
Foto’s Kyle Kock
Hier teen die stertkant van 2018 het ons van die gewildste brikette en houtskool getoets om te sien watter een ’n stuk steak die beste braai. Wat ons ook met dié toets geleer het, is dat daar mense is wat volstrek weier om met ’n sak vol swart goed te braai. (Ek is een van hulle. – Red.)
Daarom het ons onlangs ons Facebook-vriende gevra om te sê watter soort hout hulle verkies wanneer hulle kamp. Ons het die nege gewildste keuses in die hande gekry en ’n naweek lank vuurgemaak. Hier volg ons bevindings.
Só het ons die hout getoets
Jare gelede het WegRy ’n soortgelyke toets gedoen en ons het die grondslag wat destyds gebruik is, ook hier ingespan. Dié slag het ons egter nie iets gebraai nie, maar met ’n lasertermometer hittelesings van die individuele vure geneem.
Ons het die termometer 1½ m van die kole of vlamme af gehou. Ons het ’n elektroniese skaal gebruik om presies 5 kg hout te kry, en waar nodig die stukke met ’n byl gekap tot hulle ewe groot is.
Ons het ook dieselfde vuuraanstekers in dieselfde grootte en twee dun strokies dennehout vir fynhoutjies gebruik om die vuur aan te steek.
Ons het die hout in ’n tipi gepak en dan dopgehou hoe lank dit vat voor elke stomp brand en hoeveel rook dit deur die loop van toets maak.
Die gradering en lesings
Dit klink dalk subjektief, maar ons het gekyk hoe lank dit vat vir elke stomp in die stapel om aan die brand te raak en ook in ag geneem hoe lank dit die laaste een gevat het om kole te vorm voor ons dit ’n gradering uit 10 gegee het.
’n Tien beteken die vuur het maklik gebrand, en ’n een beteken jy kon net sowel ’n hand vol riviermodder aan die brand probeer steek.
Hoe minder rook die vuur veroorsaak het, hoe hoër was ons gradering.
Wat die hittelesings betref, het ons die eerste een geneem toe die vuur ordentlik gevat het. Ons het dan gewag tot die kole klaar gevorm het en daarna vir 1½ uur elke halfuur die hitte getoets.
Swartwattel
Dié boom kom uit Australië en word plaaslik as indringerplant beskou. Daarom is dit so wyd beskikbaar as vuurhout in Suider-Afrika. Die bas is kenmerkend met sy vaal kolle en die hout is lig van kleur en kloof maklik wanneer jy hom met ’n byl kap.
Dis nie die maklikste hout om aan die brand te kry nie en dit maak ook baie rook. Maar die kole hou hulle hitte goed vergeleke met ander houtsoorte.
Brandgradering: 5/10
Rookgradering: 5/10
Tyd tot kole: 1 uur 2 minute
Lesing 1: (al die stompe brand) 670 ºC
Lesing 2: (kole) 689 ºC
Lesing 3: (15 minute ná kole) 665 ºC
Lesing 4: (30 minute ná kole) 618 ºC
Lesing 5: (1 uur ná kole) 597 ºC
Lesing 6: (90 minute ná kole) 562 ºC
Gemiddeld: 634 ºC >
Bloekomhout
Hier het ons met nog ’n buitelander te doen. Dit ruik nogal lekker wanneer jy hom brand, en oor die algemeen het hy nie te sleg gevaar nie. Trouens, hy het van die gewilder houtsoorte op hulle neus laat kyk.
Dit maak die minste rook, maar ons moes nogal stook om dit aan die gang te kry. Uiteindelik moes ons nog ’n vuuraansteker onder die hout druk.
Brandgradering: 5/10
Rookgradering: 7/10
Tyd tot kole: 51 minute
Lesing 1: (al die stompe brand) 791 ºC
Lesing 2: (kole) 834 ºC
Lesing 3: (15 minute ná kole) 699 ºC
Lesing 4: (30 minute ná kole) 640 ºC
Lesing 5: (1 uur ná kole) 562 ºC
Lesing 6: (90 minute ná kole) 551 ºC
Gemiddeld: 679 ºC
Rooikrans
Rooikrans is nog ’n algemene indringerspesie in die Kaap wat, in ’n verrassende wending, óók van Australië afkomstig is. Dis ’n gewilde braaihout, maar die algemeenste klagte is dat dit nat is. Koop dit eerder in groot maat en laat dit vir ’n klompie maande staan.
Ons kon sommer hoor die hout wat ons vir die toets gebruik het, was nie goed droog nie, maar dit het nietemin vir goeie hitte gesorg en nie te veel rook gemaak nie.
Brandgradering: 7/10
Rookgradering: 6/10
Tyd tot kole: 47 minute
Lesing 1: (al die stompe brand) 717 ºC
Lesing 2: (kole) 750 ºC
Lesing 3: (15 minute ná kole) 759 ºC
Lesing 4: (30 minute ná kole) 676 ºC
Lesing 5: (1 uur ná kole) 655 ºC
Lesing 6: (90 minute ná kole) 574 ºC
Gemiddeld: 688 ºC >
Port Jackson
Nog ’n berugte hout wat van Doer Onder afkomstig is – en nié een van die gunstelinge op Facebook nie. Maar ’n klompie mense het daarna verwys en ons het besluit om dit as ’n buiteperd te toets.
Hier is ’n ooraanbod van hierdie indringerspesie in die Kaap beskikbaar; dus kan jy na hartelus braai. Dit is nie moeilik om aan die brand te steek nie, maar maak heelwat rook. Dit lewer egter ’n skaflike gemiddelde hitte om jou vleis te braai.
