
Dink byvoorbeeld aan die sowat 3 miljoen Europese swaels wat elke jaar tussen November en April toesak op Mount Moreland, KwaZulu-Natal, en weer ná die warmer maande koers kies noorde toe. Daar is een of twee skaars voëlspesies wat van koers af gewaai word en op ’n ander, haas onvoorspelbare plek opdaag. Hierdie voëls word swerwers genoem.
Maar die voorspelbare bewegings word ’n migrasie genoem. Net só pak soogdiere, visse, insekte en baie ander diere ook jaarlikse migrasies aan op soek na kos en ander hulpbronne.
Elke jaar omskep die somerreëns die Makgadikgadipanne se woestynagtige landskap in goeie weigrond, en stroom diere van die Okavangodelta en ander noordelike dele na dié gebied.
Sekerlik die mooiste en mees sigbare van dié migrasies is die jaarlikse sebramigrasie. (As dit by getalle kom, hou die migrasie glad nie kers vas by die groot wildebeesmigrasie van die Serengeti- nasionale park in Tanzanië na die Maasai Mara-reservaat in Kenia nie – daar trek meer as ’n miljoen wildebeeste!)
Van vroegsomer af beweeg diere in klein groepe na die gebied en teen Maart bereik die migrasie ’n hoogtepunt. Die ontsaglike landskap sluk maklik duisende diere in. As jy in die middel van ’n trop sit wat oor die landskap versprei is, tel jy gou tot in die duisende.
Dis nie net sebras wat hiernatoe kom nie. Groot getalle voëls trek ook jaarliks hierheen, onder meer kleinflaminke. Hierdie voëls vreet die bakterieë wat in die vlak seisoenale vleiland voorkom. Sua-pan, die laagste deel van die Makgadikgadigebied is een van net vier opgetekende kleinflaminkbroeiplekke in Afrika. Die gebied speel dus ’n groot rol in die bewaring van dié voëls.
Met soveel wildlewe is dit g’n wonder duisende toeriste “migreer” ook elke somer hierheen nie.