Panthera pardus – só noem ons die luiperd in Latyn. Saam met leeus, jaguars, tiere en sneeuluiperds vorm hulle deel van die sogenaamde groot katte in die Panthera-genus.
Van die hele groep is luiperds in terme van die habitat waarin hulle kan oorleef sowel as die prooispesies wat hulle kan benut, die mees aanpasbare en veelsydige kat.
Byvoorbeeld: Luiperds kom in welige woude voor, maar ook in oop grasveld, klipwoestyne, ruwe berge en digte bosveld. En dieetstudies toon dat luiperds wêreldwyd meer as 100 verskillende spesiesoorte as prooi vang.