Die onderste deel van die wa bestaan saam met die onderstel uit ’n plat vlak wat herinner aan ’n platbak-insleepvoertuig. Hierop pas dan ’n raamwerk waarin tot vier ewe groot houers pas, elk met ’n deur aan die kopkant. Tot twee daktente kan dan bo-op die raamwerk met sy houers pas, en wanneer die daktente toegeslaan is, slaan ’n dakrak hieroor plat.
Die geheim – en slim idee – hieragter lê in die vier houers. Elkeen is langwerpig (1,3 x 0,6 x 0,6 m), en jy kan van een tot vier van hulle in die raamwerk pas. Die houers is leeg en jy kan dit dus toerus met dít wat jou kamplewe gerieflik maak.
Twee van die houers se deksels sit aan die stertkant van die wa en die ander twee links voor.