book-icon Uitgawe Desember 2017

My wiele: Voor in die koor

akkreditasie
Uit die argief: Peter se Land Rover Defender was al reg oor die land, Hennie se ou Hilux is ’n kanniedood, en Frank se Pajero het hom nog nooit in die steek gelaat nie.

Gewillige Engelsman

2013 Land Rover Defender 110

Dié model word nie meer vervaardig nie en daarom is die herinneringe aan al die plekke wat hy al met sy Defender besoek het, soveel meer spesiaal, sê Peter Field van Saldanhabaai.

"Ek het die Toyota Land Cruiser sterk oorweeg toe ek in die mark was vir ’n nuwe 4x4-voertuig. Ek was op soek na iets wat veelsydig én groot genoeg is vir al ons kamptoerusting. Die ding wat uiteindelik vir my die deurslag gegee het, was die Land Rover se uitstekende laestrekvermoë en veral sy bekwaamheid op sagte sandpaaie.

Ek het myne nuut vir R413 000 gekoop en haar genoem na my oorlede ma, Hilda. Met die Defender se veldryvermoë skort nie veel nie, en al waarmee ek haar in dié verband toegerus het, is ’n stel Maxxis Big Horn-bande, opgegradeerde vering en glystawe. Ek ry ook ’n hoogligdomkrag, ARB-kompressor en graaf saam ingeval ons êrens vasval.

Die res van die toerusting is net om ons veldry-ervarings gemakliker te maak – dis nou die vier Hella-kolligte op die dakrak, die laaistelsel, watertenk, langafstandbrandstoftenk, vrieskas en dubbelbatterystelsel. Daar was nog nie enige ernstige meganiese probleme nie, behalwe dat ek die oordragratkas moes vervang. Ons sleep ’n Bush Lapa Boskriek-boswa.

Met hom op die haak kry ek gemiddeld 15 l/100 km by die vulstasie. Ons het al die Krugerwildtuin, Kgalagadi en Richtersveld besoek, en ons is al oor verskeie bergpasse, waaronder die Rooiberg-, Huisrivier-, Vanrhynsdorp- en Robinsonspas.Ons gunstelingbestemming is die Kwass se Baai-kampterrein in die Namakwa- nasionale park.

’n Mens het ’n 4x4 nodig om daar te kom en daar’s geen selfoonsein nie. Daar is ook nie ablusieblokke nie en ’n mens moet puttoilette gebruik. Jy gaan speel in die rotspoele en dit is só stil die eekhorings speel sommer voor jou staanplek."

’n Wenkominasie

2000 Toyota Hilux 2.7 (dubbelkajuit)

Hulle het laaste klompie dekades al veskeie sleepkombinasies gehad, en álmal van hulle was ’n Toyota en Jurgens, vertel Henni en Rina Verster van Moorreesburg.

"Ons het as pasgetroudes die eerste keer gaan kamp met ’n 1970 Jurgens 440 wat ons met ’n 1973 Toyota Corona Mk. 2 gesleep het. Ons het by Hartenbos gaan kamp en ons staanplek was op die terras naby die kafee.

Daarna gradeer ons op en kry vir ons ’n 1993 Toyota Hilux 2.4 D (enkelkajuit) en ’n 1986 Jurgens Fleetline L om ons kampvakansies met twee klein kinders effens gemakliker te maak.

Ná baie jare se wonderlike kampervarings besoek ons De Bakke Santos op Mosselbaai die eerste keer in 1998. Sedertdien het ons al 19 keer daar gaan kamp, elke keer in die Desembervakansie. In 2005 koop ons ’n 2000-model Toyota Hilux 2.7-dubbelkajuitbakkie met 45 000 km op die klok en gebruik hom om ons 2004 Jurgens Penta te sleep.

Ons hou veral van die groot tent – sy uitleg gee al die ruimte wat ons nodig het wanneer die kleinkinders saam kom kamp. Die Hilux is betroubaar en sterk, en hy sukkel nie om die Penta te sleep nie. Ek gebruik wel ’n Trapezium-stabiliseerder vir gemoedsrus. Ek sleep selde vinniger as 110 km/h en hou in vierde rat omdat ek glo dis sleg vir die ratkas om só hard te werk in vyfde. Wanneer ons sleep, staan die brandstofverbruik op 16 l/100 km; andersins is dit in die omgewing van 13 l/100 km.

Ek weet daar is ’n klomp nuwer voertuie wat baie moderner is, en gewilder onder slepers – soos die Volkswagen Amarok, Ford Ranger en Nissan Navara, maar die Hilux staan nie vir een van hulle terug nie en hy kos ’n fraksie van die prys. Ons s’n het nou al 260 000 km op die klok en buiten algemene onderhoud en die kere wat hy gediens is, moes ons nog geen werk aan hom laat doen nie."

Sterk en sonder fieterjasies

1999 Mitsubishi Pajero 2.8 LWB

Die Pajero was nét wat hy en sy gesin nodig gehad het, en in 13 jaar het hy hulle nog nooit in die steek gelaat nie, sê Frank Smith van Port Elizabeth.

"Ons het vier jaar met ’n 1995 Isuzu KB 280 DT-dubbelkajuitbakkie oor die weg gekom, maar toe ons twee seuns deur die soveelste groeifase gaan, het ons besef die agterste beenspasie raak te skraps.

Ons moes ’n ander ryding aanskaf en ek was op soek na iets wat gemaklik ry, nie te dors is nie, maklik onderhou kan word en betroubaar is. Ons het ’n Land Rover Defender oorweeg, maar nadat ons die Pajero vir ’n toetsrit geneem het, was ek oortuig dis die voertuig vir ons. Ek is ’n lang ou en die Defender het nie so baie binneruimte soos die Pajero nie.

Ons het R185 000 betaal om die derde eienaars te word van ’n motor met 89 000 km op die klok. Hoewel sy enjin seker nie vergelyk kan word met wat deesdae op die mark beskikbaar is nie, is die Pajero steeds op peil met die meer moderne rygoed as dit by veldry kom. Sy Super Select-ratkas maak korte mette van die diep en sagte sand by Mabuasehube en Savuti.

Een slag het ek wel in dik modder in die Chobe vasgeval. As ek nou êrens R10 000 kon afknyp sou ek sy vering laat opgradeer. Ná 13 jaar se grondpad- en veldry het die agterdeur ook begin rattle, selfs nadat ek al hoeveel keer daarna laat kyk het.

Maar buiten dit het die Pajero ons nog nie in die steek gelaat nie. Ongeveer 60 000 km terug het ek die inspuiters, tydreëlketting en gloeiproppe vervang, bloot as ’n voorsorgmaatreël.Op die ooppad gee hy ons ’n billike 12,5 l/100 km, maar as ons eers die dakrak met twee weke se voorraad gelaai het, klim hy vinnig tot by 16 l/100 km.

Ons het al soveel pragtige bestemmings besoek – van die Karoo en die Krugerwildtuin tot die Richtersveld en Mabuasehube. Die beste bly egter Savuti of Chobe. Die pragtige natuurskoon, massas wilde diere en die uitsonderlike sonsondergange lok ons telkens terug."

Hoe lyk jóú wiele?
Stuur ’n e-pos na rysleep@weg.co.za en vertel ons van jou ry- en sleepding.