book-icon Uitgawe Maart 2019

Ons gesels met: Hennie Bester

akkreditasie
Hennie Bester
Hennie Bester
Op 11 Januarie 2019 het Hennie Bester, eienaar van ’n ingenieursonderneming in Buffelspoort, Rustenburg, tot in die vlak water op Bloubergstrand gestap. Dit was egter nie net ’n rustige strandwandeling nie; dit was die einde van ’n 1 528 km lange reis.

Hennie het destyds al die pad van Rustenburg af tot in Kaapstad gestap!

Waar het jy aan dié idee gekom?

Ek is nog altyd lief vir die buitelewe én uitdagings. Ek het onder meer al die Comrades gedoen (een keer was genoeg!) en vyf keer die Argus-fietswedren gery. Ons gesin is lief vir fietsry en doen dit graag saam. Ek en my vrou, Clara, het byvoorbeeld al ’n vyfdagtoer deur die Marico-omgewing gedoen, waar ons in tente geslaap en alles op die fietse vervoer het.

Ek wou al lankal iets ongewoons doen en het dit eers oorweeg om van ons huis op Buffelspoort af Kaapstad toe fiets te ry. Ek het dié idee laat vaar omdat ek dink dis dalk te gevaarlik om fiets te ry op ons openbare paaie. Toe begin ek stap oorweeg, en dié idee wou my nie los nie.

Hoe het jy jou roete beplan?

Ek het eerstens gekyk na die afstand wat ek elke dag sou moes aflê om die reis binne ongeveer 50 dae te voltooi.

Toe ek tevrede was dat ek 30 km per dag sou kon stap, het ek die padkaart gevat en na ’n roete begin kyk. Ek wou glad nie op hoofroetes loop nie, maar eerder daar waar ’n mens nie gewoonlik langs sou ry Kaap toe nie, en verkieslik op grondpaaie.

Het jy vooraf geoefen?

’n Paar dae nadat die idee my beetgepak het, het ek ’n 30 km-roete aangepak. Ná 27 km moes ek vir Clara bel om my te kom haal – ek was gaar! Ek het besef meer oefening gaan nodig wees en het met ’n plan begin werk: Dinsdae en Donderdae het ek 10 km gaan stap, en dan Sondae 30 km. Die Sondagroetes was pynlik, veral omdat ek nie ’n groot verskeidenheid roetes gestap het nie; later het ek al geweet hoe ek gaan voel nog lank voor ek op daai spesifieke plek kom.

Ek het besef meer oefening gaan nodig wees en het met ’n plan begin werk...

Hoe het die reis gewerk?

Ek en Clara het met ons 4x4-woonwa gekamp. Ons sou ’n slaapplek kies en ’n paar dae daar bly – soms in kampterreine, soms langs die pad. Sy het my aan die einde van die dag kom oplaai en ek het die ligging op WhatsApp gestoor sodat ek die volgende dag weer op dieselfde plek kon begin stap. Sy het my dan soggens weer gaan aflaai.

Ek het om 4.15 vm. begin en het gewoonlik die 30 km in sowat 6 uur gestap. Ek wou graag teen 11 vm. klaar wees, om die ergste hitte te vermy én om in die middae te rus.

Ek het meestal drie dae agtereenvolgens gestap en dan het ons ’n dag lank kamp opgeslaan en na die volgende blyplek getrek.

Ons plan was om ook op plase te oornag, maar die meeste boere noord van Kimberley wou my nie inlaat nie, en in die Karoo was die meeste plase leeg. Dan het ons soms langs die pad geslaap. Waar daar wel boere was, het hulle ons altyd hartlik verwelkom.

Wat was die moeilikste deel van die reis?

Tussen Douglas en Strydenburg het ek my een hak heeltemal velaf gestap. Ek het gou besef dit moet eers herstel voordat ek weer kan stap. Ná drie dae se rus het ek met plakkies begin stap, maar 21 km later kon my voete dit ook nie meer vat nie, en moes Clara my kom haal. Ek het die volgende dag weer probeer, maar 16 km later was my tone vol blase en moes ek weer halt roep.

Ná nog twee rusdae het ek begin met ’n paar stewels waarin ek ’n gat gesny het op die hak. Dit het gehelp totdat my hakke weer gesond was en ek my tekkies kon aantrek – ek het só geloop tot tussen Fraserburg en Sutherland.

Wat het jou langs die pad verras? Ek het die hele 1 528 km geloop sonder dat ek moeilikheid van enigeen gekry het. My enigste teëspoed in dié verband was ’n man in Wolmaransstad wat my nie wou toelaat om die toilet te gebruik nie omdat ek nie R2 by my gehad het nie!

Verder het soveel mense langs die pad by my stilgehou en gesels dat ek weer eens besef het ons land is vol goeie mense.

Dit was ook verrassend om te sien hoeveel leë plase daar is – ek sou nie geraai het dat die platteland al so ontvolk het nie.

Wat is jou raad vir iemand wat ook so ’n avontuur wil aanpak?

Moenie opgee nie; vir elke uitdaging is daar ’n uitweg.

Wat is volgende – beplan jy nog so ’n reis?

Ek wil graag Kilimandjaro klim, maar vir my gaan dit meer oor die reis soontoe. Ek kan met ’n vliegtuig soontoe gaan en die berg klim, maar ek wil minstens ’n jaar vat om soontoe en terug te reis. Ons wil deur tien lande reis voordat ons klim – tyd by die groot mere deurbring en soveel reservate as moontlik besoek.

Vir ’n ontspannende vakansie... gaan ons graag bos toe, na Botswana en Zambië se wilde kampplekke. Clara geniet voëlkyk en fotografie en ek hou my besig met bome of vang vis.

Groot getalle

1 969 995: Die aantal treë wat Hennie gegee het.

1 528 km: Die afstand wat Hennie gestap het.

52: Die aantal stapdae, uit die 89 dae wat Hennie en Clara op die pad was.

2: Die aantal honde wat saam gereis het – die Besters se yorkshireterriër, Muskiet, en Toffie, ’n jack russell. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #173 (Maart 2019) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook