Kom beleef Noord-Kaapse gasvryheid op die kokerboomroete

akkreditasie
GEBORG: Beleef gasvryheid soos nêrens anders in Suid-Afrika nie. Kom ry die Kokerboomroete in die omgeing van Kakamas, Upington, Augrabies en Keimoes.

Die grondpad kronkel tussen digte bosse en raak ál nouer totdat ons skielik voor ’n hek te staan kom. Bot toe.

Dis ’n afstandbeheerde hek, maar daar is niemand wat dit beman nie en geen bord met ’n plaasnaam of nommer waarheen ons kan skakel nie. Ons is vas.

Ons het die oggend vroeg uit Kaapstad vertrek vir ons reis op die Kokerboomroete en is op pad na Khamkirri, ’n vakansieoord net buite Kakamas.

Die Kokerboom-kos-en-wynroete is ’n pad wat toerisme in dié deel van die Noord-Kaap bevorder. Volgens Maxi Compion, ’n toerismekampvegter van die omgewing, het die roete in 2008 ontstaan toe sy en Marina Bothma van die Koms-kwekery op Keimoes, gewonder het hoe hulle besoekers na die streek kan lok. Hulle het rolspelers van die omgewing met die Noord-Kaapse Toerisme-owerheid verbind en met dié roete vorendag gekom.

Die Kokerboomroete is ’n pad wat toerisme na die streek rondom Kakamas lok.

Die roete sluit die hele gebied wes van Upington in, deur Kanoneiland, Keimoes, Kakamas, Riemvasmaak en op tot by die Augrabies-waterval.

’n Deel van hierdie streek staan as die Groen Kalahari bekend. Jy kan die roete vanuit enige rigting aanpak – dis nie ’n pad wat van punt A na punt B afgelê hoef te word nie en daar is nie ’n volgorde waarin jy die dorpe moet besoek nie.

Ons het dus besluit om sentraal te bly en elke dag in ’n ander rigting te ry.

Werner tot die redding

Die moedswillige GPS het ons ongelukkig kort voor donker laat koeksny oor die Eiland. Ons was duidelik op iemand se privaat grond.

As ons nóú moet omdraai, gaan ons in die donker weer ons pad deur die doolhof moet soek en eers ná donker by Khamkirri uitkom.

Ek bel vir Werner Bouwer, die knap bestuurder vir Khamkirri, wat deur die loop van die dag al geskakel het om te hoor of ons regkom.

Werner vra ’n paar vrae om uit te werk presies waar ons staan, en sê ons ons moet ’n oomblik vasbyt. Hy sal kyk wat hy kan doen.

Minder as ’n minuut later swaai die hek van die boer se plaas oop sodat ons ’n laaste kortpad oor die plaas kan neem.

Khamkirri is ’n heerlike oord wat aan die oewer van die Oranjerivier aangelê is.

Die houthuise is taamlik luuks en goed ingerig met breekgoed, beddegoed, braaitoerusting en lugverkoeling, en bied elkeen ’n pragtige uitsig oor die Oranjerivier.

Kampeerders kan kies tussen privaat staanplekke (wat elkeen sy eie badkamer het) of gewone staanplekke wat ablusiegeriewe deel, of luukse “glamping”.

Die staanplekke is almal op gras en onder bome, en naby aan die swembad en opelug kroeg en restaurant.

Ons het spesifiek op Khamkirri besluit vir verblyf omdat dit 25 km uit is op die N10, die pad na Riemvasmaak, wat ons graag wil besoek.

Ons wou eers op die een dag Riemvasmaak én Augrabies besoek, maar Werner het ons afgeraai. Dit sal net beteken dat ons albei afjaag.

Riemvasmaak

Ons ry dus ná ontbyt by Khamkirri uit met ons swembroeke, breërandhoede en sonblok na Riemvasmaak, die tuiste van ’n natuurlike warmwaterbron in die hartjie van die streek.

Ons is verstom oor hoe die landskap om ons verander om toenemend soos dié van ’n maanlandskap te lyk.

Die rotse raak al hoe groter en die pad klipperige. ’n Paar keer hou ons stil om te kyk of die GPS ons nie weer ’n rat voor die oë draai nie, maar nee. Hier is die ingang oplaas na Riemvasmaak.

