Ek het op ’n plaas naby Estcourt in KwaZulu-Natal grootgeword, maar ’n ander rigting as my ouers ingeslaan toe ek besluit het om bestuursrekeningkunde aan Universiteit van Stellenbosch te studeer.
In 2000 het ek Londen toe getrek en as aandelemakelaar by Goldman Sachs begin werk. Vier jaar lank was dit net stres, stres, stres... maar nadat ek The Omnivore’s Dilemma deur Michael Pollan gelees het, het ek ’n kopskuif gemaak. Die boek gaan oor die gevolge van ons koskeuses op die omgewing.
Ek het baie geleer van Joel Salatin, ’n boer van Polyface Farms in die VSA. Ek het besluit om ook volgens vernuwende beginsels te boer en kosproduksie tuis te verander.