Brandgradering: 6/10
Rookgradering: 4/10
Tyd tot kole: 41 minute
Lesing 1: (al die stompe brand) 739 ºC
Lesing 2: (kole) 735 ºC
Lesing 3: (15 minute ná kole) 688 ºC
Lesing 4: (30 minute ná kole) 674 ºC
Lesing 5: (1 uur ná kole) 633 ºC
Lesing 6: (90 minute ná kole) 562 ºC
Gemiddeld: 671 ºC
Wingerdstompies
Dié hout met sy kenmerkende vorm is redelik lig en daarom lyk ’n stapel van 5 kg na heelwat meer as wat dit is. Omdat die hout so lig is, brand dit maklik deur. Jy het dus heelwat hout nodig vir ’n ordentlike vuur.
Die hout steek maklik aan die brand en sorg vir ’n hoë aanvanklike temperatuur wat dan bestendig kouer raak.
Ons beveel aan jy bou van die begin af ’n groot vuur om die beste van die saak te maak. Dit maak nie baie rook nie en die kole is binne minder as 40 minute gereed.
Brandgradering: 7/10
Rookgradering: 6/10
Tyd tot kole: 38 minute
Lesing 1: (al die stompe brand) 667 ºC
Lesing 2: (kole) 784 ºC
Lesing 3: (15 minute ná kole) 707 ºC
Lesing 4: (30 minute ná kole) 691 ºC
Lesing 5: (1 uur ná kole) 647 ºC
Lesing 6: (90 minute ná kole) 601 ºC Gemiddeld 682 ºC
Mopanie
Hierdie een het heelwat lof gekry op sosiale media en was een van die groot verrassings van ons toets. Dis ’n harde hout wat homself teen peste soos termiete moet beskerm en daarom is dit nogal moeilik om ’n stomp met ’n byl oop te kloof.
Die sak wat ons gekoop het, het gelukkig groot én klein stukke gehad, en toe die kole later vorm, was ons sommer behoorlik beïndruk.
Brandgradering: 6/10
Rookgradering: 6/10
Tyd tot kole: 1 uur 48 minute
Lesing 1: (al die stompe brand) 741 ºC
Lesing 2: (kole) 734 ºC
Lesing 3: (15 minute ná kole) 695 ºC
Lesing 4: (30 minute ná kole) 681 ºC
Lesing 5: (1 uur ná kole) 676 ºC
Lesing 6: (90 minute ná kole) 628 ºC
Gemiddeld: 692 ºC
Mirtehout
Die bas van mirtehout skilfer af en sorg dan vir dun, droë strokies wat help om die hout maklik te laat vlam vat. Wanneer die hout egter wel aan die brand is, is daar konstante rook tót die laaste stomp uitgebrand is.
Die hout is ook baie lig, wat beteken jy het ’n groot stapel nodig vir ’n ordentlike kampvuur.
Brandgradering: 8/10
Rookgradering: 4/10
Tyd tot kole: 40 minute
Lesing 1: (al die stompe brand) 778 ºC
Lesing 2: (kole) 709 ºC
Lesing 3: (15 minute ná kole) 652 ºC
Lesing 4: (30 minute ná kole) 631 ºC
Lesing 5: (1 uur ná kole) 588 ºC
Lesing 6: (90 minute ná kole) 506 ºC
Gemiddeld: 644 ºC
Sekelbos
Hierdie was ongetwyfeld die gunsteling onder ons Facebook-vriende en is ook in WegRy se toets as kampioen gekroon.
Dis betreklik maklik om aan die brand te steek en sorg vir ’n aangename reuk. Maar wat eintlik in sekelbos se guns tel, is die feit dat dit min rook maak en hitte die beste van die lot behou. Dis g’n wonder hy het laas koning gekraai nie.
Dis nie inheems in ons deel van die wêreld nie; dus kan jy sonder skuldgevoel braai.
Brandgradering: 6/10
Rookgradering: 7/10
Tyd tot kole: 42 minute
Lesing 1: (al die stompe brand) 787 ºC
Lesing 2: (kole) 768 ºC
Lesing 3: (15 minute ná kole) 722 ºC
Lesing 4: (30 minute ná kole) 676 ºC
Lesing 5: (1 uur ná kole) 613 ºC
Lesing 6: (90 minute ná kole) 607 ºC
Gemiddeld: 695 ºC
Kameeldoring
Kameeldoring is so te sê oral in Suider-Afrika te kry en is ’n gewilde keuse vir braai- en kampvure. Ons stapel het nogal aanmoediging nodig gehad om aan die brand te raak, maar as hy eers gevat het, is daar min vir jou om te doen... behalwe om elke dan en wan nog ’n stompie op te gooi om die besigheid aan die gang te hou.
Die hout is nogal droog, maar as jy ’n sak met dik stukke kry, is dit raadsaam om dit eerder in kleiner stukkies te kap.
Brandgradering: 5/10
Rookgradering: 6/10
Tyd tot kole: 1 uur 5 minute
Lesing 1: (al die stompe brand) 767 ºC
Lesing 2: (kole) 709 ºC
Lesing 3: (15 minute ná kole) 681 ºC
Lesing 4: (30 minute ná kole) 618 ºC
Lesing 5: (1 uur ná kole) 602 ºC
Lesing 6: (90 minute ná kole) 583 ºC
Gemiddeld: 660 ºC