In gesprek met Marco van Niekerk – Safari Outdoor se pad na die grootste buitelughandelaar in Suid-Afrika

akkreditasie
GEBORG: Marco van Niekerk, voormalige direkteur van die JD Group (waar hy as hoof- uitvoerende beampte van beide Incredible Connection en HiFi Corp opgetree het), is sedert 2015 die uitvoerende hoof van Outdoor Investment Holdings (OIH).

OIH bestaan uit die handelsreus Safari Outdoor, grootmaatverskaffers Formalito en Inyathi, en die Family Pet Centre-groep. Saam word 60 jaar se handelservaring in OIH vervat.

Marco is in Namibië gebore en het in Noordwes grootgeword. Hy het aan die Universiteit van Pretoria studeer en sy tande in die korporatiewe wêreld geslyp, waar hy veral in kleinhandel gespesialiseer het.

Hy is getroud en het twee jong dogters. Marco het in gesprek met Stigter gesels oor die uitdagings in Suid-Afrika en wat Safari Outdoor die voorste buitelug- en jaghandelaar in Suid-Afrika maak. 

Kitsfeite oor OIH:

  • Safari Outdoor is in 2008 geopen, met een klein winkel in die Wes-Kaap. Vandag spog hulle met meer as 200 heeltydse werknemers en vyf megawinkels wat meer as 80 000 m2 se handelspasie beslaan.
  • Onmiddellike beskikbaarheid van produkte voldoen aan sowat 96% van kliënte se behoeftes.
  • Safari Outdoor ontvang sowat 380 000 oproepe binne 12 maande, waarvan 98% binne 5 luie beantwoord is.
  • Van Safari Outdoor se oproepe wat gemis word, word 100% teruggeskakel.
  • Safari Outdoor het in Mei 2021 meer as 200 000 webtuistebesoekers gehad en byna 40 000 besoekers aan hul handelswinkels.
  • Family Pet Centre is, soos Safari Outdoor, ook ’n nasionale megahandelaar wat fokus op troeteldierprodukte en veeartsdienste.
  • Formalito is ’n grootmaatverskaffer aan sowat 840 kliënte oor Suid-Afrika heen en is die grootste verspreidingsentrum in die land.

Safari Outdoor het onlangs ’n openbare veldtog begin wat die publiek aanmoedig om hul name by ’n petisie teen die voorgestelde wapenwetgewing te voeg. Wat is die grootste knelpunte vir verbruikers wanneer dit by wapenaansoeke kom?

In my opinie het Suid-Afrika van die beste en mees progressiewe wapenwetgewing in die wêreld. Dit is werklik ’n omvattende proses om bevoeg verklaar te word en vereis goeie praktiese en akademiese voorbereiding.

Die proses om daarna jou status as jagter of sportskut te behaal is sigself omvattend, veral omdat dit jaarliks in stand gehou moet word met ’n spesifieke aantal aktiwiteite. My gevoel is dat die probleem eerder lê by die administratiewe verwerking van hierdie aansoeke en dat dit lei tot massiewe frustrasie by die publiek.

Hoe beïnvloed staatsfunksies julle as besigheid; byvoorbeeld, met die uitreik van permitte en die sentrale vuurwapenregister? 

Dit het natuurlik ’n direkte uitwerking in soverre elke besending slegs kan verskeep ná ’n permit verkry is van die polisie wat so ’n besending goedkeur. Hierdie permitte gaan gepaard met massiewe vertragings, wat plaaslike besighede en die uiteindelike verbruiker onder baie druk sit.

Die onvermoë van die CFR om die administratiewe take wat die wet vereis tydig en doeltreffend af te handel, is ’n geweldige meulsteen om die bedryf se nek. Voorgestelde veranderinge aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Firearms Control Act) is natuurlik skrikwekkend en gaan ons wêreld op sy kop omkeer indien hulle dit forseer.

Die polisie se onlangse onvermoë om staatseiendom, private eiendom en lewens te beskerm is die grootste motivering vir die besit van wapens vir selfverdediging. So, nie net beïnvloed die staat tans die gehalte en doeltreffendheid van besigheid nie, maar beoogde veranderinge sal ook sonder twyfel die publiek effektief weerloos laat.

Hoe lyk die ideale wetgewing rondom vuurwapenbesit in Suid-Afrika?

Huidige wetgewing in sy bestaande vorm het leemtes, maar dit is nie massief nie. Ek dink die geleentheid bestaan om met goeie dialoog duidelikheid te verkry rondom grys gebiede. Dit blyk egter of daar geen behoefte is aan die kant van die SAPD om wel hierdie dialoog te voer nie en die enigste uitweg bly telkens om jou ná die proses na die hof te wend vir duidelikheid.

In sy mees ideale vorm moet wetgewing die persoon lisensieer en nie bloot die wapen nie. Vir duidelikheid: Indien ek – as sportskut – ’n lisensie bekom, sou dit beteken dat ek met groot gemak enige wapen sal kan bekom wat verband hou met die sport. Die realiteit is dat die wapen steeds aan my as persoon gekoppel sal word, maar die proses sal in geheel vereenvoudig.

Daar sal natuurlik steeds beperkinge moet wees op aantal vuurwapens van elke soort, maar in beginsel moet jy jouself afvra hoekom iemand wat twee pistole besit ’n groter gevaar is as iemand met een? 