“Nee wat, julle voertuig sal dit maak,” stel Henry Basson ons gerus. Ons het stilgehou by die hek om ons toegangsgeld (R40 per persoon) te betaal, maar my suster wil koue voete kry.

Dis haar sportnutsvoertuig wat die steilte sal moet af én weer op. Ek loop eers ’n ent om te kyk hoe die pad lyk, maar besluit ek stem saam met Henry, ons kan dit waag.

Aan die onderkant van die pad tussen die 80 meter hoë granietkanse sit een van daardie dinge wat jy nie kan glo jy beleef nie.

Hier, in die middel van die niks, is daar ’n kristalhelder poel met warm water wat uit die aarde opborrel.

Die hele ervaring en omgewing is onopgesmuk. Ons sit eers in die swembadjie, en hou daarna piekniek by die piekniekplek.

Henry kom gesels met ons oor die gemeenskapsprojek wat Riemvasmaak bestuur, en wys ons die interessante rotse wat hulle in die omgewing optel.

Riemvasmaak kry glo sy naam van ’n voorval in die vroeë 1900’s, toe van die plaaslike inwoners veediewe aangekeer en hulle oornag met rieme aan ’n reuse-rotsblok langs die Molopo vasgemaak het.

Toe hulle die volgende oggend terugkeer na die diewe, was slegs die rieme nog daar.

Onder in die kloof is daar ook selfsorghuise (4- en 8-bed-chalets) wat as deel van ’n gemeenskapsprojek bestuur word, maar met ons besoek het hulle nie besprekings aanvaar nie.

As jy vir die naweek oorbly, is daar ’n staproete na antieke rotstekeninge in die omgewing.

Die aand neem Werner ons uit op ’n sonsondergang-bootrit op die Oranje. Khamkirri kan ook vir jou kanoritte reël of vlotvaarte op die Oranje, of ’n safaririt met ’n skemerkelkpiekniek.

Ons het lus vir die bootvaart. Hy wys ons verskeie voëlneste terwyl ons aan ons drankies teug en kyk hoe die son skouspelagtig oor die horison verdwyn.

Ek kan nie glo dat meer mense nie Kakamas toe kom vir die vakansie.

Die Pienk Padstal en Augrabies

Die volgende dag ry ons uit in Augrabies se rigting. Augrabies is 40 km wes van Kakamas. Op pad soontoe hou ons stil by die Pienk Padstal op die dorp vir ontbyt.

Ek kry ook daar ’n paar lekkerleesboeke in die boekwinkel, en ons laai twee sakke rooskwarts in vir ons rotstuin by die huis.

Maak gerus ook ’n draai by Die Mas, waar jy wyn en brandewyn kan proe. Die Mas bied ook selfsorgverblyf en kampeerplekke wat lekker sentraal geleë is.

As jy wil sien hoe die magtige Oranjerivier soos ’n mes deur die rotsagtige maanlandskap sny, sal Augrabies jou mond laat oophang. Augrabies is meer as net ’n waterval, dis ’n nasionale park wat deur Sanparke bestuur word en strek oor meer as 50 000 hektaar.

Die ikoniese foto van die 90 meter hoë val wat jy gewoonlik sien, is by die uitkykpunt by die hoofkamp geneem, maar daar is ook ander uitkykpunte in die park waar jy op nuwe maniere na “die plek van die groot geraas” kan kyk.

Moenie net soontoe woerts-warts nie. Gee jouself behoorlik tyd om die park te verken. Ons het ure lank op die paadjies rondom die uitkykpunte gedrentel, en gekyk na die uitstallings.

Jy kan byvoorbeeld hier sien hoe die plaaslike bevolking die stam van die kokerboom uitgehol het om hul pyle in te hou, en ook hoe die kokerboom as ’n natuurlik yskas gebruik word.

As jy verder deur die park ry, sal jy sien Augrabies huisves ook 49 soogdierspesies, onder meer die seldsame Hartmann-sebra, meer as 180 voëlspesies en vanweë die rotsagtige terrein 20 slang- en 29 likkewaanspesies.

Upington en Keimoes

Op ons laaste dag op die Kokerboomroete ry ons ’n wye draai na Upington, een van die oudste wynstreke in die land.

Ons proe wyn by Bezalel op die pad tussen Kakamas en Upington, en hou stil by die Oranjerivier Kelders se proelokaal op die dorp.

