Edwin Pagel van Windhoek skryf Ek het hierdie sebra wat aan ’n termiethoop knibbel naby die Sonderkop-watergat in die Etosha- nasionale park in Namibië afgeneem – het dit ’n mineraaltekort?
Die wildlewekenner L.D. van Essen antwoord Ja, die leser is reg, maar net gedeeltelik. Grondetery, of te wel geofagie, kom algemeen onder soogdiere, voëls, reptiele, ongewerwelde diere, asook mense, voor. Tradisioneel is dit gesien as ’n manier om mineraal- en spoorelementtekorte aan te vul.
Hoewel dit moontlik die verklaring is, dui onlangse navorsing op ander redes ook. Grond met ’n hoë klei-inhoud, soos in ’n termiethoop, word waarskynlik ook geëet om gifstowwe wat deur die dieet ingeneem word, te neutraliseer.