Safari Outdoor word beskryf as die grootste jag- en buitelughandelsgroep in Suid-Afrika. Watter faktore dra by tot Safari Outdoor se sukses?

Ek dink Safari het oor die jare ontwikkel in ’n baie professionele organisasie, maar het nooit die gevoel van familie en vriende verloor nie. Ons probeer baie hard om na die belange van almal in die bedryf om te sien en ek dink oor tyd het dit vrug gedra.

As voorbeeld van die stelsels wat ons oor tyd gebou het: Ons ontvang enigiets van 30 000 tot 40 000 oproepe in ’n maand, waarvan 98% beantwoord word voor die foon 5 keer gelui het en 100% van oproepe wat ons mis, word teruggeskakel. 

Watter uitdagings moes julle tydens Covid-19 oorkom met, onder meer, die druk wat op die jagbedryf geplaas is?

Die plaaslike jagbedryf het floreer tydens die pandemie, juis omdat mense desperaat was om uit die stede en in die bos te kom. Jag is so ’n integrale deel van ons kultuur dat almal gespring het om die laaste 18 maande soveel tyd as moontlik in die bos te spandeer. Ons grootste uitdaging was om genoeg voorraad te verkry om aan almal se behoeftes te voldoen.

Marges is natuurlik onder baie druk omdat almal probeer om ’n lewe te maak en daar is geweldig baie handelaars reg oor die land wat almal maar dieselfde produkte probeer verkoop.

Vir jou, persoonlik, is daar enige boeke, studiekursusse, mentors of ander hulpbronne wat jou gehelp het om ’n organisasie meer doeltreffend te kan bestuur?

Ek dink studies is bitter belangrik. Dit help jou om sekere denkpatrone te vorm en dit gee jou die tegniese kennis wat jy gaan nodig hê vir doeltreffende bestuur. Ek dink verder dat die vyf naaste mense waarmee jy jou omring ’n direkte invloed op jou ontwikkeling gaan hê; wees dus versigtig wie jy naby aan jou toelaat.

Dan is dit belangrik vir ’n jong professionele mens om ’n goeie mentor uit te soek. Dit hoef nie slegs een persoon te wees nie – ideaal is dit meer as een persoon oor die jare. In my eie lewe was ek geseënd met verskeie fantastiese mense wat my kon help om my pad te vind.

Dit is egter nie ’n proses wat ooit voltooi is nie; jy gaan aanhou groei, leer en verander tot die dag van jou dood.

Jy was redelik vroeg in jou loopbaan by uitvoerende bestuursrolle betrokke (Morgan Cargo, Lliad Africa, PG Group). Waaraan skryf jy dit toe? Of wat het jou toegelaat om dit reeds op ’n vroeë ouderdom te kon doen?

Goeie vraag. Ek dink tyd en geleentheid is iets wat niemand moet ignoreer as iets wat bydra tot geleenthede nie, maar as toegewyde Christen voel ek dat ons pad vir ons beplan word en met tyd sal ek seker beter verstaan wat die Here se plan ook met my eie ontwikkelingspad was. Dat daar baie guns in my lewe was, moet ek erken en die eer gee waar dit hoort – vir die Here.

In jou vorige rolle as uitvoerende hoof (Incredible Connection en HiFi Corp): Wat is die drie dinge wat jy daar geleer het?

  • Wanneer jy weet iemand is verkeerd vir sy pos, maak vinniger as later die besluit om daardie persoon te verwyder.
  • Moenie skrik om ’n tree of tien agteruit te gee nie. Dit is dikwels net die aanloop wat jy nodig het.
  • Moet nooit aanvaar jy is die slimste persoon in ’n vertrek nie. Dit sal jou duur te staan kom.

Sedert jy in 2015 by Outdoor Investment Holdings aangesluit het, wat is vir jou die hoogtepunt?

Ek het wêreldwyd goeie vriendskappe opgebou. Nadat ons aanvanklik baie herstruktureer het, is ons personeelomset oor die laaste 24 maande slegs 12%, wat bitter laag is.

Dit is baie spesiaal om deur ’n winkel te stap en na mense te kyk wat soos familie begin voel. Tans is ons klompie aandeelhouers op goeie voet met mekaar en die vertroue van my vennote in my en die bestuurspan is vir my baie kosbaar.

Sien jy enige geleenthede in ander bedrywe in Suid-Afrika wat entrepreneurs of voornemende entrepreneurs kan ontgin?

Die moeilikste ding met geleenthede in Afrika is dat daar so baie is dat jy maklik honderde kan jaag in ’n leeftyd en nooit iets klaarmaak nie. My raad is: Spandeer eerder te veel tyd om ’n geleentheid te ondersoek voor jy tyd en geld daaraan spandeer, want dit is nie die goed waarvoor jy ja sê wat jou uiteindelik gaan definieer nie, maar die goed waarvoor jy nee sê.

Marco sluit af deur te sê alhoewel die plaaslike en nasionale regering baie druk op besighede plaas, is daar steeds talle geleenthede vir entrepreneurs om met harde werk ’n plek in die son te kry. 

Stigter is ’n Afrikaanse entrepreneurstydskrif wat jou meer vertel van Suid-Afrika se entrepreneurs en propvol sakestrategieë, raad en wenke is vir die bemarking en bestuur van jou eie besigheid.

Daar is nog baie waar dié artikel oor Marco van Niekerk en Safari Outdoor vandaan kom – as jy net inteken. Meer inligting hier: stigter.co.za