Lus vir wildkyk? Die Noord-Kaap roep jou

akkreditasie
GEBORG: Met altesaam 5 nasionale parke, 6 nasionale reservate en minstens nog 10 reservate in privaat besit, is die Noord-Kaap dié bestemming vir voël- en wildkykers. Hier is die plekke wat ’n besoek werd is.

Nasionale parke

1 Die Kgalagadi

Die Kgalagadi (die naam beteken “groot dorsland”) is noord van Upington en is in Mei 1999 gevorm toe Suid-Afrika se Kalahari-gemsbokspark (gestig in 1931) en Botswana se Gemsbokpark (gestig in 1938) amptelik saamgesmelt het. Mabuasehube, die ongenaakbare deel van die park wat slegs per geharde 4x4 bereikbaar is, is in 1971 by die Botswana-Gemsbokpark ingelyf.

Hoewel die samesmelting eers in 1999 amptelik gemaak is, word die parke sedert die 1940’s saam bestuur.

Die Kgalagadi was die eerste oorgrenspark in Afrika en is teen byna 40 000km2 een van die grootste nasionale parke ter wêreld. Dit is ook een van die mees ongerepte bewaringsgebiede ter wêreld. Dit is juis hierdie ongereptheid wat mense herhaaldelik laat terugkom.  

Die drie hoofkampe is Twee Rivieren, Nossob en Mata-Mata. Hier is huisies vir 2, 4 of 6 mense, en staanplekke met gedeelde ablusieblokke. Die huisies is goed toegerus (ook met lugverkoeling en plek-plek platskerm-TV’s), kombuistoestelle, breekware en eetgerei, en beddegoed en handdoeke.

Die kampterrein het enkele bome en afdakke vir koelte, sowel as kragpunte. Sorg dat jy vroeg daar is om die beste staanplek te kry. Braaiplekke is algemeen beskikbaar, by die huisies en die staanplekke. Huise begin by sowat R2095 per nag vir twee mense, en staanplek by R400 per nag vir twee mense. Bespreek by sanparks.co.za of 012 428 9111/082 233 9111.

Grootkolk, die Kalahari-tentkamp, Gharagap, Urikaruus, Bitterpan en Kieliekrankie is wilderniskampe. Die kampe is nie omhein nie en geen kinders jonger as 12 word daar toegelaat nie. By elke kamp is ’n gewapende opsigter aan diens, maar verder geen geriewe soos winkels of swembaddens nie.

Die huisies is toegerus met linne, breekware en toestelle wat met sonpanele werk, maar verder is daar geen kragpunte in die huisies nie. Huisies begin by R2 125 per nag vir twee mense. Bespreek by sanparks.co.za, 012 428 9111/082 233 9111.

Vir luukse verblyf is daar !Xaus Lodge (sanparks.co.za, 012 428 9111/082 233 9111) en Rooiputs (BotswanaTravelService.com).

Vir verblyf in die Polentswa-wilderniskamp en kampeerplekke in Mabuasehube (slegs bereikbaar met ’n 4x4), kontak die Botswana-kantoor. +267 318 0774 of e-pos dwnp@gov.bw.

2 Augrabies- Nasionale Park

Augrabies (sowat 120 km wes van Upington en 40 km wes van Kakamas) is meer as net ’n waterval, dis ’n nasionale park wat deur Sanparke bestuur word en strek oor meer as 50 000 hektaar.

Die ikoniese foto van die 90 meter hoë val wat jy gewoonlik sien, is by die uitkykpunt by die hoofkamp geneem, maar daar is ook ander uitkykpunte in die park waar jy op nuwe maniere na “die plek van die groot geraas” kan kyk. Gee jouself behoorlik tyd om die park te verken.

Die Augrabies- Nasionale Park huisves 49 soogdierspesies, onder meer die seldsame Hartmann-sebra, meer as 180 voëlspesies en vanweë die rotsagtige terrein 20 slang- en 29 likkewaanspesies.

Bespreek by sanparks.org.

3 Mokala- Nasionale Park

Dié park, wat sowat 78 km buite Kimberley geleë is, staan as die Sanparke se “teelplaas” bekend. Baie van die skaars wildsoorte teel hier aan, en word dan van hier af na ander nasionale parke verskuif. Mokala huisves geen van die katspesies nie en is slegs sowat 27 000 hektaar groot, maar moenie dat dit jou afsit nie. Jy gaan troppe buffels, eland, springbok,  wit- en swartrenosters en bastergemsbokke hier sien.

Mokala is die jongste nasionale park in Suid-Afrika, maar het goeie verblyfgeriewe en infrastruktuur. Bly in die Lilydale-kamp, waar die huisies op die rivier uitkyk, of Mosu, waar die diere saans by ’n groot watergat kom suip. Vir ’n spesiale ervaring, bespreek verblyf in een van die boomhuise in die kamp, waar jy toegang tot jou eie, private watergat het.

Meer inligting by sanparks.org.