By albei kelders kan jy ook ’n heerlike ete bestel, en Bezalel het ook luukse oorslaapplek. As jy op Upington oorslaap, kan jy van daar af een van Suid-Afrika se nuutste wêrelderfenisterreine besoek, die Khomani San- kulturele landskap.

Hier kan jy op ’n begeleide staptog saam met die San Khomani kan gaan. Ons draai egter die motor in Keimoes se rigting, waar ons die nag in ’n skool gaan slaap wat in ’n gastehuis omskep is.

Die res van die dag is ons op Keimoes, die “geboorteplek” van die Kokerboomroete.

Maxi, wat vroeër jare ’n museum-en-inligtingsentrum op Keimoes vanuit ’n eeue oue kerkie in die Hoofstraat bedryf het, het hard gewerk om die roete “op die kaart te sit” en is al deur ’n Duitse publikasie as die “talkative lady” van die streek bestempel. Hieroor lag sy lekker.

Sy gesels oor alles wat jy by Die Werf kan sien, haar visie om vroue in die omgewing te bemagtig om ’n inkomste uit die toerismebedryf te verdien, en hul pogings om die Persiese waterwiel op die dorp te herstel. Ook oor die wonderlike werk wat Hannetjie O’Connell in die streek doen. (Volg Hannetjie op Facebook hier.)

As jy ’n uitsig op die honderde klein eilande van Keimoes wil hê, ry na die Tierberg net buite die dorp, van waar jy in die blommeseisoen ook oor die blomprag verstom sal wees. En gaan loer in by die Akkerboom-padstal.

Maxie beveel aan dat jy die R359-grondpad in die omgewing ry as jy iets “off the beaten track” wil beleef, en sê die pad is goed genoeg om met ’n gewone motor te ry.

Ons ry ’n ent ujit op die R359 en kom by Marina Bothma se Koms-kwekery uit. Die einste Marina wat gehelp het om die Kokerboomroete tot stand te bring.

“Soek jy een met ’n reguit stam of een met ’n bietjie houding,” vra Marina Bothma by die Koms-kokerboomkwekery net buite Keimoes.

Die kokerbome staan in hul honderde in netjiese gelid by die kwekery, die groottes wissel vanaf ’n vuurhoutjiedosie tot ’n boom wat meters hoog die lug in skiet.

Ek wil bitter graag ’n kokerboom van my eie hê, maar is lugtig vir die nat, Kaapse winter, waar my kokerboom sal moet wortel skiet.

Ek wil nie my boom laat vrek nie. Marina help my geduldig om een uit te soek wat ek in ’n groot pothouer by die huis sal kan oorplant, en gee raad oor hoe om hom groot te kry.

“Die kokerboom is gevoelig vir water in sy kroon. Probeer dus vir die eerste paar winters om die pot onderdak te kry as die Kaapse reën begin val,” sê sy terwyl sy my sertifikaat vir die kokerboom uitreik.

Weens die kokerboom se bewaringstatus (ernstig bedreig) moet jy ’n permit hê om een aan te hou – dis nie sommer vir steggies afbreek en plant nie, maar die kwekery kan die nodige permit vir jou uitreik.

Eenkant staan plomp kniehoogte vetplante wat oortrek is van die yslike dorings. “Daai een noem hulle skoonma-se-stoel,” sê Marina en lag.

Ek dink die een wat per ongeluk op daardie stoel gaan sit sal die enigste een wees wat die streek as ongasvry ervaar.

Weet voor jy waai

Paaie: Jy kan al die paaie wat in hierdie storie genoem is, met ’n gewone sedan ry, maar jy sal bly wees oor ekstra grondvryhoogte as jy Riemvasmaak toe gaan. Sit ’n dag opsy as jy soontoe wil ry – dis nie prakties om Augrabies en Riemvasmaak in een dag te besoek nie.

Kokerbome: Koms-kwekery kan kokerbome na feitlik enige bestemming in Suid-Afrika koerier, en jou van die nodige permitte voorsien. Hulle sal jou ook raad gee oor hoe om na jou kokerboom om te sien. Kontak hulle by Bothmakokerbome@gmail.com of besoek hul Facebook-blad hier.

Vir meer inligting oor die Kokerboomroete, klik hier en hier.