Mobi Lodge se aanleg is in Middelburg, Mpumalanga, en dit is hier waar die meeste van sy waens tans gediens word. (Hulle het ook ’n mobiele eenheid wat deur die land reis om klante se waens te diens.)
Volgens die eienaar, Marius Ras, sal die diensgeriewe as ’n afsonderlike entiteit sake doen en deur private eienaars besit word. Mobi Lodge se woonwaens word elke 7 500 km of jaarliks gediens, en as ’n mens die sommetjies maak (die aantal waens wat al verkoop is en die beskikbare werkdae), diens hulle meer as drie waens per dag.
’n Diens sluit in waterpypdruktoetse, skoonmaak van pype, ’n stofdigtheidstoets en die gewone versiening van wiellaers en remme. Boonop het Marius-hulle nou ook ’n tassie met noodtoerusting saamgestel vir hulle waens: Hierin kry jy onder meer wiellaers, twee U-boute, drie wielmoere, ’n stel handskoene en handewasmiddel. Die tassie kos R950.