4 Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark

As jy jou 4x4 se spiere wil bult en snags onder ’n sterrekoepel wil slaap, kies koers in die rigting van die Richtersveld. Die park staan wydsbeen oor die grens van Suid-Afrika met Namibië. Sowat 16 000 hektaar val in Suid-Afrika, en ’n verdere 450 000 hektaar in ons buurland.

As jy met die regte oë na die streek kyk, sal dit sy geheime aan jou verklap. Kyk uit vir Hartmann-sebras en gemsbokke, sowel as koker- en halfmensbome.

By Tatasberg en Sendelingsdrif kan jy in chalets slaap, en in Kokerboomkloof, Gannakouriep en Potjiespram (onder andere) kan jy kamp. Die paaie is slegs begaanbaar met ’n 4x4.

Bespreek by sanparks.org.

5 Namakwa- Nasionale Park

Een keer per jaar trek Namakwaland sy bont mantel aan wanneer die veld in kleurvolle veldblomme getooi word. Jy kan op verskeie plekke in die Noord-Kaap blomme kyk, maar die Namakwa- Nasionale Park is iets besonders.

Die park, wat in 1999 geproklameer is, is 67 km suid van Springbok en sluit tans sowat 150 000 hektaar in. Dit is egter steeds besig om uit te brei.

Verblyf is in die Skilpad- en Groenrivier-ruskampe beskikbaar, sowel as in ’n paar tentkampe. Daar is egter heelwat verblyf in dorpe rondom die park, soos Springbok en Kamieskroon.

Sien meer by sanparks.org.

Provinsiale reservate

1 Oorlogskloof-natuurreservaat

Dié reservaat is 10 km buite Nieuwoudtville. Dit spog met skouspelagtige natuurskoon en staproetes wat klowe, riviere, grotte en plato’s deurkruis – gewild onder stappers – asook voëlspesies soos die witkruisarend, dwergarend, grootswartooievaar en kaalwangvalk, wat dit ’n paradys vir voëlkykers maak.

Die plantegroei hier wissel tussen die Karoo- en die fynbos-bioom. Kies tussen een van twee 4- of 5-dagstaproetes, of een van twee dagstaproetes.

2 Goegap

Teen sowat 7 000 hektaar is dié reservaat buite Springbok klein, maar ’n stukkie paradys, veral in die blomtyd. Hier is 600 verskillende inheemse plantspesies, 45 soogdierspesies en 94 voëlspesies. Hier is ook ’n paar 4x4-roetes.

Die Hester Malan Veldblomtuin spog met verskeie Namakwa-vetplante, en het ook ’n rotstuin. Die vetplanttuin is ook die beginpunt van ’n 17 km lange sirkelroete.

Goegap het geen verblyf binne die kamp nie, maar Springbok het verskeie opsies.

3 Akkerendam

Dié reservaat, wat skaars 2 km buite Calvinia geleë is, beskerm die brose Hantam-Karoo-plantegroei. Hier is minstens 10 plantspesies wat uniek is aan die Hantam. In die lente word die hele reservaat oortrek van die lenteblomme se wonderlike kleure. Voëlkykers kan uitsien na die Karoolewerik, kleinrietsanger, Namakwalangstertjie en Grootrooivalk.

Stap een van die twee staproetes vir pragtige uitsigte vanaf die Hantam-berge.

4 Rolfontein-natuurreservaat

Rolfontein is sowat 16 km noord van Petrusville en op die grens van die Vanderkloofdam en huisves onder meer witrenoster, bontkwagga, strandwolf, springbok en gemsbok, asook aardvark.

Kom stap die Piet Barbet-roete, wat vir 4 km deur die park kronkel. Jy kan ook dieper die park instap, mits jy vooraf met die wildbewaarders reël. Verblyf is in ’n tentkamp beskikbaar, asook twee oornaghutte vir stappers.

5 Spitskop-natuurreservaat

Die reservaat is net buite Upington geleë en is na die granietkoppies in die streek genoem. Jy sal verskeie bok- en voëlspesies hier opmerk. Dis ook een van die min plekke in Suid-Afrika waar jy die kameel sal sien, wat voorheen deur die polisie geteel is om die grens te patrolleer.

Stappers en bergfietsryers is welkom, en verblyf is beskikbaar in chalets, woonwaens en in die kampterrein.

6 Witsand-reservaat

In ’n streek waar rooi duinsand algemeen is, is Witsand genoem na die ongewone skakering van die duine hier. Tussen September en April kan jy die sand hoor “brul”. Gemsbok, rooihartbees, springbok, duiker and steenbok is volop, en daar is ook ’n troppie koedoe.

Verblyf sluit 10 luukse selfsorg-chalets (een met geriewe vir gestremdes), groepverblyf en woonwa- en kampeerplekke in.

Privaat reservate

1 Tswalu

Teen 100 000 hektaar is Tswalu die grootste private natuurreservaat in Suid-Afrika en baie luuks. Die reservaat is ’n bewaringsprojek wat talle navorsingsprojekte befonds; dis daarop gemik om belangrike spesies binne die Kalahari-ekosisteem te verstaan en te bewaar.

