Berg, by en boer – en meer!

akkreditasie
Foto: Eugene Louw
Foto: Eugene Louw
GEBORG: Die Farmer Redbeard-handelsnaam is al 11 geslagte aan die gang en nou kan jy ’n naweek soos nooit tevore nie ervaar by hul wyn-, vrugte- en heuningplaas.

Volryp rooi en wit druiwetrosse hang parsgereed wanneer ons op ’n soel herfsnamiddag tussen twee goedversorgde lowergroen wingerdblokke deurry met ons aankoms op Wilde Paardekloof-plaas naby Ashton, die tuiste en trots van Farmer Redbeard en sy familie.

Die Farmer Redbeard Tweedag Platteland-wegbreek beloof ’n unieke en opwindende program vir kos-, wyn- en natuurliefhebbers op soek na ’n omvattende sensoriese ontspanningservaring in ’n veilige plattelandse omgewing, weg van roet en geraas.

Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat hierdie tradisioneel Suid-Afrikaanse wyn-, vrugte- en heuningplaas met sy asemrowende natuurlike skoonheid aan die een kant en wilde bosveld-karakter aan die ander kant, die ideale ruimte bied vir avontuursoekers óf om sommer net liggaam en siel te kom verkwik.

Foto: Eugene Louw
 Foto: Eugene Louw
Foto: Eugene Louw
Foto: Eugene Louw
Foto: Eugene Louw

Foto: Eugene Louw
Foto: Eugene Louw
Foto: Eugene Louw

Gul gegroet

Albertus van Zyl is die jongste geslag van 11 generasies wat die Farmer Redbeard-handelsnaam met eer preserveer. Hy en sy ewe-passievolle vrou, Patrizia, kom groet albei met ’n hartlike plaashanddruk en nooi ons vriendelik oor die drumpel van die Meulhuis wanneer ons vroegskemer opdaag vir aandete – self voorberei en bedien deur die paartjie.

Hierdie outentieke geboutjie straal ’n snoesige, romantiese atmosfeer en ’n aanvoelbare historiese energie uit. Dit spog met verskeie geskiedkundige aandenkings uit vervloë dae en is gebou in die 1700’s, toe ’n groepie vryburgers en Van Zyl-voorsate dié beeldskone stuk landskap, genestel aan die voet van die majestieuse Langeberge sowat 180 km buite Kaapstad, ontdek het.

Die Meulhuis is oorspronklik gebou vir boere, soldate en reisigers tussen Robertson en Montagu om hul graan te laat maal en te verhandel.

 Foto: Eugene Louw
Foto: Eugene Louw

Kerslig-aandete

Ons geniet ’n hartlike en smaaklike driegang-maaltyd met smullekker bykosse van vars plaaslike produkte, terwyl die interessantste ou-wêreldse stories oor en weer gedeel word.

Geurige biefstuk word volgens elkeen se smaak in die vuurherd langs die aansittafel deur Albertus self voorberei, en elke gang word geniet met ’n gepaste Farmer Redbeard-wyn wat op die plaas geproduseer is. Albertus deel van sy wynmaakwenke en later hoor ons toevallig dat dié nederige en veelsydige boer ’n meestersgraad in wingerdboukunde het.

Sy Chardonnay, Cabernet Sauvignon en Muskadel is van uitstaande gehalte en spreek van kundige presisie en ’n ideale omgewingsterroir asook vars skoon bergwater wat as besproeiing dien. Later die aand stap ons uit op die stoepdek en verluister ons in stilte aan die musikale dialoog van twee naguiltjies wat in tandem kommunikeer.  

 Foto: Eugene Louw
Foto: Eugene Louw

Oggendstond het goud in die mond

’n Goeie nagrus in ’n keurig gemeubileerde, outentieke plaasstyl-kothuis volg en ons word wakker gemaak deur die kwetterende gesang van ’n verskeidenheid voëlsoorte. Dis opvallend hoe vas ’n mens slaap wanneer vars plaaslug, stilte, opregte gasvryheid, goeie kos en geselskap en vars wit linne alles deel vorm van ’n naweekwegbreek.

Al die kothuise is selfsorgeenhede en is binne stapafstand van die swembad, wingerde, berg en vrugteboorde. Elkeen het ’n pragtige uitsig en die meeste beskik oor kaggels en volop hout vir koue wintersnagte.

