Fortuner steeds tops

akkreditasie
Foto: Verskaf.
Foto: Verskaf.
GEBORG: Die Toyota Fortuner is die koning van Suid-Afrikaanse sportnutsvoertuie, en ewe tuis in die stad of in die bos – dis die ideale gesinsmotor om al die mooi plekke in ons land te verken en meer oor ons ryk erfenis te leer.

Die antieke koninkryk van Mapungubwe is geleë teen Suid-Afrika se noordelike grens, waar die magtige Limpopo- en Shasherivier saamloop en Botswana, Zimbabwe en Suid-Afrika se grense aanmekaar raak.

Vandag is dit die tuiste van die roemryke Mapungubwe- nasionale park, maar ’n duisend jaar gelede was dit die vesting van die subkontinent se eerste inheemse koninkryk.

Geleë op vrugbare grond geseënd met goud en ivoor, het sy strategiese ligging die koninkryk in staat gestel om met Indië en China handel te dryf vir omtrent 400 jaar – van 900 n.C. tot 1300 n.C.

TOYOTA

Daar is min motors wat só gepas is om dié Unesco-wêrelderfenisgebied te verken as die opgegradeerde Toyota Fortuner. Ons model, die spoggerige 2.8 GD-6 VX Fortuner 4x4, het moeiteloos plek gehad vir ál ons bagasie en fietsry-gereedskap nadat ons die twee sitplekke in die derde ry platgeslaan het.

Ons was op pad om aan die Tour de Tuli deel te neem – die ikoniese 270 km lange fietsrytoer wat in Mapungubwe begin en eindig, en ente deur Zimbabwe en Botswana insluit.

Dis ’n moeisame ses ure se ry (520km) van Johannesburg na Mapungubwe, maar die Fortuner het dit maklik gemaak te danke aan die 2.8 l-GD- 6-enjin wat 150 Kw krag verskaf en 500 Nm se wringkrag.

Die N1 tussen Johannesburg en Polokwane is berug vir sy spoedlokvalle en verkeerskameras; dus het ons eenvoudig die radartoegeruste spoedreëlaar ingespan om binne die spoedlimiet te bly. Wanneer die radar optel dat ’n kar voor jou stadiger ry, verminder die Fortuner outomaties spoed om ’n veilige volg-afstand te handhaaf.

TOYOTA

Die ruim kajuit met sy gemaklike leersitplekke is onlangs opgegradeer na ’n dubbelsone-klimaatbeheerstelsel en ’n JBL Premium-oudio-stelsel met 11 luidsprekers in die vertoonmodel. Apple CarPlay- of Android Auto-funksionaliteit laat jou toe om al jou foon se apps, byvoorbeeld vir navigasie en musiek, via die 8 duim-vermaakstelsel te beheer.

TOYOTA

Die 80 l-brandstoftenk het ons ongeveer 900 km laat ry voordat ons weer moes brandstof ingooi. Die Fortuner gebruik net meer as 8 l per 100 km op die oop pad. Op die grondpaaie in die nasionale park het die Fortuner weer gewys hy is meer as die naam 4x4 werd toe ons gaan wildkyk het ná die fietstoer.

Dis maklik om te verwissel tussen 2WD, 4WD en 4WD Lo, en die agterste ewenaar kan aangeskakel word met die druk van ’n knoppie as dinge steil en rof raak.

TOYOTA

Die VX-model is verder verbeter met ’n blindekol-moniteringsisteem en agterste kruisverkeerwaarskuwingstelsel wat veral handig is as jy in trurat by ’n parkeerterrein moet uitry en voetgangers of ander karre jou pad kruis.

’n Stewige, betroubare dog gemaklike en stylvolle motor soos die Toyota Fotuner verminder beslis die stres van ’n lang rit soos die een wat ons onderneem het. Dis maklik om te sien waarom dit steeds die topverkopervoertuig in sy afdeling is.

 
TOYOTA

Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4x4 VX 6AT

Enjin 2 799 cc-turbodiesel

Krag 150 kW @ 3 000-3 400 r.p.m.

Wringkrag 500 Nm @ 1 600-2 800 r.p.m.

Ratkas sesspoed-outomaties

Brandstofverbruik 7,9 l/100 km

Grondvryhoogte 279 mm

Sleepkapasiteit (gerem) 3 300 kg

Naderingshoek 29°

Vertrekhoek 25°

Waarborg 3 jaar/100 000 km

Diensplan 9 dienste/90 000 km

Dienssegmente 10 000 km

Prys R890 900