Geniet die natuur by hierdie 5 fantastiese CapeNature-reservate

akkreditasie
GEBORG: As jy smag na die stilte en prag van die natuur, sal jy in die wolke wees oor hierdie vyf CapeNature-reservate.

Om die uitgestrekte oop ruimtes by een van CapeNature se 25 natuurreservate regoor die Wes-Kaap te verken, is net wat jy nodig het dié somer.

CapeNature poog om sy vakansiebestemmings bekostigbaar en toeganklik te hou vir soveel huishoudings as moontlik en wil sien dat meer plaaslike inwoners die ryk natuurlike erfenis van die provinsie beleef en geniet.

Met soveel verskillende reservate om van te kies, sal jy heel waarskynlik meer as een gunsteling hê. En jy is bederf met keuse wanneer dit kom by doendinge in die reservate, want jy kan stap, bergfietsry, swem, voëlkyk en soveel meer.

CapeNature se reservate bied ’n wye verskeidenheid selfsorgverblyf en kampeerterreine, insluitend wildernis, basiese opwip- en luukse tent-kampeerplekke.

Hier is ons lys van die vyf beste CapeNature-bestemmings:

1 Grootvadersbosch naby Swellendam

Grootvadersbosch-natuurreservaat is in ’n afromontaanse woud in die Langebergstreek tussen Swellendam en Heidelberg geleë. Dis minder as drie uur se ry buite Kaapstad. Word wakker met panoramiese uitsigte oor ’n betowerde woud en ’n koor van tjirpende voëls in seker een van die mooiste plekke in die Overberg. Hier is verskeie dagstaptogte en bergfietsroetes beskikbaar. Dit is ’n uitstekende voëlkykbestemming met meer as 196 voëlspesies.

Die reservaat het ’n magiese, sprokiesagtige gevoel, wat besoekers die indruk gee dat hulle in ’n ander wêreld ingestap het. Stappers kan in die gevlekte lig van die kosbare inheemse woud drentel en in die koel teekleurige rivier in die skadu van antieke bome swem.

Grootvadersbosch het nou ’n verskeidenheid verblyf-opsies, van gerieflike en goed toegeruste hutte tot ’n reeks kampstyle – van basiese staanplekke met gedeelde ablusies, tot privaat staanplekke en glamping-tente.

2Kogelberg naby Kleinmond

Die Kogelberg-natuurreservaat is net 90 minute van Kaapstad af geleë (tussen Kleinmond en Bettysbaai). Hierdie reservaat bring die Overberg se skoonheid tot by jou voorstoep.

Die Palmiet- en Mbali-versameling-eko-hutte is in die Palmietriviervallei, met die hoë berge aan weerskante.

Dit word as die kroonjuweel van CapeNature se beskermde gebiede beskou – ’n reputasie wat dit grootliks verwerf het vanweë die ongerepte natuur van die omgewing.

Kogelberg is ook in die hartjie van die Kaapse Blommeryk (’n Wêrelderfenisgebied) en bied uitsonderlike diversiteit. Jy sal waarskynlik die beste voorbeeld van bergfynbos hier sien.

Hierdie selfsorg-wegkruipplek is ’n toeganklike toevlugsoord vir natuurliefhebbers.

3 Sederberg-wildernisgebied aan die Weskus

Drie uur noord van Kaapstad vind jy die Algerië- en Kliphuis-kothuise in die Sederberg-wildernisgebied, wat strek van die Middelbergpas in Citrusdal tot noord van die Pakhuispas by Clanwilliam.

Dit is een van die mees ongerepte en afgesonderde plekke in Suid-Afrika. Die reservaat is bekend vir sy skilderagtige, bergagtige wildernis.

Die area is deurdrenk van geskiedenis, en jy kan ’n hele dag deurbring op soek na rotskuns, grotte en kranse. Nadat dit in 1973 as ’n wildernisgebied geproklameer is, is die Sederberg nou een van agt Wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika en die tuiste van die pragtige Clanwilliam-sederboom, wat oor van die kranse hang.

CapeNature bied ’n wye verskeidenheid verblyfopsies – van afgesonderde berghutte tot volledig toegeruste kothuise.

Die Rietdak- en Garskraal-kothuise by die Algerië-reservate is onlangs opgeknap. Hierdie kothuise behou hul bekoorlike karakter, maar het moderne afwerkings binne.

4 Gamkaberg naby Oudtshoorn

Wat kan meer ontspannend en lonend wees as om ’n dag of twee in die natuur deur te bring – terwyl jy steeds al die moderne geriewe tot jou beskikking het? Dit is presies wat jy by Gamkaberg-natuurreservaat sal kry.

Die reservaat, wat 35 km buite Oudtshoorn geleë is, het aan toeriste bekend geword as ’n plek om af te skakel en die natuur van die Klein Karoo te geniet.

Daar is luukse verblyf by die Tierkloof Eco Lodges beskikbaar, wat beteken die reservaat bied die perfekte balans vir diegene wat bedags met die natuur in aanraking wil kom, maar snags die gerief van ’n luukse tent verkies. Onthou jou sonskerm – dit gaan warm word!

5 Keurbooms naby Plettenbergbaai

Die klein dog keurige Keurboomsrivier-natuurreservaat is net buite Plettenbergbaai aan die Tuinroete geleë. Die Keurboomsrivier loop deur die reservaat en neem rivierwater van hoog op in die Tsitsikammaberge tot by die riviermond, waar dit uitloop in die see. Die reservaat is baie gewild en een van die enigste reservate wat vereis dat jy na jou verblyf moet roei!

Jy sal nêrens anders so ’n kombinasie kry van inheemse woude, ongerepte ravyne en beskutte klowe nie. Een oornaghut is beskikbaar vir tot 10 gaste wat meer tyd op hierdie pragtige reservaat wil deurbring.

Wie weet – dalk is jy gelukkig genoeg om soos ’n paar besoekers vroeër vanjaar ’n luiperd te sien. Lees meer daaroor hier.