Foto: Eugene Louw

Dapper en stapper

In die kombuis wag ’n ontbytmandjie gevul met muffins, tuisgebakte plaasbrood, eiers en kaas as energie vir ons begeleide plaas- en berguitstappie. Elke groep kan kies tussen ’n rustige 4 km-plaaswandel of meer uitdagende bergroete oor 10 km. Greg Jacobs, ons jong natuurgids, is self ’n produk van die omgewing.

Hy lei ons op sprokiesmooi kronkelpaaie… verby wingerde, appelkoos-, perske- en vyeboorde al langs die voet van die ruwe Langebergreeks langs, deur skaduryke rivierlope met kleurvolle lelies wat geil blom. Ek voel hoe die vars plaaslug en kalmerende soet speserygeur van Kaapse fynbos elke sel in my liggaam binnedring.

Dis asof ons in ritme stap met die heelal se hartklop en terwyl klippies en Klein Karoo-takkies onder my skoensole knars, sê ek stil dankie vir hierdie oomblik en die wonder van God se skepping.

Ons stop om na ’n termiethoop te kyk en leer hoe verskeie mini-ekosisteme op die plaas elk met sy eie plant-, dier- en insekspesie, insluitend die grond – ryk aan minerale soos magnesium – ’n unieke funksie vervul om energievloei te genereer wat op die ou end die boer in staat stel om sy produkte te lewer. Dis duidelik dat die Farmer Redbeard-familie ’n diep respek en waardering het vir hierdie harmonieuse samewerking en hoe afhanklik die mens van die natuur is.

Greg vertel die veld is in die lente oortrek met aalwyne, madeliefies, proteas en ’n verskeidenheid kleurryke veldblomme, met ’n magdom vetplante die res van die jaar.

Naby die rivier wys hy ons die vars spoortjies van ’n Klipspringer wat patroontjies maak tot by die water, waar dié ougatbokkie sy dors kom les het. “Indien jy gelukkig is, sal jy ook luiperdspore sien,” sê Greg en ’n paar van ons kyk benoud rond.

Ons stap oor ’n damwal en twee naaldekokers flits verby in ’n oranjerooi en blou sirkeldans terwyl ’n enkele ystervarkpen tussen die klippies ons verbeelding prikkel.

Ossewaspore naby ’n Bloekomwoud en die ruïnes van een van die oorspronklike plaashuise vertel ’n storie van die Van Zyls se voorvaders, hul reise en wedervaringe.  Vir Greg, wat op verskeie plase in die streek werksaam is, is die uitstaande eienskap van Wilde Paardekloof die stilte en vreedsame atmosfeer. Selfs in oestyd is dit volgens hom ongelooflik stil hier.
Foto: Nicole Alexander

Herlaai

’n Ligte middagete en omvattende wynproe op die buurplaas Kleinhoekkloof is volgende op die program. Hierdie boetiek-wynlandgoed is geleë 420 m bo seevlak en bekend vir sy klassieke wyne, asemrowende uitsig, en smaaklike, gehalte charcuterie – tuisgemaak en keurig voorgesit. Op hul webtuiste resoneer die woorde van die bekende John Muir: “Thousands of tired, nerve-shaken, over-civilized people are beginning to find out going to the mountains is going home; that wilderness is a necessity…” 

Inderdaad.

Terug op Wilde Paardekloof is daar genoeg tyd om in die swembad of plaasdam af te koel, tyd met jouself te spandeer óf in die boorde rond te dwaal en na hartelus (met toestemming) groot soet sappige geelperskes te pluk.

Net voor sonsondergang hou Albertus voor ons kothuis stil met sy John Deere-trekker en sleepwa waarin vrugte gewoonlik in kratte vervoer word. Ons klim in ’n krat - toegerus met gerieflike bankies – vir die rit na die Rooibus Bosbraai-area, versteek tussen Bloekom- en Wilde Olyfbome.

Hierdie betowerende area met geen elektrisiteit of wit geraas, is uitgelê om ’n vuurherd en herinner aan ’n boma in die bosveld. Terwyl ’n tradisionele driegang-maaltyd op warm kole voorberei word, bestyg die kinders die rooibus (spesiaal ingerig met slaapbankies indien jy hier wil oornag) en reis na verbeeldingryke bestemmings of verken die woud.

Sappige, gebraaide hoenderstukke word bedien met slaaie en plaaslekker warm groentes, waaronder groenboontjies en soet patats in die skil en dik snye plaasbrood versier met tuisgemaakte vye-, appelkoos-, druiwe- of perskekonfyt. Amper almal staan nader vir ’n tweede porsie braaikos wat afgerond word met roomys en vars bloubessies.

