’n Luiperd is dalk jou buurman…

akkreditasie
Buiten leeus, wat in troppe bly en jagluiperds, wat kleiner mannetjiesgroepies van twee of drie broers vorm, het die meeste katte soortgelyke alleenloper- sosiale stelsels, waar mannetjies en wyfies elk afsonderlike gebiede het wat gemerk en verdedig word. Luiperds is ’n goeie voorbeeld hiervan. Ons ‘Veldfeite’-man Albie bespreek dié mooi dier se gedragspatrone.

In die algemeen het mannetjies groter gebiede wat met dié van wyfies oorvleuel. Hulle is gewoonlik alleenlopend en al wanneer meer as een van dié diere bymekaar gesien word, is wanneer ’n wyfie by haar kleintjies is, of om te paar.

Sodra hulle klaar gepaar het, gaan die mannetjie weg en moet die wyfie alleen die werpsel grootmaak.

Sy is vir sowat drie maande dragtig, waarna een tot drie welpies gebore word. Dis die moeilikste tyd vir die werpsel. Hoewel die wyfie hulle wegsteek in lêplekke wat goed gekamoefleer is, soos in grotte of ou erdvarkgate, is die kans altyd daar dat enigiets van hiënas tot luislange die kleintjies kan kry en hulle doodmaak.

Die vrektesyfer onder welpies is nogal hoog en dis nie lekker om te sien nie – veral nie as ’n mens hulle vordering sedert geboorte dophou nie.

Luiperds is bekend daarvoor dat hulle taai en besonder aanpasbaar is in ’n habitat waar mense ook woon. Hulle kan by ’n groot verskeidenheid habitats aanpas – van tropiese woude tot hoë berge en selfs halfwoestynagtige gebiede.

In Indië is daar byvoorbeeld ook halfstedelike bevolkings wat aan die buitewyke van die laaste woude langs groot stede soos Mumbai bly. Dié luiperds maak jag op wilde honde en vee in die gebied.

Ook in Afrika sien mense van tyd tot tyd luiperds in die gebiede wat grens aan groot sentra soos Pretoria en Nairobi.

Die beste voorbeeld van hoe luiperds dit regkry om vir mense-oë weg te kruip is in die Hoedspruit Wildlife Estate in Limpopo. Dis eers toe iemand met ’n belangstelling in luiperds soontoe getrek het en begin het om die luiperds met strikkameras dop te hou dat die verskillende luiperds op die landgoed geïdentifiseer is.