy goed genoeg agter die woonwa moet kan sien. Dit is beslis die moeite werd om ’n stel spieëls aan te skaf. Stel hulle só dat jy aan weerskante die woonwa se agterste hoek kan sien.

7. Stabiliseerder

Daar is talle stabiliseerders op die mark. Skaf eerder een aan. Dit gee jou meer gemoedsrus en keer dat die woonwa sy stert soos ’n opgewonde skaaphond swaai wanneer jy sleep.

8. Stop só

Moenie sommer anker gooi wanneer jou woonwa begin stertswaai nie. Dit is veiliger om eerder jou voet van die versneller af te lig en die voertuig reguit op die pad te probeer stuur. Dit behoort die woonwa weer onder beheer te bring. As jou voertuig sluitweerremme (ABS) het, kan jy die remme liggies trap en los. Moenie oor ’n kort afstand tot stilstand probeer rem nie.

9. Sporing

Laat versien jou woonwa gereeld en maak seker die remstelsel werk behoorlik. Kyk of die as – of asse – nog haaks is, en nie beskadig nie. Ná ’n rit op ’n slegte pad met slaggate kan die sporing van die asse uitgestamp wees. Jy sal dit nie sommer maklik op ’n woonwa met ’n dubbele as voel nie, maar dit belemmer tog jou kombinasie se stabiliteit.

10. Werk alles daar agter?

Maak seker die woonwa se agterligte werk saam met die sleepvoertuig s’n. Dis onwettig om sonder werkende ligte in die pad te val.

11. Die stang moenie roer nie

Pasop vir verwyderbare sleepstange. Hulle het dikwels speling wat die sleepbal laat rondwikkel. Hoewel dié beweging gering lyk, het dit ’n veel groter uitwerking na die agterkant van die kombinasie toe en kan dit die woonwa laat swaai. Soms sit ’n sleepstang se bal boonop op ’n verlenging ’n entjie weg van die motor om plek te maak vir die noodwiel agterop. Dit kan die beweging op die woonwa vererger.

12. Bly by met dienste

Jou sleepvoertuig se vellings en bande moet ook gereeld nagegaan en gebalanseer word. Toets die wielsporing voor elke sleepvakansie en kyk of die skokbrekers nog in ’n goeie toestand is. Oorweeg dit om ekstra skokbrekers te installeer as jou sleepkombinasie nie stabiel voel nie. Jy kan die kronkelvere met lugsakkies versterk. Dit is so groot soos ’n koeldrankblikkie en pas knus binne-in die veer.