Laatnag reis ons terug in stikdonkerte, gekoester in ons krat onder ’n sterrekombers met net die sagte dreuning van die trekker in ons ore en die volmaan as enigste lig op die pad. Om so ontspanne en na aan die natuur te wees is ’n onbeskryflike en amper heilige ervaring wat jou lank sal bybly.
Foto: Eugene Louw

Soete verleiding

Die veelsydige Farmer Redbeard dra ook ’n heuninghoed en die volgende oggend ná ontbyt tree die byeliefhebbers onder ons aan om ’n byeboerdery en die tap van heuning eerstehands te ervaar.

Albertus is bekend vir sy suiwer heuning en respek vir hierdie rojale en lojale, hardwerkende insekte. Eers word ’n vuurtjie aangesteek om rook te genereer en dan teug ons aan ’n koppie stadig gebroude moerkoffie terwyl hy sorgvuldig die veiligheidsmaatreëls verduidelik.

Elkeen kry ’n volledige byeoorpak waarná die stappe gedemonstreer word om bye te kalmeer en die heuningkoeke te bekom -- en dan word die soet, goue heuning uitgespin. Ons leer onder meer dat bye bestuiwingsdienste aan bykans 180 000 verskillende plantspesies lewer en dat hierdie plante ’n derde vorm van ons voedselverskaffing en die helfte van die wêreld se olies en vesel, soos katoen.

Steeds in verwondering oor hierdie hardwerkende, kreatiewe klein insekte, kry elke gesin of paartjie die geleentheid om hul eie rou heuning te botteleer en huis toe te vat.

’n Ligte middagete en heuningproe rond dié inspirerende ervaring af en ons vertrek met ’n hart vol herinneringe en ’n kattebak vol aandenkings aan ’n onvergeetlike naweekwegbreek wat roep om herhaal te word.

Gaste wat verkies om nie aan die byeboerervaring deel te neem nie, ontvang ’n geskenkbewys vir ’n besoek aan die Owls Rest olyf-en-laventelplaas en die Marbrin-olyfplaas.

By Owls Rest sal gaste die geleentheid kry om ’n kort toer mee te maak en te ervaar hoe laventel-, roosmaryn-, en roosmalva-olies gedistilleer word, waarna jy ’n laventelmuffin, koffie/tee of geurige blomwater kan geniet. Probeer gerus ook hul tuisgemaakte olyfolies, olywe, tapenades en ingelegte vrugte. Hul klein boetiekwinkel bied ’n unieke inkopie-ervaring wat ’n verskeidenheid velsorgprodukte (met terapeutiese voordele), insluit.

Marbrin is ’n bekroonde olyfplaas waar jy deur Clive en Briony verwelkom word. Dié inspirerende paartjie neem jou op ’n interessante olyfreis en hul passie vir olywe is aansteeklik. Olywe en olyfolies soos Dille, Vinkel en brandrissie asook balsemasyne en tapenades word met tuisgemaakte brood geniet. Die olyfseisoen is van Maart tot Julie, maar jy kan enige tyd hier ’n draai maak om te sien hoe die olyfolie geproduseer word.

Ashton word beskryf as die klein dorpie met die groot hart – én brug! – en is slegs 5 minute van Wilde Paardekloof en binne gerieflike ryafstand van vyf pragtige en gewilde klein dorpies in die  streek – Montagu, 15 km, Robertson 22 km, Bonnievale 25 km en McGregor 40 km. Vir meer inligting oor aktiwiteite in die omgewing besoek farmerredbeard.co.za en klik op Activities en Attractions in area.
Foto: Eugene Louw
Foto: Eugene Louw

Besprekings en kostes

Volwassenes:R4 000 per persoon wat deel (R4 800 vir ’n enkelkamer), R1 800 per kind (5-16 jaar) en gratis vir kinders 4 jaar en jonger.

Die pakket sluit in: verblyf, alle aktiwiteite, ’n ontbytmandjie, 2 ligte middagetes, verversings, 2 aandetes en wyn, wynproe, heuning, ’n uitstappie na die byeboerdery of die laventel- of olyfplaas, die huur van ’n byeoorpak en natuurgids.

Vir navrae of om te bespreek, kontak of whatsapp Rina by 023 615 1829 of 072 623 8275 of stuur ’n e-pos na info@farmerredbeard.co.za.