Gee dit horings!

akkreditasie
Die Ry & Sleep Bull Run is in Oktober die tiende keer gehou, en daar was nét een manier om dié besonderse mylpaal te vier… met ’n allemintige opskop op Vanwyksvlei in die Noord-Kaap.

Foto’s Piet van Wyk en Ingrid Swart

Dit was ’n klompie pêlle van Kaapstad se noordelike voorstede wat die bevlieging gekry het om vir hulle ou karre aan te skaf, die Noord-Kaapse vlaktes in te vaar en mekaar daar, in die stof, die stryd aan te sê.

Pret op die pan. Dis net by die Bull Run waar ’n mens só tevrede is om van kop tot tone met stof bedek te wees. Dit is die volmaakte speelplek vir die eienaars van nagenoeg 150 karre wat hier in die Noord-Kaap saamgetrek het vir ’n naweek se pret en plesier.

Met dié 11 karre wat destyds in die pad geval het is die Ry & Sleep Bull Run gebore, en in Oktober 2021 is die tiende – en grootste een tot nog toe – op Vanwyksvlei aangebied.

Dit was nog altyd ’n droom om vir Valiant Swart en Albert Frost by die Bull Run te hê. Vanjaar het dit ’n werklikheid geword. – Francois Malan, organiseerder

Maar vanjaar het nagenoeg 150 spanne en 750 siele op dié dorpie saamgetrek om met hulle rygoed te spog en op die plaaspaaie en die immergewilde pan te wys wat in hulle steek. (Voertuie moet ouer wees as ’n 1985-model en minder as R30 000 kos.)

Tussen al die ryery deur is daar ordentlik gekuier… selfs die bekende rockers Valiant Swart en Albert Frost was daar.

Die Bull Run is ’n fees. Dis basies ’n matriekvakansie vir grootmense.
– Gerrie van Eeden, organiseerder

Ja, die tiende Bull Run was een vir die boeke. Veral vir die manne van die Geel Apteek (’n 1973 Volkswagen Variant) wat as die uiteindelike wenners gekroon is.

Soos altyd sou dit nie moontlik gewees het om só ’n suksesvolle byeenkoms aan te bied sonder hulp en borge nie. Ons opregte dank aan Gerrie van Eeden, Thys de Jager en die 45 baanbeamptes wat elke jaar grootliks vrywillig kom help.

Ook aan Rudi Oberholzer en die reëlingskomitee op Vanwyksvlei wat ons elke jaar so gasvry huisves. Hartlike dank ook aan Noord-Kaap-toerisme, Isuzu Suid-Afrika, Pro Auto Rubber, OzTrail, Signorama Pretoria-Noord, HFR Refrigeration & Transport en Tiger Wheel & Tyre 4x4 Fitment Centre.

Volgende jaar maak ons weer so!

Dis AfrikaBurn vir petrolkoppe. Daar is nie nog iets soos die Bull Run nie.
– Schalk Jonker, redakteur van Weg Ry & Sleep