Kom hierheen as jy die swartrenoster of die Kalahari-leeu met sy kenmerkende swart maanhare wil sien, of wil weglê aan die cuisine in die wêreldbekende restaurant Klein Jan.

Meer inligting hier: tswalu.com.

2 Tutwa Desert Lodge

Hierdie lodge is naby Kenhardt in die Groen-Kalahari geleë en sowat 16 000 hektaar groot. Sowat 24 km van die Oranjerivier loop deur die terrein, wat veroorsaak dat daar baie vee in die streek is.

Ontdek ’n groot verskeidenheid wild op safari (met professionele gidse): luiperd, kameelperd, sebra, wildsbok, volop voëllewe, plus skaars flora.

Sien meer by tutwalodge.co.za.

3 Thuru

Hierdie lodge is 314 km buite Kimberley geleë en is in die hartjie van die Kalahari. Dit spog met ’n verskeidenheid plantegroei oor meer as 18 000 hektaar. Besoekers kan uitsien na talle aktiwiteite soos perdry, kwadfiets en wildritte.

Dit is ’n gewilde troubestemming in die streek.

Meer inligting by thurulodge.co.za.

4 Good Hope-reservaat

Dié reservaat is by Barkly-Wes en sowat 40 minute buite Kimberley geleë en bied luukse verblyf en wildritte.

Die lodge met baksteenmure en grasdak smelt in by die pragtige natuurskoon; dit het skouspelagtige uitsigte van die kranse, klowe en poele in die gebied. Die chalets sit op ’n krans en het manjifieke uitsigte oor die Vaalrivier.

Sien meer inligting by goodhopereserve.co.za.

5 Imbasa-Safari

Hierdie reservaat is sowat 70 km suidwes van Kimberley geleë en bied eksklusiewe verblyf vir tot 14 volwassenes in dubbelkamers.

Dit bied wildritte in die nabygeleë Mokala, en het ’n luukse spa met ’n sauna.

Meer inligting by imbasasafari.com.

6 Rooipoort

Rooipoort is in 1893 gevestig. Dit is 50 km buite Kimberley geleë, en is een van die oudste bewaringsgebiede in Suid-Afrika.

Dié reservaat spog met uiteenlopende soorte vlaktewild en drie van Suider-Afrika se belangrikste ekologiese stelsels. Rooipoort het 32 kilometer se rivierhabitat, wat nie net die wild ondersteun nie, maar ook volop voëllewe.

Sien meer by imbasasafari.com.

7 Mattanu-reservaat

Met luukse vierster-tentverblyf, en wildbesigtiging vanuit ’n helikopter of vanaf ’n vierwielmotorfiets, is Mattanu ’n een-maal-in-’n-leeftyd belewenis.

Besoekers kan oorslaap in een van vyf luukse safari-tente (met volledige en suite-badkamer, binnenshuise storte en lugversorging met ondervloerse verhitting), elk met ’n privaat dek wat oor ’n watergat uitkyk.

Die tweeslaapkamer-en-suite houthuisie, met volledig toegeruste kombuis en sitkamer, is baie gewild; kyk ook oor die watergat uit terwyl jy in jou jacuzzi op die stoep sit.

Besoek mattanu.com vir ingligting.

8 Wag-’n-Bietjie Bush Lodge

Skaars 55 km buite Kimberley wag hierdie luukse lodge in ’n rustige en ontspannende atmosfeer. Dit is die perfekte plek om jou batterye te herlaai as jy tussen Johannesburg en Kaapstad reis. Dit is ook goed geleë vir sakereisigers wat in die Kimberley-omgewing kom besigheid doen.

Sien wagnbietjielodge.co.za.

9 Karreekloof Safari Lodge

Hierdie is ook ’n goeie opsie as jy ’n oorslaapplek tussen Kaapstad en Johannesburg soek, maar rek maar jou kuier ’n bietjie uit. Hierdie asemrowende wildreservaat het ’n ryk geskiedenis en is toegewyd tot etiese bewaringsbeginsels. Hier is stylvolle verblyf beskikbaar: sewe en suite-kamers, een selfsorgeenheid, en eenhede met onderskeidelik twee en drie slaapkamers elk. Hier is ook ’n landingstrook, wat beteken gaste kan direk van enige lughawe af hier aankom.

Meer inligting by karreekloofsafarilodge.co.za.

10 Nyara Lodge

Wintershoek Safaris, wat vyf luukse jaglodges besit en bestuur, het onlangs hierdie jagplaas van 12 000 hektaar bekom. Dit is slegs 30 minute buite Kimberley. Nyara Lodge is in savanna-bosveld geleë en die omgewing is skouspelagtig. By hierdie vyfsterlodge kan jy luukses uit die boonste rak verwag. Hier is sowat 600 buffels en verskeie ander wildspesies. Met sy luukse verblyf sal daar in elkeen van jou behoeftes voorsien word.

Sien meer oor die lodge by wintershoeksafaris.com.